Bonnie en MXO, wat albei gisteraand uit Survivor gestem is, het met sarie.com gesels.

BONNIE:

Was jy geskok toe Letshego vir Hykie kies om saam met haar na die eindrondte te gaan?
Ek was voorbereid daarop. Sy het ’n paar keer by die tribal councils genoem dat sy strategies speel.

Letshego dink uit die aard van die saak jy sou groter kompetisie vir haar tydens die eindronde wees as Hykie. Dink jy ook so?

Ja. Ek dink nie die ander deelnemers het Hykie altyd so goed verstaan nie. Hulle het nie sy motiewe vertrou nie. Ek dink Letshego het aangeneem dat hy nie soveel ondersteuning van die jurie-lede gaan kry nie. Maar Letshego het nie ‘sosiale’ kanse gewaag nie. Sy het nie eintlik vriende gemaak nie. Dit kan teen haar tel.
 
Het jy ooit vir Letshego onderskat?
Nooit nie. Sy is gedrewe en sterk.

Baie deelnemers het al gesê dat jy en Hykie toneel gespeel het en dat julle nie opreg was nie. Hoe voel jy daaroor?
Survivor is uitmergelend. Dis onmoontlik om die heeltyd ’n front voor te hou. Om toneel te speel is werk. Jy moet dink hoekom die karakter optree soos hy optree, die karakter se geskiedenis... Mense wat nie akteurs is nie sê maklik ons het toneel gespeel. Dis nie so maklik nie. Dis harde werk.

Is dit moeiliker vir ’n vrou om aan Survivor deel te neem?

Sonder twyfel, veral oor ons menstruele siklusse. Dit het gevoel of ek die helfte van die tyd op die eiland teen my hormone baklei het. As jy so voel, is die uitdagings regtig uitmergelend.

Dit lyk of dit jou nie pla dat jy R1 miljoen verloor het nie?
Ek het aanvanklik nie gedink ek sou goed vaar in Survivor nie, maar soos ek verder en verder gevorder het, het my verwagtinge ook meer geword. Toe ek een van die top-drie-deelnemers was, was dit die naaste wat ek nog aan R1 miljoen gekom het. Maar ek het besef ek kan nie beheer wat met my gaan gebeur nie. Ek het besluit as ek nie die geld wen nie, moes ek tevrede wees met hoe die ervaring my lewe verander het. Dis hoekom ek oukei is daarmee dat ek nie die geld gewen het nie. Survivor is een van die mees belonende ervarings van my lewe.    

MXO

Hoe was dit vir jou op die eiland nadat Alison afgestem is? Sy was die laaste deelnemer met wie jy oor die weg gekom het.
Ek het daardie laaste dae vir die eerste keer emosie gewys en gehuil, maar dit was trane van blydskap omdat ek een van die top-vier-deelnemers was. Ek het Survivor met integriteit gespeel. Dis ’n onvoorspelbare speletjie en jy moet ’n renostervel hê om dit te kan doen. Ek sal dit nie weer doen nie!

Dit het nie gelyk asof jy vreeslik omgegee het oor wat die ander van jou gedink het nie. Jy’t dinge gevat soos dit kom.

Ek was erg omgekrap toe Simon en Alison afgestem is. Hulle was die mense wie ek vertrou het. Op die eiland het ek gevoel ek moet met ‘regte’ mense meng. Ek het beter met die plebs as met die celebs oor die weggekom. Die celebs is gewoond daaraan om toneel te speel. Ek het hulle nie vertrou nie.

Jy het die immunity-uitdaging net-net teen Bonnie verloor en jy is daarna uitgestem. Jy was seker teleurgesteld?
Terwyl ek aan die uitdaging deelgeneem het, het ek al begin feesvier. Ek het oorwinning in my are gevoel. Voor dit het ek nog nie een uitdaging gewen nie en ek wou met daardie uitdaging wys hoe sterk ek is. Toe wen Bonnie. My hart was gebreek.

Dink jy Hykie het Survivor goed gespeel?

Ek dink Hykie is ’n bietjie van ’n psigopaat. Ek dink hy het met tye toneel gespeel en ek dink dis hoekom hy so ver gekom het.

As jy iemand kon kies om saam met jou na die eindrondte te vat, wie sou dit wees?

Ek sou nie omgegee het om Letshego saam met my te vat nie.

Moenie die ‘Twietathon’ tussen Hykie Berg en Letshego Moshoeu misloop nie. Die twee deelnemers twiet vir die volgende week dat dit bars tydens hul toer oor die land heen. Volg Hykie by @hykieberg en Letshego by @letshegom. Volg ook @Survivor_SA vir al die aksie.