Charlize, jy is een van Hollywood se pragtigste vroue, jy kry die beste werksgeleenthede en jy't 'n baie aantreklike kêrel. Het jy nog drome?
Ek sou graag wou kon vlieg! Ek wou nog altyd voel hoe dit voel. (Sy lag)

Waarom sien ons jou altyd in dramas en rillers soos The Road, maar nooit in komedies nie?
Ek dink nie regtig oor genre-tipes nie, dit dryf my nie. Ek glo aan 'n goeie storie, dis die belangrikste. 'n Akteur se werk is om geloofwaardig te wees en nie sy rolle uitgedink of meganies te vertolk nie - of dit nou drama-, komedie- of aksie-rolle is.

Vir my is rolspel soos terapie. Jy let op na mense, jy leer hulle ken en verstaan hoe hulle optree. Maar natuurlik, dit was wonderlik om 'n paar maande gelede in 'n komedie te kon speel. Hancock was fantasties, veral met Will Smith as mede-akteur.

Jy kom altyd oor as 'n baie sterk persoon. Het jy enige swakhede?
Ja, kos! Ek sal enigiets doen daarvoor, en ek eet ook enigiets, enige plek. Ek beplan selfs my reise rondom kos. Ek vind eers uit hoe lank ek in 'n stad sal wees en maak dan 'n lysie van al my gunsteling-restaurante daar. En glo my, die lysie op my rekenaar is nou al lánk. Ek probeer regtig om by elkeen van hulle te gaan eet, want dis onmoontlik om net een te kies. Ek sê jou, dis mal, ek dink die heeltyd aan kos!

Is daar iets in die lewe wat jou irriteer?
Ja, wat my regtig irriteer is dat - selfs in 2009 - alles steeds om mans draai. Hulle kry beter werksgeleenthede en daar word nie teen hulle gediskrimineer nie. Dis onregverdig. Vroue is óók sterk en intelligent, en hulle kan verskillende situasies goed hanteer. Ek maak nou propaganda vir girl power!

Het jy 'n lewensmotto?
Ja, ek probeer sonder 'n skedule leef, want dit maak nie vir my sin nie. Ek wil nie planne maak en dink aan wat ek volgende jaar gaan doen nie - wie weet wat dalk in die volgende paar maande kan gebeur? So ek probeer in die oomblik leef, ek geniet die lewe en bekommer my nie veel oor die toekoms nie.

Wat sou jy maak as jy eendag nie meer filmrolle aangebied word nie?
Ek het vir baie jare op 'n plaas in Suid-Afrika gewoon, en ek was mal daaroor. As Hollywood my nie meer wil hê nie, gaan ek 'n tuinier word en diere versorg. Dit is wat ek regtig wil doen. Toe ek nog 'n dogtertjie was, wou ek 'n ballerina word. Ek het nooit gedroom om oorsee te gaan of iets opwindends te doen nie. Die lewe was toe vir my baie eenvoudig.

En nou is jy een van Hollywood se besigste akteurs. Hoe is dit om só bekend te wees?
Ek moet erken, ek word nog gewoond daaraan. Om 'n 'ster' te wees is vir my vreemd. Almal wil iets van jou private lewe weet - wat jy dra, wat jy eet, wat jy drink. Mense is soms verstom dat ek normale goed doen soos om te kook. Genade! Mag ek dit nie doen net omdat ek op 'n skerm verskyn nie? Maak dit my 'n ander mens? Om akteur te wees is soos enige ander werk. Niemand verval in ongeloof wanneer 'n prokureur erken dat hy domino's speel nie.

Ek is 'n normale mens wat wil doen wat almal daarbuite doen. Natuurlik is dit wonderlik as daar 'n spul mense by jou huis opdaag om jou hare, naels en grimering voor 'n geleentheid te doen, maar dit is nie ek nie.

Maar ek wil nie klink of ek kla nie. My lewe is wonderlik en te danke aan my werk kan ek opwindende dinge aanpak.

Maar wie is die ware Charlize Theron? Wat maak jou werklik gelukkig?
Ek is mal daaroor om vriende oor te nooi. Ons kook saam, drink 'n paar bottels wyn en geniet die goeie tye. Ek hou nie daarvan om te gaan 'klub' nie, ek's nie 'n party girl nie. Ek sit eerder by die huis en kyk die nuus. Ek is verslaaf aan nuus, ek lees ook 'n klomp verskillende koerante en weet wat in die wêreld aan die gang is.

Noudat jy jou vriende noem, jy en jou ma is baie na aan mekaar . . .
Ja, ons is, sy is my beste vriendin. Sy woon net om die draai van my en ons sien mekaar gereeld. So nie, SMS ons of sit ons op die telefoon. Sy is so sterk, slim en vasberade - sy's my lewende inspirasie. Sy het my nog altyd ondersteun, maak nie saak hoe en waar nie, en dit sal ek nooit vergeet nie. Ek sal altyd daar wees vir haar.

Jy's nou wettig 'n Amerikaanse landsburger. Wat was die rede vir hierdie besluit?
Ek bly nou al jare in Los Angeles. Dit is frustrerend om nie deel te mag hê in iets soos die verkiesing nie. Ons het die laaste agt jaar gesukkel in die pre-Obama-era en mense het my gekritiseer omdat ek my politieke sieninge by verskeie geleenthede bekend gemaak het. Hulle sou byvoorbeeld sê: "Hoe kan jy so iets sê? Jy's dan nie eens 'n Amerikaanse burger nie!"

Nou kan ek sê wat ek wil, wanneer ek wil. (Sy lag.) Ek het wel steeds my Suid-Afrikaanse burgerskap - dit sal ek nóóit prysgee nie!

Het jy 'n skoonheidsgeheim?
Nie regtig nie. Ek dink wel genoeg slaap is belangrik en dat jy jou gesig was voor jy inkruip saans, anders ly jou vel daaronder. Ek is baie aktief, ek hou van sport - dit hou my lyf sexy . . . En so terloops, ek's nie 'n voorstander van titels soos "sexyste vrou in die wêreld" nie. Ek's skaam en dis vir my 'n verleentheid.

Jy en Stuart Townsend is al lank saam. Het jy raad vir 'n gesonde verhouding?
Ek dink nie daar's 'n formule vir 'n lang, gesonde verhouding nie. Julle kom of met mekaar oor die weg, of glad nie. Maar persoonlik glo ek dat juis die verhoudings wat nie 'n gelukkige einde het nie jou op die ou end sterker maak. Ons hou makliker vas aan moeilike tye soos dood, pyn of 'n verbrokkelde verhouding as aan die goeie tye. Ek onthou toe my hart die eerste keer gebreek is. Die emosionele band met hom wat my rondgeneuk en nooit liefgehad het nie was groter as die een wat ek met my dierbare eks-kêrel gehad het. Dis hoe ons aanmekaargesit is: ons onthou die slegte tyd, vergeet die goeies.

Laaste vraag: Sal jy ooit met Stuart trou?
Ek weet al lank dat ek nie wil trou nie - dis nie vir my nie. Maar ek sal graag wil kinders hê.

* Haar nuutste fliek, The Burning Plain, begin 5 Junie by ons draai.