Hulle stap die ekstra myl, raak mense se lewens aan, probeer ’n verskil maak. Dit is asof familie en vriende soos een praat: Hennie en Pedro gee óm.

Dit is so, weet ek ná twee uur se kuier by die bekroonde toneelskrywer Hennie van Greunen en akteur en musikus Pedro Kruger, sy man en sakevennoot. By hul grys dubbelverdiepinghuis op ’n grys dag op Melkbosstrand kry ek ’n warm welkomdruk en ’n breë glimlag van Hennie. Hy lyk ontspanne in jeans en ’n blou hemp en bied dadelik koffie aan. Pedro, ook in jeans, met ’n olyfkleurige T-hemp, groet vrolik op die trap. Die honde, Timmy en die baba Thandi, is agter ’n lae wit reling in die sitkamer op die eerste vloer toegemaak. Thandi, wat nog lomperig oor haar stert struikel, is ’n bietjie wild, maak hulle verskoning.

In die boonste vertrek haal jy behoorlik asem en kyk uit op Melkbos se lang strand. “Ons het alles uitgebreek hierbo, die vorige eienaars was baie bang,” lag Pedro. Daar was sekuriteitshekke oral voor die deure. En dit was toegebou in hokkies.

Hulle woon nou al twee jaar hier. Pedro se klavier onder ’n tak versier met feëliggies staan kordaat gereed vir die “boytjie van Brackenfell”. Summier skakel hy dit aan. Dis duidelik, in dié vertrek word magic gemaak, idees verfyn en uitgedink. Hul nuutste is From Broadway to Bird Street, ’n musiekblyspel met 23 deelnemers wat in Maart by die US Woordfees op Stellenbosch debuteer. Dit is deel van Curro Create, die kreatiewe arm van die Curro-skole, wat dié twee die afgelope twee jaar bedryf.

“Hennie is die een wat die idees uitdink.” Pedro staan weer bekend as connect.com, vertel Hennie. “Ek is ná ’n paar minute klaar met die small talk en gaan praat iewers met ’n hond. Ná ’n paar uur is Pedro almal se beste vriend en mense wonder wie is ek, die dude aan sy sy.”

Die nuwe musiekblyspel het sy oorsprong in New York. Hulle het al sewe keer aan dié sappige appel geknaag. “Ek hou van wie ek is as ek daar is,” sê Pedro. “Dit is ’n wêreldstad, waar jy anoniem is. Die bekoring het ook iets daarmee te make dat jy Thai-kos by ’n Mexikaan kan bestel en dan laai die Italiaanse Uber-bestuurder dit af,” sê Hennie. Alles is moontlik. Dis vinnig, dis kosmopolities.

Nou wil hulle Broadway na ’n plaaslike gehoor bring. Nie almal kan immers New York besoek nie.

Die verteller, akteur Germandt Geldenhuys van Binnelanders en Kanarie-faam, plaas elke Broadway-show, soos Chicago, Hamilton of Les Misérables, in konteks, met die stel en kostuums wat voortdurend verander en 23 talentvolle Curro-leerders wat liedjies uit die verskillende produksies sing.

Groot sterre soos Lynelle Kenned en Corlea sing saam en dien ook as mentors. En later gaan dit na ander feeste. Dit is duidelik hoekom hul maatskappy, Wordsmith’s Theatre Factory (“WTF!” lag Pedro ondeund), reeds twintig jaar bestaan. Hulle ís woordkunstenaars met koppe wat woel. Daar is niks aansitterigs omtrent dié twee nie. Ná 28 jaar saam is hulle trouens op hul gelukkigste tuis met die honde en Katryn hul feeskat, wat hulle eenkeer by die KKNK aangeneem het.

Hennie en Pedro wil terugploeg in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. “Dis ons plig. As jy die boonste vloer bereik het, is dit mos jou verantwoordelikheid om die hysbak weer ondertoe te stuur,” sê Pedro.

Hoewel hulle nou nog soms té hard werk en sukkel om balans te vind, is hulle dankbaar dat die vryskut-fee se staf nog gereeld oor hul kop tik. Pedro vertel van repetisies vir die kykNET20-konsert in November 2019, waar hy, Rocco de Villiers en Coenie de Villiers saam op drie klaviere opgetree het. Rocco in sy silwer blinkertjie-pak met ’n blou blom, Pedro in ’n blou tweedpak en Coenie in sneakers, jeans en ’n hemp. “Want dis wie hy is.”

Hennie is ook regisseur van die toneelstuk Medium Rare deur Erica Harris, wat sy debuut op die Woordfees maak. En vir later vanjaar ontwikkel hy die toneelstuk Nagrit, met Rachelle Greeff.

Hul kreatiwiteit vlieg amper soos die ry swaeltjie-kunswerke teen die mure. Golwend, al langs die trap op, tot teen die dakvenster, waar lig instroom. Pedro het “’n ding” vir swaeltjies. Dalk omdat hulle verken en altyd weer huis toe kom, dink hy hardop. Hy wys na ’n kunswerk wat Hennie vir hom laat maak het vir hul 28ste herdenking. “Ek het snot en trane gehuil.” Dis vol simboliek met hase, swaeltjies, ’n klavier. Die hase verwys na die gay-kabaret Die Hangkas Haas wat Hennie geskryf en waarvoor Pedro die musiek gekomponeer het. “Een van die bekendste liedjies, wat gereeld op gay-troues gesing word, ‘As tyd kan toor’, het waar geword vir ons. Ná al die jare is ons nog saam,” sê Pedro.

“Hennie was van kleins af die man in hul huis, sy ouers is geskei toe hy baie jonk was. Ek is die hugger, hy is die fixer,” sê Pedro.

FOTO Willem Lourens

Hennie is diep empaties, want hy het grootgeword met ’n gestremde suster, Karen Smit. Sy sê hy het ingestem dat sy haar ma se huis op Mosselbaai kon verlaat en by hom in die Kaap kom bly. “Dit was my groot kans in die lewe. Ek is getroud, het my studies voltooi.”

Vandag is Hennie en Pedro peetpa’s van Karen en Paul se sewentienjarige dogter, Kelly. En Karen is hoofspesialis: spesifieke behoeftes by Vodacom. “Hennie en Pedro maak altyd tyd vir familie en vriende,” sê sy.

Hy en Pedro het ook ’n emosionele konneksie met kuns. Hulle word geroer deur enigiets van ’n mandala in aardse kleure van hul goeie vriendin Lize Beekman, sketse van Diane Victor, pastelskilderye van Hanneke Benadé, kunswerke van Henk Serfontein, soos sy bekende hande en gesig van die digter Wilma Stockenström.

Die een gesels, die ander een wag, of maak sy sin klaar, of vra: “Ekskuus, kan ek net gou ...” Daar’s ’n gemaklike ritme soos hulle idees en woorde rondgooi en jy hoor hoe die WTF se skatkamers al weer gevul word.

Hoekom is julle so gek oor New York?

Pedro: Hennie het al gesê ek moet probeer uitvind wat dáár is wat my so baie van myself laat hou en dít moet ek in Suid-Afrika probeer implementeer. Ons gaan kyk elke aand na ’n ander show, ons gaan na matinee-vertonings. Dis inspirerend.

Hennie: Moenie dink dit is noodwendig die mekka van toneelspel nie. Suid-Afrika vergelyk soms beter met van die stuff daar. Ons het Hairspray honderd jaar gelede daar gesien. Toe doen Pieter Toerien dit in Suid-Afrika. Dit was soos om ’n nuwe vertoning te sien, en myle beter.

Hoe kry julle dit reg om al 28 jaar saam te leef én te werk?

Hennie: Ek hou régtig van hom. Benewens die liefde en passie en gevegte oor begrotings en castings. Dit ís moeilik om saam te werk. Wanneer ons met vakansie gaan, mag ons nie oor werk praat nie. Vir die eerste drie dae is ons gewoonlik stil.

Pedro: Dit is ’n wilsbesluit om wanneer ons ontspan nie oor werk te praat nie, want ons is passievol oor ons werk. Dit is meer as om te praat oor watter polis jy verkoop het. Ons was byvoorbeeld mal oor die rolprent As It Is In Heaven, toe draai ons na mekaar en sê dit sal ’n ongelooflike toneelstuk of musiekblyspel maak. Die volgende oggend toe ek wakker word, het Hennie al klaar ’n e-pos gestuur om te hoor of ons die regte kan kry. ’n Maand later het ons, maar ons het nog niks daaraan gedoen nie. Soms moet ’n mens heeltemal afskakel. Ek werk in ’n driehoek: ek, jy, ons. As jy die ons op die bladsy hou, soos met vakansies, dan gaan dit goed. Dan weet ons hoe die ander een dink en voel.

Mia Dippenaar, gr. 8-leerling aan Curro Durbanville, een van die sterre in From Broadway to Bird Street, vra: Ons jongmense leer so baie by julle. Leer julle dalk by ons?

Hennie: Jy herbesoek honderde kere die dag toe jy teater ontdek het en sny deur al die drama en ego van die akteurs – dit is ’n voorreg om dit te kan doen in elke produksie.

Pedro: Gesoute akteurs is bang om simpel te lyk, want soos ons ouer raak, raak ons bang. Die jonger generasie is vreesloos. Dít smeer af op my wanneer ek weer op die verhoog staan.

Hoekom is dit vir julle so belangrik om ’n verskil in jongmense se lewe te maak?

Hennie: Ons kry briewe van ouers wat sê hul kinders het geen toekomsvisie gehad nie. Ná hulle saam met ons gewerk het, het hulle ‘’n nuwe kind’ gekry. Hulle het hul tribe gevind.

Pedro: Ons kan nie al die krediet neem nie. Dit gaan oor die hele kreatiewe proses. Ons werk drie weke lank, tien uur per dag, met hulle. Hulle word soos familie.

Hennie: Ons glo ook sterk aan nasiebou. Wanneer hulle hier instap, is daar nog etikette. Hulle sien mekaar as vet, maer, swart, wit. Maar die oomblik wat ons vra hoekom hulle hier is, verdwyn daardie etikette. Dan word hulle ’n rapper, sanger, danser of akteur – dan begin hulle mekaar ag vir hul vaardighede. Ek is dalk naïef, maar die geheim vir wêreldvrede is stories. Ons moet na mekaar luister. Ons moet mekaar nie veroordeel oor ons geloof, kleur of voorkoms nie. Vind eerder uit watter dier het iemand eerste liefgehad, wie het sy/haar hart onherroeplik gebreek. As ons stories uitruil, ook deur die kunste, sal ons mekaar beter verstaan.

Pedro: Ek en Hennie het gehuil toe ons die Wêreldbekerrugbytoernooi gewen het. Ons ervaar daardie soort opwinding as ons met die kinders werk, op klein skaal. Van verskillende kulture wat saam staan.

Kelly, hul peetdogter: Hoekom dink julle ek is ’n goeie reismaat?

(Hulle het haar Parys toe geneem vir haar sestiende verjaardag.)

Hennie: Omdat sy ’n gestremde ma het, het sy vlakke van empatie wat haar jare ver vooruit is. Sy is ongelooflik aanpasbaar.

Pedro: Sy hanteer mense met sorg en is nie so selfgesentreerd soos baie moderne mense by wie die eie ek seëvier nie.

Wat beteken goeie mentorskap?

Pedro: ’n Mentor het lewenservaring. Wanneer Hennie in New York is, spandeer hy ure in teaterboekwinkels om tekste deur te lees en met mense in die bedryf te praat. Hy bring tasse tekste terug. Ons nooi gereeld jong akteurs soos Cintaine Schutte en Carel Nel vir ’n braai en wyn en bespreek opwindende tekste. Ons workshop draaiboeke om ’n tafel met mense in die bedryf. Dikwels sê hulle ons moet nie ons idees deel nie, want iemand gaan dit ‘steel’. Maar kreatiwiteit hou mos nie op nie. Ons loopbane gaan nie kwyn omdat ons iemand anders help nie. Hennie: Dis soos die hoofkarakter in Hamilton sê: ‘Legacy is planting a flower in a garden you won’t get to see ...’ Dit som op wat ons doen.

Marina Smith, vriendin, vra: Waarheen is jul volgende reis?

Hennie: Ons hou daarvan om nuwe dinge te leer en te ervaar. Kerstyd was ons op ’n vragskip na Skandinawië omdat ons die noorderligte wou jaag. Ek doen nie luukse passasierskepe met tits and ass nie. Daar was lesings oor fjords, die mitologie ...

Pedro: Ek het ’n zen-streep en wil die Camino in Japan doen, waar jy van een dorpie na die volgende loop. My grootste wens is om mense te respekteer en onselfsugtig te wees. Dit klink soos ’n corny Hallmark-kaartjie, ek weet. Ek wil ook na ’n stilte-retreat gaan, maar Hennie hou daarvan om dinge te doen. Hy neem lank om af te skakel. Ons was mal oor ’n onlangse vakansie in Viëtnam. Die mense is ongelooflik kind. Ons wil eintlik nog die hele wêreld vol reis.

Wat is jul toekomsplanne?

Pedro: Ons droom daarvan om ’n paar maande in New York te gaan bly. Ek sal sommer ’n sitplekaanwyser wees in verskillende teaters, dan sien ek nog die shows ook. Of selfs met ander mense se honde gaan stap.

Hennie: Oor twee jaar wil ons en die Curro-skoolnetwerk die Curro Create National School of the Arts stig. ’n Gefokusde kunsskool.

Pedro: Iets soos Fame.

Hennie: Kinders sal oudisies doen en drie akademiese en drie kreatiewe vakke volg. Curro besit reeds die filmskool AFDA. Filmredigering, draaiboekskryf en fotografie sal byvoorbeeld ook aangebied word.

Pedro: Ons het die Frank Sinatra School of the Arts High School in New York besoek. Hulle praat van artist teachers. Dis wonderlik. Saans tree die akteurs op Broadway op, bedags gee hulle klas. In Suid-Afrika wil ons akteurs soos Nicola Hanekom en die teatermaker Philip Rademeyer na skole stuur om onderwysers te help met die afrig van skoletoneel.

Hennie: Ons beoog om ons Curro-jeugtoneelfees vir hoër- en laerskole in 2021 vir alle skole nasionaal oop te maak. Dit sal die grootste tienertoneelfees op die kontinent wees, in alle Suid-Afrikaanse tale. As jy in Pedi wil inskryf, sal ons ’n Pedi-beoordelaar kry.

Pedro: Op die oomblik werk ons hard. Ons wil ’n bietjie afskaal en meer reis. Nege jaar gelede het ons ’n twee en ’n half maande lange sabatsreis na Italië geneem en wou dit eintlik driejaarliks doen.

Hoe verryk Melkbos jul lewe?

Pedro: Ek is ’n skugter Sannie en was bang dat almal alles van mekaar gaan weet toe ons van Durbanville hierheen getrek het. Maar dit is ’n verwelkomende gemeenskap. Ons voel nie asof ons versmoor word nie. Ek het al by my buurvrou ’n huiskonsert gehou en die vrou om die draai sal sê ons moet kom inloer. Katryn, die feeskat, is verlief op die bure se hond ... Timmy is mal oor die strand. Saans sit ons op die stoep met ’n glas wyn en kyk na die see. Elke oggend as ek wakker word, bring Hennie vir my koffie. As ek nie die stilte van die branders sien nie, voel dit of die dag met my weghardloop. Dis my meditasie.