Al dra hy bokshandskoene en kan hy iemand met ’n regterhaakhou moker, bly die bokser Chris van Heerden ’n gentleman. “My pa het my geleer hoe om ’n man te wees. My ma het my geleer wat dit verg om ’n gentleman te wees. As ek nie in die ring is nie, lig ek nie my vuiste op nie. You have to beat them with kindness.

Chris, wat grootgeword het in Meyerton, Gauteng, woon deesdae onder die Hollywood-teken in sonnige Los Angeles. In sy gimnasium het hy al skouers geskuur met sterre soos Bradley Cooper, Mark Wahlberg Jennifer Garner, Michael B Jordan, Tobey Maguire, Nick Jonas, John Goodman, Mario Lopez, Sylvester Stallone en Suid-Afrika se eie Oscar-wenner Charlize Theron – wat hy ook al afgerig het. “Charlize is ’n karakter,” skerts Chris, wat ook as “The Heat” bekend staan. En ja, die twee praat Afrikaans met mekaar.

Chris en Charlize Theron praat gereeld Afrikaans. FOTO Instagram / Chris van Heerden
Mark Wahlberg en Chris. FOTO Instagram / Chris van Heerden

Maar Hollywood is baie oppervlakkig. “Dis moeilik om opregte mense te vind,” erken Chris. Hy sonder wel Jennifer Garner uit. “Sy is die opregste en vriendelikste mens met die mooiste hart. Sy is ’n uitgeknipte ma en besorg.”

Een van sy beste vriende is die Oscar-wenner Sam Rockwell, wat in 2018 die toekenning vir beste manlike byspeler ontvang het vir sy rol in Three Billboards Outside Ebbing, Missouri. “Sam is ’n nice ou en talentvol.” Sy ander pêl is akteur Frank Grillo, bekend vir sy rolle in Captain America: Winter Soldier en Avengers: Endgame.

Hoe op aarde beland ’n Afrikaanse Rocky Balboa in Hollywood? Met bloed, sweet en baie trane, lag hy. Chris ken van hard werk – hy het immers grootgeword as een van 13 kinders. “Ons het nie goed op ’n skinkbord ontvang nie. As jy ’n fiets wou hê moes jy jou beurt afwag. Jy moes hard werk. Maar ons huis was altyd vol liefde.”

Jennifer Garner FOTO Instagram / Chris van Heerden
Chris saam met Amerikaanse akteur Michael B Jordan. FOTO Instagram / Chris van Heerden

Dit was sy pa, Daniel, wat hom die magic van boks geleer het. “Ek is vandag die man wat ek is as gevolg van my pa. Ja, hy het my leer boks. Maar oor lewe het hy my soveel meer geleer: Oor respek, liefde en harde werk.”

Daniel is in 2018 tragies deur ’n sekuriteitswag doodgeskiet. “My pa sal altyd een van my grootste helde wees.”

Hy bly lief vir Suid-Afrika, al het hy sy tasse in 2013 gepak om sy “American Dream” te gaan vind. “Dit sal altyd my land bly. As ek iets wen, wen ek dit vir my land.”

In 2015 wen hy ’n titelgeveg by die bekende Madison Square Garden in New York en word die eerste Suid-Afrikaner in 65 jaar wat iets by dié arena wen. Sy afrigter was die bekende Freddie Roach – een van die wêreld se bestes. “Ek sal dit nooit vergeet nie, ’n Meyerton-mannetjie wat voor groot skares gestaan het, dit was net magical.”

Chris saam met Oscar-benoemde Bradley Cooper. FOTO Instagram / Chris van Heerden

Ná al die jare hou boks hom steeds eerlik. “Jy kan nie lieg in die sport nie, jy kan niemand om die bos lei nie. Actions speak louder than words. Boks het my ook geleer om van ’n fight weg te loop.”

Na watter bokslegende kyk hy op? “Sugar Ray Leonard. Ek was bevoorreg om my idol te ontmoet – hy was so vriendelik.”