Hy is een van Afrikaans se gewildste sangers. Vroeër vanjaar het SARIE-lesers hom as die tweede mooiste man in die land aangewys. Maar Brendan Peyper, boerseun van Bloemfontein, is glad nie grootkop nie. Inteendeel, hy wil net real wees.

"Bly wie jy is. Dis my lewensleuse," sê Brendan aan SARIE.com. "My familie hou my plat op die aarde."

Sy eerste album, Stop, wag, bly nog ’n bietjie, was ’n reuse-sukses en die jongste een, Hy loop oop, sorg vir net soveel treffers.

Brendan besef hy is ’n rolmodel vir sy jonger aanhangers. "Op die verhoog sal mense sien wie ek regtig is. Ek probeer real wees. Teen die einde van die vertoning sal die gehoor ’n groter prentjie kry van wie ek is."

Hy probeer dieselfde weg van en op die verhoog wees.

As die stad se geraas te veel raak, is Brendan op sy gelukkigste op ’n plaas omring deur diere. "Ek droom van my eie plaas waar ek met wild kan boer. Ek soek trouens vir ’n plaas."

Brendan het sy eerste kitaar op die ouderdom van vyf gekry. "My oupa het dit vir my gegee."

As kind is Brendan dikwels geboelie. "Ek is gespot oor ek so maer was, van laerskool af. Maar ek het gestreef om my beste self te wees."

En Brendan het in homself geglo.

Op 15 het hy in pubs begin speel. "Ek het sommer vir drie uur net vir ’n burger en tjips gespeel," sê hy laggend. Mettertyd het hy oor naweke by troues begin speel en was hy ook ’n platejoggie.

Hy is in sy matriekjaar "ontdek". "Die Here het net geweet. My pad was toe vir my uitgelê."

Die talentvolle sanger droom daarvan om eendag Nashville en Texas in Amerika te besoek.

"Ek is maar ’n country-aanhanger. Ek wil die musiek daar gaan beleef."

En al kom Brendan dalk vreesloos voor, is hy bang vir spinnekoppe en reptiele. Jy kan hom wel omkoop met boerewors, pizza en mini-doughnuts.