Langs die N1-snelweg tussen Johannesburg en Pretoria en ook naby Kaapstad is ’n reuse-advertensiebord wat gil: I (groot rooi hart) Blitsvinnig! langs ’n hengse foto van Bryan Habana soos almal hom ken: Springbokkie op die bors, lippe styf op mekaar gepers, bal vasgeklem onder die arm . . .  op pad na die een of ander arme span se doellyn.

Vroeër vanjaar het hy op Nuweland (vir die Blou Bulle) nie minder nie as vyf keer ná mekaar drieë gedruk teen die moedelose Streeptruie. Bryan Habana het nét so blitsvinnig vir homself die ereplek as Suid-Afrika se nuwe goue seun op die rugbyveld ingehardloop. Sy sekure hande en vinnige voete op die veld gryp mense net so aan soos sy sagte, nederige manier van die veld af.

Selfs die Radio Kalahari Orkes noem hom by name in hul stadion-treffer, “Onverskrokke”: “Staal in die oë en bloed in die Springbokhart, ons hart . . . ” Om hom in die hande te kry is egter nie ’n vinnige storie nie. Sy pa en agent, Bernie Habana, het oor ’n tydperk van amper drie maande gesukkel dat die SARIE-span en sy wonderkind twee ure saam kan deurbring vir gesels en foto’s neem. Dit gebeur een triestige someroggend in die Irene Country Lodge.

GUNSTELINGE

KOS: Ma s’n
DRANK: Wit hot chocolate
KLERE: Canterbury
SPAN: Manchester United
LIED: “You raise me up” van Josh Groban
PLEK: Zanzibar
MENS: Madiba
GESEGDE: Carpe diem (gryp die dag!)

 

Hy’s ’n bietjie laat - het verdwaal op pad na die gastehuis - en met die intrapslag klap die span spontaan hande.  Sy windjekker is hoog opgerits en die hoedjie is laag oor die oë getrek. ’n Gestreepte rugbyhemp onder die baadjie. Vriendelik en ’n bietjie verleë. Duidelik jonk, maar vol selfvertroue, die soort wat ’n mens dadelik op jou gemak laat voel.

Die personeel van die elegante gastehuis is goed opgelei, veral in die kuns van nie aangaap nie, maar hulle kan hulself nie help nie. Almal stap vinnig nader, baie stadig verby, en loer skelm na die voorwerp van ons aandag. Selfs die bestuurder het besondere en spesiale tyd aan ons groepie afgestaan.

“Die wonderlike ding van Bryan,” sê Fanie, stilis, “is dat hy régtig so nice is soos wat hy lyk. Ek sê vir hom hy’t sulke breë skouers, en dat ek wil weet wat hy doen om dit so te kry, want ek wil dit ook doen. ‘Nee,’ antwoord hy, ‘dis my ma en my pa se skuld. Ek is maar so gebore.’”  Hy is soos ’n omgekeerde piramide gebou - hy dra ’n nommer 46-baadjie, maar ’n 34-broek. “Net jammer my kuite is so maer,” grinnik hy.

Is al hierdie aandag nie sleg vir jou spel nie?
Sjoe. Ja, daar is baie aandag. ’n Mens voel soms ’n bietjie soos openbare besit, en dis met tye baie moeilik vir die mense naby aan my. Vir my ook. Maar ek is gelukkig dat my ouers, en my familie, my voete stewig op die aarde hou. Omdat die sport deesdae werklik so professioneel bedryf word, word hard gewerk om ons fokus op die spel te hou.

En as alles verby is?
Ek is baie bewus daarvan dat die rak-leeftyd van’n professionele rugbyspeler hoogstens 12 jaar is. (Bryan is nou 22.) Dus sal ek graag my graad wil voltooi en my ná my rugbyjare op my beroep wil toespits. Ek kort nog net vier vakke dan kan ek’n B.Sc.-graad (rekenaarwetenskap) agter my naam skryf. Rekenaars is so ’n groot deel van ’n mens se lewe. Daar moet balans wees in jou lewe. Hou jou oog op die toekoms, terwyl jy jou beste lewer in wat jy nóú doen.

Hoe hou jy jou lewe privaat en betekenisvol?
My gesin is beslis die kern van my lewe. Ek is ’n middelkind en steeds maar net “kleinboet” by die huis. My ouer broer, Bradley, werk by MTN, en my jonger suster, Alycia, studeer aan die Universiteit van Johannesburg. My pa is besturende direkteur van ’n nuwe maatskappy en my ma werk vir die departement van onderwys.

Jou kinderjare?
Ek is met streng dissipline grootgemaak en dit het goeie resultate, veral in my spel. En my meisie, Janine . . .  sy is die ander rots. Sy hanteer al die druk en veral die sogenaamde roem baie goed. Daar is niks se ge-“superster” naby haar nie, hoor! Om saam met my geliefdes te wees . . . sal ek vir niks verruil nie. Ek is ’n Tweeling, maar het nie die tipiese dualisme van dié sterreteken nie. Ek sou wel een van ’n tweeling gewees het, maar die ander enetjie het dit nie gemaak nie.

Vanwaar jou goeie Afrikaans?
Ons huistaal is Engels - ek het in Johannesburg grootgeword. Maar so met my eerste rugbytoer vir die o.16-span Namibië toe het ek besef: Ek sal my Afrikaans bitter gou moet afstof. Ek het dit bewustelik gedoen. Afrikaans is sterk in die wêreld van rugby.

En waar kry jy jou talent?
Ek dink van my ouers. Veral my ma was baie goed in atletiek, hokkie, gimnastiek, sulke goed. My pa het by my die liefde vir rugby gekweek, hy het self gespeel toe hy jonger was. In 1995 het hy my na die kwart-, half- en eindstryd van die Wêreldbeker geneem. Ek was net 12 jaar oud, maar ek sal daardie dag op Ellispark nooit vergeet nie. Dit was net ná die 1994-oorgang, en die samehorigheid op die paviljoene was tasbaar. Ek is van skoot tot skoot gestuur. Mense het vir my roomys gekoop, en ek sal nooit vergeet hoe almal, mans en vrouens, gehuil het toe Madiba op die veld kom in Francois Pienaar se trui nie. Op skool was dit óf hokkie óf sokker óf rugby. Maar daai dag het ek besluit: Dis rugby.

Wanneer het jy toe jou voete in rugby gevind?
Ek het voor die o.21-Wêreldbekerreeks nie geweet waarheen ek op pad is nie. Ons het dit nie gewen nie, maar ek het in een van die wedstryde drie drieë gedruk, en beland toe in ’n Curriebekerspan. Toe, in 2004, was ons in Australië vir die Drienasie-reeks. Ek het nie die veld gehaal nie, maar om in die omgewing, in die geselskap van al my helde soos Os du Randt en Breyton (Paulse) en Percy Montgomery te wees . . . Ek het opgesien na hulle, en ek het hul fokus gesien. Toe besluit ek om hierdie geskenk wat my kant toe gekom het, met drie hande aan te gryp! En om my heel beste te lewer.

Vertel meer van jou ander lewe, die een weg van die veld af?
Dis goed om ook ander invloede te hê. Ek het nog die meeste van my ou vriende, party selfs van skooldae af. Ek dink dis gesond om jouself met ander persepsies te omring. En soms af te skakel en oor iets anders as rugby te praat. Dis dan wanneer ’n mens varsheid kry, weer lus raak vir die spel.

En ontspanning?
Ja, ek en Janine sorg ook dat ons soms bietjie wegkom, heeltemal wegkom. Net ons. Ons was einde verlede jaar in Zanzibar, heeltemal alleen. Dit was wonderlik. Ek het al baie gereis vir rugby, Australië en so, maar dan sien jy die plekke anders. Die Zanzibar-wegbreek was broodnodig, en heerlik.

Het jy stokperdjies? Wat doen jy in jou vrye tyd?
Gholf is verseker iets waarvan ek hou. En ek is ook ’n groot Playstation-fan. Ek vat die meeste van die tyd my PSP saam. En die tyd saam met my vriende en geliefdes help my ook om te ontspan.

Hoe voel die adrenalien op die rugbyveld, om die plek so aan die brand te hardloop?
Dis regtig onmoontlik om dit te beskryf. Daar is soveel emosies dat dit báie moeilik is om ’n paar uit te sonder. Maar dis ongelooflik.

En al daardie onderskepdrieë, hoe gebeur dit?

Dis gelukkig bietjie makliker om daaroor te praat . . .  ’n Groot deel daarvan is maar ’n gevoel vir die situasie, maar visual training saam met Sherylle Calder help my al hoe meer om ’n situasie vinniger op te som - en dit lei dan tot ’n nugterder besluit. Met ander woorde, ek “sien” dit in my geestesoog gebeur, en my lyf volg.

Wat sou jy graag wou doen as rugby nie in jou bloed was nie?
Mmm - dan sou ek baie graag ’n gholfspeler wou wees. En dis nie oor die geld nie, maar meer oor die individuele en gedissiplineerde sport wat dit is.

Wat is jou lewensfilosofie?
Wees dankbaar vir die wonderlike talent waarmee jy geseën is en maak die beste van elke sekonde van elke dag.

Wat weet niemand nog van jou nie?
Dat ek my eerste rybewys-toets gedop het.

Wie inspireer jou die meeste?
My pa is ’n groot inspirasie. Hy leer ’n mens hoe om in die lewe in te gaan. Hy en my ma rus ons toe vir die meeste dinge wat jou kant toe kom. Hulle is sulke trótse ouers! Op al hul kinders. Daar is baie liefde, al is jy wie. Maar ek het ook geweldige agting vir George Gregan, Australiese kaptein. Ek weet nie van nog ’n rugbyspeler wat so professioneel soos hy is nie. Op die veld en af. Ek weet mense dink hy is koud, maar hy is een van die rustigste, warmste mense wat ek ken. En hy sit baie terug in die spel En natuurlik Heyneke. (Meyer, afrigter van die Blou Bulle vir wie Bryan speel.)

Vertel meer?
Ek dink Heyneke se sukses met sy span het veral met sy menseverhoudinge te doen. Die manier waarop hy met mense werk, is ongelooflik. Met respek, en so dwing hy ook geweldige respek af. Hy is wys. Ek kan ure lank net na hom luister. Hy kies sy spelers oor hul karakter, grootliks. Hy het balans, en hy moedig ook balans in jou lewe aan. Hy luister régtig as jy met iets na hom toe gaan. Ek is verskriklik gelukkig in die span. Ek dink daar is ’n groot verskil tussen hoe dit lyk en hoe dit werklik is.

Ons is soos ’n familie, dis soos om elke naweek saam met jou beste vriende deur te bring. Daar is groot mense in daai span. Victor Mansfield, Anton Leonard (voormalige kaptein wat einde verlede jaar uit rugby getree het). Ware ménse. En daar was Etienne Botha (Blou Bul-senter wat verlede jaar in ’n motorongeluk gesterf het). Ek sal nooit vergeet nie - ons het een keer ’n langerige blaaskans gehad en die eerste dag toe ons terugkom, moes ons 3 km hardloop.

Ek is nie so goed met die langer afstande nie, en Etienne het gesien ek sukkel bietjie. Hy’t vir my gewag en gesê: “Bryan, ek gaan jou nooit drop nie.” Hy het saam met my kom hardloop en ons het saam heel laaste gekom. Dis hoe dit by die Bulle is. Hulle sal jou nooit drop nie.

Is jy gelukkig?   
Ek is, ja. Ek besef terdeë hoe geseënd ek is, en dat ek dit moet respekteer. Ek is regtig gelukkig, elke dag. Om op te staan en elke dag dít waarvoor die jy liefste is uit te leef. Dis geluk. Ek wíl elke dag werk toe gaan!

En die lewe ná rugby?
Ek sal graag iets wil teruggee. Maar ek weet daar is ’n lewe ná rugby. Ek sal baie graag eendag net weer wil kan sit en rugby kyk op TV en sien hoe ander ouens dit doen.
Dit van buite af geniet. En dan is daar natuurlik nog die rekenaars.

               ***

Sy selfoon lui. Dis die man wat sy huis se alarmstelsel moet kom regmaak. “Ek is mos nou ’n huiseienaar,” beduie hy, effens verleë. Jammer, maar hy moet nou vinnig by die huis kom. Blitsvinnig ...