Die land se splinternuwe kupido, Marciel Hopkins, loop nou op die wolke, terwyl ’n diamant pronk aan haar ringvinger. Ja, die Boer Soek ’n Vrou-aanbieder is verloof. 

Net hierdie week het die rooibostee-boer Willem Pool vir sy nooi, Sanel Prinsloo, gevra om te trou – lees meer.

En nou is Marciel ook uitgeboul vir ’n ses. Daar is beslis liefde in die tyd van Corona.

Hoe het haar finansiële bestuurder-kêrel, Handré Lourens, die groot vraag gevra? Vroeg vanoggend by die Twelve Apostles-Hotel-En-Spa.

“Hy het gereël met my agentskap dat daar kamstig ’n tydskrif is wat ’n profielonderhoud met my wil doen en bykomende foto’s wou neem.”

Marciel erken sy het toe snuf in die neus gekry. “Maar nou ja,” skerts sy. “Die man verras my toe hier by die Twaalf Apostels. Dit voel nog vir my so onwerklik – ek loop op wolke.” 

Marciel se pragtige verloofring. FOTO Verskaf

Die paartjie is al vier jaar saam. In ’n onlangse onderhoud met SARIE.com het sy verklap hoe sy opnuut haar eie verhouding gedurende die verfilming van Boer Soek ’n Vrou waardeer het. “Handré is so ondersteunend en het ’n besonderse nurturing-kant aan hom. Ek kan ná ’n lang dag, en doodmoeg wees, hom net bel en weer vernuwe energie kry om terug te kan bons.”

Haar grootste raad vir die liefde? “Die regte kombinasie ... dís die goue reël. “Jou lewensmaat is jou beste vriend, maar om daai passie in die verhouding te kan behou is ook uiters belangrik. Om steeds opgewonde vir mekaar en oor mekaar te kan wees. En om natuurlik ook mekaar se grootste ondersteuningstelsel, asook ’n klankbord, te kan wees.”

Marciel saam met haar twee kat-kinders. FOTO Instagram / Marciel Hopkins

Marciel glo vas dat die liefde steeds sal seëvier op Boer Soek ’n Vrou, ten spyte van Covid-19. “Nou is die tyd om te waag.” 

Vir Marciel is die ervaring as nuwe aanbieder beslis ’n leerskool. “Dis so verrykkend en ek leer ongelooflik baie – elke liewe dag. Ek vind my stem en voete as nuwe aanbieder.”

Ontmoet die 10 boere hier.

Diegene wat die boere beter wil leer ken en wil inskryf, kan een van die volgende drie opsies doen:

* Skryf in op kykNET se webtuiste

* Bel 079 335 5137 

* Stuur ’n e-pos na boer@marche.media (Let wel .media en nie .co.za nie) 

Inskrywings moet voor middernag op 8 Augustus 2020 ingedien word.