Vanjaar is hulle 7 jaar getroud. Die paartjie deel hul 7 lesse én gesels oor hul jongste album, Prediker, wat binnekort uitgereik word. Hulle deel ook eksklusiewe foto’s wat spesiaal deur Collected Pix geneem is vir hul splinternuwe album.

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

Sewe jaar en sewe lesse

Uit die pen van Esté en Lourens:

1. Kommunikeer baie en klok gereeld in bymekaar

Mense en omstandighede verander. Ervaringe verander mense se denkwyses. Selfs mense se passies en belangstellings ontwikkel en verander. ’n Mens hoor gereeld dat paartjies sê hulle word eendag wakker en hulle weet nie meer wie die persoon is met wie hulle getrou het nie.  As ’n mens op hoogte kan bly van jou maat se veranderinge, dit ondersteun en nie oordeel nie, maar saam daardeur werk en aanpassings maak, sal ’n mens nie mekaar ontgroei nie.

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

2. Vind jou eie manier van doen en stel grense in

’n Baie waardevolle brokkie wysheid waarmee ons die huwelik betree het is die volgende: Onthou, nie een van julle is julle ouers of julle verwysings van gesinne nie.  Minwetend dwing ’n mens soms die manier hoe jy groot geword het of hoe jy gewoond is aan hoe dinge gedoen moet word op mekaar af. Maar ’n mens moet onthou: Jy is nou ’n nuwe entiteit, ’n nuwe paartjie en ’n nuwe gesin en jy en jou lewensmaat moet saam kies hoe julle alle aspekte gaan aanpak.  Dit sorg vir wedersydse respek en keuses wat nie net die volgende doen-ding op die lewenslysie aftik nie, maar wat regtig uniek is aan hoe jy en jou maat kies om die lewe aan te pak en te leef.  Saam met dit kom grense - as entiteit moet ’n mens nie toelaat dat die wêreld of selfs mense in jou binnekring seggenskap het oor onderwerpe wat eintlik beskore moet wees vir die spanwerk van die huwelik nie.  Almal is so uniek, so ook elke huwelik.  So kies wie jy as paartjie moet en wil wees, stel jou grense en bewaar daardie unieke skatte saam.

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

3. Lag vir mekaar

Ons twee het baie “interne” grappies en byname. Ons sê soms dat mense beslis sal dink ons is die klits kwyt as hulle ’n vlieg teen een van ons mure moes wees. Dit is egter een van die mees belangrike eienskappe: Om daardie belaglike geite en gewoontes te hê wat vir jou so snaaks is, maar wat niemand anders van weet nie.  Ons lag baie vir mekaar!

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

4. Moenie julself met ander paartjies vergelyk nie

Dit gebeur so maklik en saam met vergelyking is daar altyd ongelukkigheid en ’n verloorder.  Vergelyking steel vreugde, selfs verder as net in jou huwelik.  Jy is in ’n unieke verhouding saam met ’n unieke mens en saam stap julle ’n unieke pad.  Sien eerder jouself as ’n nie-kompeterende sport span - elke span het tog sy eie sterk en swak punte volgens die lede se aanleg - so ook jou huwelik.  Jy hoef ook nooit te voel dat jy ook die boksies moet tik soos wat almal anders dit doen nie.  Ons is erg anti-lewensboksies-tik.  Dit sit baie druk op mense en veroorsaak dat hulle besluite neem wat hulle later besef nie eers noodwendig ingepas het by waarheen hulle op pad is of wou wees nie.  Ons trou eintlik so jonk en ons moet vir onsself baie tyd gee om uit te werk wie ons regtig is en wil wees.  En dan leef jy net jou unieke lewe, saam!

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

5. Moenie jouself te ernstig opneem nie

Die lewe en jou huwelik kom nie met ’n gids nie. ’n Mens gaan foute maak, mekaar kwaad maak en mekaar seer maak. ’n Mens gaan selfs soms kwaad gaan slaap - moet jouself nie daaroor stenig nie.  Hê grasie met jouself en met mekaar. Soos by die vorige punt ook genoem is ons eintlik nog so jonk as ons van ons belangrikste besluite moet neem.   Gee vir mekaar regtig ruimte om te kan foute maak en begin elke liewe dag oor.  Ons praat van die “reset” knoppie.  En ons moes al ’n paar keer vir mekaar vra of ons maar die “reset” knoppie kan druk. En vier alles. Ons glo in “celebration” van elke klein dingetjie om altyd te onthou: Die lewe is eintlik so, so mooi.

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

6. Deel jou drome

Dit beteken nie jy hoef alles wat jy doen saam aan te pak nie, maar jy moet beslis mekaar 100% ondersteun. Jy het die voorreg om iemand se lewe te kan deel, letterlik. Julle wil eendag kan terug kyk en kan weet dat julle vir mekaar die volste lewe gegun het. Ondersteun en vier mekaar se drome, pogings en wense. ’n Huwelik waar elkeen hom- of haarself werklik kan uitleef met wedersydse repsek en aanmoediging is baie inspirerend en beslis ook ’n gesonde omgewing vir ’n gesin.

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

7. Koop ’n skottelgoedwasser

 Punt.

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

Nuwe hoofstuk, nuwe album 

Die duo het al twee albums uitgereik: Room With a View (2014) en Anthelia (2018). Nou, in die jaar waar die wêreld tot stilstand gedwing is, gaan hul derde album Prediker vrygestel word. “Ons is baie opgewonde daaroor en dis natuurlik ’n groot geskenk. Dis presies wat inperking vir ons gegee het, die tyd om ’n nuwe album te skryf. Ek dink ons albei het geweet dat ’n volgende album in die pyplyn was, maar dit was ’n ver en vaag gedagte, wat sou moes inpas tussen al die optredes en toere. Maar die skryfproses was toe versnel en die kreatiwiteit het soos granate vir ons oopgebreek,” verklap Esté meer. 

Volgens Esté is verskeie van die liedjies op Prediker geïnspireer deur hul reis in Amerika, wat hul vroeg in Januarie aangepak het. “Dit was een van ons groot vakansies wat ons in ’n lang tyd aangepak het. Die hele ervaring was oorweldigend: Dít wat ons gesien en beleef het, die mense wat ons pad gekruis het ... ek dink elke keer as ons reis, word ons wêreld net groter oopgebreek. En jou perspektief is so bietjie wyer.”

En die titel Prediker se inspirasie put ook uit hul Amerikaanse vakansie. Só verloop die storie: Esté en Lourens het na ’n musiekgroep in ’n klein kroeg in Nashville geluister. Die kroeg was besig en skielik kom daar ’n ou man met lang grys hare by die deur in. “Hy het net so ’n presence gehad. Hoed op sy kop en stewels - hy lyk soos ’n cowboy.” Hy stap na die groep toe en groet hulle, sy oog vang vir Esté-hulle. "Hy stap toe na ons toe en stel homself voor met ’n geharde Amerikaanse aksent. En vra waar kom ons vandaan? En ons sê ons kom van Afrika." Die ou man gee toe vir Esté ’n groot druk, want hy het nog nooit iemand van Afrika omhels nie. En toe wil hy vir die Bottomless Coffee Band ’n drankie koop, maar hulle moes na hul volgende bestemming toe beweeg. Net daar bid hy vir hulle in die kroeg. “En toe hy amen sê, stuur hy ons uit die kroeg,” lag Esté. “Dit was net hierdie absurde, baie egte, ervaring.”

Een van die frases uit hul lied  “Prediker” lui as volg:  “Die lewe gaan jou altyd leeg wil stroop, maar kies die regte deur om deur te loop. Kies die liefde.”

Die res van die liedjies gaan oor hul eie lewensreise - albei het nou hul dertigs betree. “Dit bring vir mens nuwe insig. En een van ons liedjies is spesifiek oor ons sewe jaar van getroud wees - die liedjie se naam is “Sewe Somers”. Die hele album is Afrikaans!”

Die album gaan aanlyn in twee dele uitgereik word: Deel 1 gaan in Desember 2020 beskikbaar wees en deel 2 gaan April of Mei 2021 vrygestel word. 

FOTO Wilhelm en Analja van Collected Pix

Kom luister vir Bottomless Coffee Band

Op 6 Augustus, hierdie komende Donderdag, hou Esté-hulle ’n tweede aanlyn-konsert uit hul Koffie, Musiek & Wyn-konsertreeks. Dit vind plaas op die Muratie-wynlandgoed en word op na die kuberruim uitgesaai. Kaartjies kan op Quicket verkry word. Koop kaartjies hier.

Sewe treffers van die duo: