Ek hoop...
die wêreld word ’n beter plek vir diere. Ek praat nie net van dieremishandeling nie, maar ook van mense wat hul troeteldiere verwaarloos, hulle nie vir stappies vat nie. Ek is verslaaf aan diere, enige diere. Twee van my drie honde, Liza en Mariet, was verwaarloos voor ek hulle aangeneem het. Tau is ’n yorkie en die baba. As ek saans uitgaan, kry ek vir hulle ’n “babawagter”. En ek gaan net na restaurante toe waar ek hulle kan saamvat. Hulle is soos my kinders.

ek sien Rex en Jesse, my twee kollies wat dood is, in die hemel. Ek is seker dit sal gebeur. Ek glo in die hemel en hel en kry soveel kritiek daaroor. Van my vriende sê: “Ag nee, Hannes ...” Maar dit werk vir my. Ek glo soos ’n kind.

Ek is bang...
vir vlieg. En ek vlieg een tot twee keer per week! Die opstyg is die heel ergste. Ek drink nie juis nie, maar dis wanneer ek die whiskey nadertrek.

Wat ek geleer het
Dis lekker om omstrede karakters te speel. Maar mense glo ek ís so. Hulle onthou my veral as Krynauw in Egoli, omdat ek agt jaar lank in die rol te sien was. ’n Vrou het al ’n koppie koffie in my gesig gegooi en ’n ander keer het ’n winkelassistent geweier om my te help. Ek sien dit so half as ’n kompliment, dat hulle in die karakter glo. Op Bravo! is ek maar net myself, Hannes. En in Voor ek vergeet speel ek ’n
slag ’n goeie ou. Ek kry e-posse van mense wat sê: “Ons kan nie glo dis jy nie, dat jy dit kan doen nie.” Ek is ’n akteur, ek kan enigiets doen!