Sy's nou al amper nege jaar lank Hilda. Hulle het goeie vriende geraak, sy en die vroutjie met die serpies in 7de Laan, maar as Annelisa Weiland by die ateljee uitstap en die Deli-baadjie ophang, bly Hilda daar agter. Mense wat haar ken, dink Annelisa is ’n bietjie boheems.

Sy stel baie belang in astrologie, reïnkarnasie en evolusie. Jy kan haar maklik miskyk as jy op straat verby haar stap - met haar boheemse klerestyl en wilde bos hare sal jy mooi moet oplet voor jy iets van Hilda in haar raaksien. Soms is dit eers ná ’n dag van twaalf uur dat sy haar rottweiler, Seun, by sy “dagma”, Rosa Keet, gaan oplaai. Seun en Rosa se hond, Sussie, is elke aand rasend bly as hulle Annelisa se motor hoor. Dís onvoorwaardelike liefde en kameraadskap, sê sy.

Persoonlik het sy al twee groot liefdes gehad, maar nooit getrou nie. Hilda en Oubaas, Pierre van Pletzen se karakter, se kameraadskap en spesiale band is vir haar mooi.

Irriteer Hilda jou nie soms nie?
’n Mens mag nie die karakter wat jy speel, oordeel nie, of sy nou moordenaar of engel is. Dis soos sy is.

Sy en Oubaas is seker die gewildste karakters in 7de Laan?
Vir ’n sekere groep kykers, ja. Hilda en Oubaas is sweet en bied komiese afleiding. Hulle laat mense ontspan. Ons het hulle veral nodig in die tye waarin ons nou leef.

Hilda is die soort karakter wat mense sal wil druk?
Ja, hulle doen dit partykeer. Dit pla my nie, behalwe as dit met ’n papmondsoen gepaard gaan! Dís ’n bietjie te veel gevra. Maar meestal het mense respek vir jou privaatheid. Dis dalk net ’n vinnige drukkie en poseer vir ’n foto. Ek bly naby Melville en die mense hier is daaraan gewoond om my in die Spar te sien.

As jy saans huis toe gaan en by jou deur instap, wie is Annelisa?
Sy’s moeg. Dis ’n baie veeleisende werk. Ek hardloop tussen 7de Laan se twee ateljees rond. Soggens staan ek kwart oor vyf op en ek kom saans tussen ses- en agtuur by die huis.

Waar pas jou gewone lewe in?
Soms glip ek tussen tonele uit gimnasium toe.

Wat doen jy om te ontspan?
Ek drink wyn. (Sy giggel lekker.) In die week kan ek niks anders doen as werk nie. Naweke is vir my kosbaar. As ek kan, kuier ek saam met vriende.

En dan is daar jou hond?
Seun is nou nege jaar oud en ek vermoed hy weeg meer as ek. Ná my ander twee honde se dood is hy die enigste “kind”. Hy’s groot vriende met my vriendin Rosa Keet (opdraggewende redakteur by die SAUK) se hond Sussie.

Ek staan elke oggend ekstra vroeg op sodat ek hom na Rosa se huis kan neem en hy met Sussie kan speel. Sy’s ’n kruising tussen ’n bulterriër en ’n Amerikaanse veghond, een bondel spiere. Honde gee onvoorwaardelik liefde en hulle groet my saans met oorgawe. Seun is ’n groot, butch hond, maar hy kan aanvoel as ek happy of sad is. Hy’s ook vreeslik bederf en het ’n eie verwarmer en sybokhaar-kombersie om hom warm te hou.

Jy woon nou alleen, sonder huismaats?
Ek het ’n stadium bereik waar ek op my eie wil wees.

Jou huis het ’n storie?
Dis die produk van ’n verbintenis sedert my kinderjare. My ouers was vriende met ’n Switserse egpaar en ons was bure in Durbanville in Kaapstad. Hulle is terug Switserland toe met die Sharpeville-skietery, maar ek en hul dogter, Helen, het kontak behou. Helen is baie lief vir Suid-Afrika en het deur die jare gereeld kom kuier.

Sy het in ’n stadium tydens haar studies by my ouers gewoon en ons was soos susters. Toe ek onlangs besluit om my eie plek te koop het Helen aangebied om die helfte van die huis te koop sodat sy blyplek het as sy Suid-Afrika besoek. Dis ’n tipiese Melville-huisie met plankvloere en pressed ceilings. Ons het baie verbou en onder meer ’n kaggel en ’n swembad ingesit. My broer, Ewald, is ’n bouer en het met ’n hele bouspan uit die Kaap gevlieg om te kom help.

Gunstelinge

AKTEUR & AKTRISE: Ek glo nie daaraan om bestes uit te sonder nie
FLIEK: La Vie en Rose
GOUE OOMBLIK: As Seun en Sussie my saans verwelkom
GROOT WENS: Om eendag ’n eenvrou-vertoning te doen
GROOT VREES: Om eendag bedlêend te word
VAKANSIEPLEK: Griekeland
JOU HAWE: My huis
BOEK: Ek stel belang in astrologie
SWAKSTE EIENSKAP: Ongeduld in die verkeer
BESTE EIENSKAP: Ek is oukei met myself

Leef jou ouers nog?
My pa, ook Ewald, is onlangs op 98 oorlede. My ma, Stienie, is al in 1996 oorlede. My broer is vier jaar jonger as ek en ek is baie geheg aan hom en sy vrou, Michelle.

Hoe lank wil jy nog Hilda speel? Is sy jou gemaksone?
As ’n mens jonk is, neem jy vinnig besluite. Ek het gereeld van mening verander en ook van boyfriends. Party besluite was reg. Ander verkeerd. Maar soos ’n mens ouer word, verander jou prioriteite. Ek weet ek moet nou vir myself sorg en kan nie bekostig om sommer van die een plek na die ander te spring nie. Dis seker nie vir ’n akteur ’n vreeslike uitdaging om jaar ná jaar dieselfde karakter te speel nie, maar min mense besef hoeveel uitdagings ’n sepie het. Akteurs kyk dalk uit ’n artistieke oogpunt op sepies neer, maar die lang ure en vinnige medium is uitdagend. Die vervaardigers van 7de Laan gee nie om as ’n mens tyd af wil hê om in ’n verhoogstuk te speel nie. As ek genoeg dryfkrag het, sal ek graag in nog ’n paar stukke wil speel. Dalk sal ek eendag weer lus wees vir ’n TV-dramareeks. Ek wil nie noodwendig die res van my lewe Hilda speel nie, maar ek wil ook nie sonder werk sit nie. Ek sal maar kyk wat die lewe vir my inhou.

Hoeveel jaar is jy nou in die bedryf?
Ek het al in professionele stukke opgetree toe ek aan die Universiteit van Kaapstad studeer het. Ná my dramagraad is ek ’n jaar lank oorsee voordat ek in 1973 by die destydse Truk aangestel is.

Wat het jy oorsee gaan doen?

My ouers kon dit nie eintlik bekostig nie, maar ek het hulle omgepraat om my Londen en Duitsland toe te stuur. Gelukkig was die rand toe nog sterk en kon ek ver met my geld kom. Ek het as kelnerin gewerk. In Suid-Afrika is dit ’n informele werk, dus was my ontnugtering groot toe ek daar kom en dit behels ingewikkelde opleiding. Ek het ook aanvanklik vreeslik met die suid-Duitse aksent gesukkel. My pa het van die noorde van Duitsland gekom en daar word Hoogduits gepraat. Die kelnerin-werk was senutergend en ek was ’n wrak. Ek het die moeilike en streng stelsel gehaat. Dit was ’n geskarrel en ek moes baie borde kos op my kort armpies probeer dra. Maar ek beskou die ervaring steeds as karakterbou.

Wat was daarna jou teaterhoogtepunte?
Hamlet met Robert Mohr as regisseur was een van my eerste professionele produksies nadat ek van Duitsland teruggekom het. Ek was Ophelia en Cobus Rossouw was Hamlet. Babs Laker was Gertrude. Ek was baie lief vir die groot klassieke werke wat die toets van die tyd deurstaan het. Die groot dramaturge was eintlik filosowe. Ek het groot bewondering vir Robert Mohr gehad. Hy was my mentor wat geweet het hoe my kop as aktrise werk. Hy het iets spesiaals in my raakgesien.  Maar ek het ook lekker gewerk saam met die regisseur Dieter Reible. Sy Titus Andronicus was ’n baanbreker-verhoogstuk omdat dit so gewelddadig was. Die bloed het op die verhoog gevloei en teatergangers het flou geword. Dit was 1969-’70 en die begin van skokteater. Ek was eintlik aan die stertdeel van die goue jare van Truk op die verhoog. Destyds was Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Wilna Snyman die groot name.

Watter hegte vriende het jy in jou jong teaterjare gemaak?
Babs Laker en mense soos Janice Honeyman, Maralin van Reenen, Bill Flynn en Paul Slabolepszy. Regisseur Stephan Bouwer het my my eerste TV-job gegee en was daarna ’n sielsgenoot. Ek het onlangs deur ’n klomp van my ou foto’s gekyk en was geskok toe ek besef hoe baie van my ou vriende is dood.

Jy was (is steeds, met die heruitsendings) die kinderkarakter Heidi se stem op TV. Onthou baie mense jou nog só?
Ek weet nie, mense verwys nie dikwels daarna nie.

Hoogtepunte aan die begindae van TV?
Ek kan nie die stuk se naam onthou waarin ek my TV-debuut gemaak het nie, maar van my gunstelinge was Liesbet slaap uit met Stephan as regisseur. Ons het dit nogal op location geskiet, wat toe ongewoon was. Daarna was die drama Die Koster vir my ’n hoogtepunt. Ons het ’n klomp pretreekse soos Drama Drama en Dokter Dokter saam met Stephan gedoen.

Was die regisseur Ken Leach nie een van jou kêrels nie?
Ons was sewe jaar saam en hy was een van my groot liefdes.

Wou jy met hom trou?
Ons het in ’n stadium oor trou gepraat, maar nooit daarby uitgekom nie. Dit was nie vir ons bestem nie. Nou is hy ’n gryskop en ek ’n halwe gryskop. Hy is een van Egoli se regisseurs.

Beny jy Hilda se huwelik met haar sielsgenoot?
Ek beny nie getroudes nie, maar so ’n hegte liefde is vir my verskriklik mooi. Ek glo aan reïnkarnasie en dat ’n mens nie alles in een leeftyd ingepas kan kry nie. Soms wonder ek hoekom dinge wat met ander gebeur het, nie met my gebeur nie . . . dalk in ’n ander leeftyd?

Het jy en Pierre van Pletzen (Oubaas) ’n spesiale band?
Ons verstaan en respekteer mekaar. Ons hoef net mekaar se oog te vang, dan weet ons waar ons in ’n toneel is.

Beskou jy jouself as ’n bevoorregte mens?
Ek het groot kanse gekry, ja, maar daar was ook ’n tyd toe ek gesukkel het om werk te kry en te oorleef. My lewe het ’n goeie grondslag gehad en ek het wonderlike ouers gehad. Hulle het die pad saam met my geloop, maak nie saak waar nie.

Gelukkige kinderjare?
Ek was ’n sieklike kind en ’n paar keer byna dood aan asma. Ek is vol kortisoon gepomp en ek glo dis hoekom ek nooit behoorlik gegroei en ontwikkel het nie. Ek het gesonder geword toe ons van Pinelands na Durbanville getrek het. Daar het ek en my broer ’n gelukkige lewe met ’n swembad, ’n koei en eendjies gehad. Ewald is seker vyf keer groter as ek. My ouers was ook nie een so klein nie.

Pla dit jou as mense so ’n ophef van jou klein figuur maak?
Soms, maar ek steur my nie veel daaraan nie. Dit pla my wel as ek by ’n vertoning is en ek kan nie sien nie of as mense per ongeluk op my trap!

Is jy spyt jy het nooit kinders gehad nie?
Nie eintlik nie - as ek kyk hoe ek met my hond werk. Ek is seker ek sou ’n goeie ma gewees het, maar ’n neurotiese een. Ek sou oorbeskermend gewees het. My ma het vertel sy sou ’n baba wou gehad het al het sy nie getrou nie, maar ek was nie so nie. Ek het nog nooit onvolledig gevoel sonder ’n kind nie. My broer en sy vrou het ook nie kinders nie.

Het jy nog drome?   
Ek sal my graag weer op teater wil toespits. Ek wil ook nog reis. Daar is baie plekke wat ek nog wil sien.

Uittree?
Rex Garner het tot in sy negentigs gewerk. Solank ek net my woorde kan onthou.

En as jy nie meer Hilda kan wees nie?
Dalk sal ek en Seun ’n sekerheidsmaatskappy begin.