Jy laat op 55 steeds die koppe draai. Wat beteken vrouwees vir jou? 

Sensualiteit is vir my belangrik. Ek hou van vroulik aantrek. Ek sal nie sommer ’n rok dra as die materiaal nie soos fluweel op my vel voel nie. Ek versorg my vel met serums en roompies, geniet badsoute. As vrou is ek op my gelukkigste wanneer ek my beste werk lewer en my mense om my gelukkig is.

Wat is jou kernboodskap in jou motiveringspraatjies? 

Jou DNS is divine. Herontdek weer die diva in jou. Jy’t dalk jou drome langs die pad verloor, maar jy’s steeds pragtig. Jy kán voluit leef.

Wat maak jóú motiveringspraatjies uniek?

Myne is anders, want ek praat min oor myself en meer oor humoristiese situasies waaruit jy iets kan leer. Ek deel ook uit my eie ervarings, soos die besluit om gelukkig te wees ten spyte van jou omstandighede, om jouself te vergewe wanneer jy nie al die balle in die lug kan hou nie.

Glo jy nog in ware liefde? 

Vir seker. That ship has not sailed at all! Dit kan weer vir my gebeur. Dit hang net af of dit die regte tyd is.

Hoe belangrik is voorkoms vir jou? Glo jy in botox en plastiese chirurgie? 

Ek dink jy moet altyd, veral in die bedryf waarin ek is, die beste lyk wat jy kan. Ek doen Pilates, eet gesond, slaap lekker. As jy komplimente kry, moet jy weet wat jy ook al doen, werk. Die Sophia Lorens en Jane Fondas van die wêreld verklap nie al hul skoonheidsgeheime nie. Daar’s mos maar persoonlike goedjies wat jy net nie deel nie.

FOTO: Marijke Willems FOTO: Marijke Willems

Dink jy jy’t goeie smaak?

Jy word gebore met goeie smaak. Ek het nog altyd ’n waardering vir mooi modes en kén brands. My nuutste handsak is van David Tlale, daar’s ’n Franse lyfroom en Issey Miyake-parfuum op my bedkassie. Ek versamel sonbrille, het die Pradas en die Gucci’s. Ek dra True Religion-jeans.

* Uittreksel uit SARIE se Junie-uitgawe

Nóg plaaslike bekendes