Marguerite van Wyk het Tickey van Wyk (35), van Boer Soek 'n Vrou-faam, in Checkers op Beaufort-Wes opgespoor, besig om inkopies te doen saam met sy vrou, Selme-Louise (28), nadat hulle onlangs teruggekeer het van hul wittebrood in Turkye

Volgens hom is die koskaste leeg en hy is weer lus vir lekker kosmaak.

Waar presies was julle in Turkye?

Twee dae in Istanboel en toe in Antalya, aan die Mediterreense kus.

Hoe was die wittebrood?

Verskriklik lekker. Ongelooflik. Dit reën mos nie nou daar nie. Elke dag is soos die vorige. Droog en warm.

Wat was die heel lekkerste van die wittebrood?
Buiten my vrou, was daar 'n klómp heerlike aspekte. Die Turkse kos! Ons het baie tyd by die sjefs agter in die restaurante in die kombuis deurgebring om te sien hoe hulle die skaapvleis gaarmaak. Vir 'n skaapboer van Loxton is dit nogal 'n ervaring. Istanboel was ook 'n belewenis. Daar woon 20 miljoen mense. En dis 'n ongelooflike mooi stad. Maar ek hou nie baie van 'n Turk nie. Hulle pla jou. En hulle los nie jou vrou uit nie. Dit irriteer jou ook dat almal jou by hulle restaurante probeer inlok. En hulle trek jou aanhoudend aan die arm.

Watter ander lekker dinge het julle daar beleef?

White-water rafting in die Turkse berggebiede saam met sowat tien mense van verskillende nasionaliteite wat almal dink hulle is die beste roeiers. Pole, Russe, Duitsers . . . ons. Elke ou roei op sy manier. Dan val die ding om en dis 'n chaos. Dis nogal gevaarlik. Ek het voor op die neus gesit en Selme-Louise agterop.

Is julle nog nét so lief vir mekaar soos met die troue op 20 Junie in Nelspruit?

Nóg meer. Ons begin mekaar nou eers goed ken en raak net beter vriende. Ons groei elke dag meer op mekaar. Dis fantasties. Dis lekker om nie alleen dorp toe te ry nie. Ons het vandag sommer so skelm nege putjies gholf gaan speel. Selme-Louise se pa is 'n goeie gholfspeler. Ek het nou eers begin speel.

Wat was die eerste ding wat julle gedoen het toe julle teruggekom het?
Ons is op die lughawe deur vriende verwelkom en het toe eers in Pretoria gaan braai en 'n lekker Black Label gedrink.

En wat lê voor vir die res van die jaar?

Vanaand kom 21 jagters by my aan. Nou is dit net skouer aan die wiel met die boerdery. Ons het die ou huis reggemaak. Selme-Louise gaan die ou boekhoustelsel oorneem en 'n paar dinge verbeter. Hier is baie werk vir haar. Ons wil mekaar net nóg beter leer ken. Ons wil vir seker kinders hê, as ons so geseënd is.

Julle kan seker nie op straat verskyn sonder dat die mense julle bydam vir handtekeninge nie?

Nee man, ek is net 'n skaapboer en sy is net 'n juffrou. Mense groet jou en so hier en daar wil iemand hê ons moet vir foto’s poseer. Met die nuwe Boer soek 'n vrou sal ons op die agtergond skuif.

Hoe voel dit, noudat julle uiteindelik ware liefde gevind het, was dit die moeite werd om te wag?
Beslis. Niks is gewaarborg nie. As ek vroeër getrou het, dink ek dit sou 'n fout gewees het. Ek dink die wenbestanddele van ons huwelik, hoewel ons nou nog nie eens 'n maand lank getroud is nie, is dat dit help dat ons van dieselfde agtergrond kom. Ons is groot Christene en ken die boerderybedryf, en albei het ook al 'n bietjie swaar gekry. En hier waar ons bly, gaan jy net so een keer elke twee weke dorp toe om pos te kry. Dis nie altyd so maklik vir 'n vrou nie.