Op TV het dit gelyk asof dit ’n groot skok was dat jy afgestem is? Dit was! Ek is heeltemal onkant gevang. Maar dis oukei. Ek neem nie die plebs kwalik dat hulle besluit het om al die celebs af te stem nie. As ons celebs genoeg getalle gehad het, sou dit ook ons strategie gewees het. Hoekom dink jy was jy ’n teiken? Ek was te sterk. Ek het nie gewys dat ek enigsins emosioneel of fisiek swaarkry nie. Dit was dalk ’n fout. As ek soms my weerlose kant gewys het, sou my stamlede dalk minder bedreig gevoel het. Hoekom het jy probeer om ’n alliansie met die plebs te vorm? My doel was om die stam as ’n eenheid te laat saamwerk. Dan sou ons ’n beter kans gehad het om die uitdagings te wen sodat ons nie na die tribal council hoef te gegaan het nie. Ek het gevoel ons moet as stam saamwerk om ons gemeenskaplike belange te beskerm. Wat was die moeilikste van Survivor? Om die heeldag met vreemde mense omring te wees. Jy kan nêrens heen ontsnap nie. Omdat ek ’n alleenmens is, was dit nogal erg! Het jy enigsins voorberei? Ek het begin swem en ook minder begin eet sodat my lyf gewoond kon raak aan minder kos. Wat het jy uit die ervaring geleer? Ek het besef ek kan met soveel minder klaar kom as wat ek gedink het ek kan. Ek is ook sterker as wat ek gedink het en ek het geleer om krappe met my voete te vang!