Platteland begin binnekort in teaters draai. Waarna kan jou aanhangers uitsien?
Ek sien ongelooflik daarna uit om Platteland op die grootskerm te sien. Dit is regtig ’n hoëgehalte-fliek met ’n mooi storie en ek is seker kykers gaan baie daarvan hou.

Jy is tans ’n aanbieder van Toks n Tjops, geniet jy dit? Sal jy weer aanbiederswerk aanvaar?
Ja, ek geniet dit baie. Dit is heeltemal nuut en dit duur nogal ’n rukkie om daaraan gewoond te raak, veral met dié dat hulle heeltyd in jou oor praat terwyl jy regstreeks op TV praat... Maar ek sal dit vir seker weer doen.

Wat lees jy op die oomblik?
Ek is nie ’n groot leser nie, maar op die oomblik is ’n motiveringsboek van Joel Osteen langs my bed. Ek kan nie nou die titel onthou nie.

Wanneer kan ons ’n nuwe album van jou verwag?
My Kreet is nog taamlik vars, want dit het November 2010 die lig gesien. Ek toer nog met hom, en vroeg in volgende jaar sal ek seker weer aan ’n nuwe album begin werk.

Wat is jou gunsteling-maaltyd?
Ek is mal oor lekker kos, so dit is ’n baie moeilike vraag... Ek eet minstens een keer per week ’n lekker Indiese kerrie. Ons gaan gereeld Mosambiek toe, en al wat ek daar eet is vis en seekos. Maar ’n  matured rump-steak op die kole is ook enige tyd lekker!

Waarna sien jy uit by Aardklop?
Ek is baie lief vir Aardklop. Toe De La Rey net uitgekom het, het ek by Aardklop opgetree en dit was ’n groot draaipunt vir die sukses daarvan. Die mense daar was mal daaroor, so Potch het ’n spesiale plek in my hart.

Ek kon nou vir ’n paar jaar nie daar optree nie weens kontrakte en ander vertonings in dieselfde tyd, maar ek is baie opgewonde om terug te gaan.