Dié lewensgenieter was eers ingeskryf om in die regte te studeer, maar dít het sy bietjie vervelend gevind. Nooit het sy gedink aanbiederswerk kan ‘n loopbaan word nie, maar voor sy haar oë uitgevee het, is sy een van Suid-Afrika se gunsteling aanbieders op die radio én televisie.

Regte tyd, regte plek én harde werk

Nadat iemand vir haar gesê het sy gaan haar tyd in ‘n kantoor mors, het sy haar goedjies gepak en besluit om vir ‘n tydjie iets anders te probeer. In dié tyd het sy by ‘n plaaslike radiostasie begin werk, en kort voor lank het die SAUK haar gekontak. Daar het sy die oggend-nuusbank van Good Hope FM beman.

“Ek was op die regte tyd en op die regte plek, maar jy kan nie die voordeel daarvan hê as jy nie voorbereid is nie. Jy moet voorbereid wees om geleenthede te kan aangryp!”

Nou is sy te sien op kykNET se glansprogram Bravo! (Donderdae 19:30 op DStv-kanaal 144) én sy is op Smile 90.4 FM, die nuwe Kaapse radiostasie (17:00-20:00 op werksdae en 18:00-22:00 op Sondae). 

“Ek dink ek is nou besig met my droomwerk. Maar ek sal nóg meer wil doen – ek sal graag ‘n program wil hê waarin ek reg oor die wêreld reis, maar dan met Jan Alleman gesels. Ek wil met gewone mense praat oor wat in hulle dorpies aangaan.”

Tracey Lange

Inspirasie

Dit is die positiewe dinge in die lewe wat Tracey inspireer. “Daar is meer goed as sleg is die wêreld. En dit is in die klein oomblikke waarin dít voorkom waarin ek inspirasie vind.” Sy verwys na twiets wat haar bybly. Soos iemand wat getwiet het ‘droom groot, maar werk hard’. ‘n Ander twiet van vrou in ‘n rolstol wat vir ‘n man wat kla oor sy koue winter-voete antwoord met die kwinkslag dat ten minste hy sy voete kan voel.

“Mense wat realisties is, hard werk, nogsteeds droom én met hulself kan spot – dít is inspirerend. Ons het min rede om te kla.”

“En my ma en pa – hulle inspireer my daagliks. Al het hulle nie lekker kinderjare gehad nie, kon hulle vir my en my suster liefdevolle en gelukkige kinderjare bied.”

Tracey werk ook met baie inspirerende mense. Van haar gunsteling onderhoude was met die voormalige Springbok-kaptein Francois Pienaar. “Hy is ‘n groot man, maar ‘n regte teddiebeer!” ‘n Ander was met die akteur Lieb Bester (dié onderhoud is op 4 Julie uitgesaai en word herhaal 5 Julie om 14:30, 6 Julie om 01:00, 7 Julie om 00:30 op kykNET, DStv-kanaal 144) . “Hy is ‘n lieflike man. Hy is sag en ek het so baie van hom geleer.”

“Ek leer baie van die mense waarmee ek onderhoude doen. Ek sien dat mense seëvier. Ek sien dat mense gemaklik is met hulself en vrede vind al het hulle slegte tye deurgemaak ... Dinge gebeur vir ‘n rede, maar jy kan jou reaksie daaroor beheer.”

“Alhoewel ek mal is oor mense, is ek ook mal daaroor om op my eie te wees.” Toe Tracey in die verlede vroeg moes opstaan vir die ontbytprogram, het sy stilte en rustigheid in die oggend gekry op pad werk toe. “Die mooiste deel van die dag is 05:00. Daar is net ‘n rustigheid in die lug.”

Noudat sy later in die dag begin werk, kry sy haar stiltyd op ‘n ander plek – in haar huis. “Ek sit ten minste een keer ‘n week alles af – telefone, rekenaars, radio’s, televisie – ek antwoord níks vir so 2 of 3 ure nie. Dit is net doodstil. Dan geniet ek dit om te stryk! Ek is mal oor stryk en kaste regpak. Dit is terapeuties en herlaai my batterye.”

Vrouwees

Tracey Lange

“Ons moet bewus wees van die krag van ons vroulikheid. Soms is ons die sterk, harde vrou met geen sagtheid by die werk. Ons het baie om te bied en ons moet ons vrouwees vier! Ons moet ons intuïsie gebruik tot ons voordeel en nie omgee in watter vorm of grootte ons is nie.”

“Soms is dit nodig om die hardekwas vrou te wees, maar dit is in ons vroulikheid wat ons krag lê.”