Vir die sanger Chris Chameleon maak dit alles heeltemal sin. Ons is almal maar verkleurmannetjies, sê hy. Jy is nie dieselfde persoon voor jou ma, baas, man of vrou, vriend, ouma of ’n vreemdeling op straat nie. Dis nie skynheiligheid nie, maar verskillende omgewings stel bloot verskillende vereistes aan jou.

Dis tog wat ’n verkleurmannetjie doen, hy pas aan by sy omgewing.” Dié interessante, klein reptiel is ook sy alter ego as kunstenaar. “Ek het my die afgelope 22 jaar uitgeleef deur uiteenlopende, gekke karakters as akteur te vertolk. En in musiek deur psigedeliese rock, hard rock, punk, pop, folk, klassiek en as akoestiese digter-liedjieboer.”

Die grense tussen Chris by die huis en Chameleon, die kunstenaar, is duidelik getrek. Hy het dan juis die skeiding deel van sy lewe gemaak vir ’n mate van normaliteit in ’n “skisofreniese bedryf ”. En as hy die loodgieter bel, is dit beter om onbekend te wees, glo hy.!”

Chris reken sy alter ego, die Chameleon-deel, is baie makker as hy. “Daar is dinge wat ek sou doen, maar Chameleon nie. Hy het ’n groter sosiale verantwoordelikheid. Hy kan nie aldag sê en maak soos hy dink en voel nie. Ek wil dikwels goed twiet wat Chameleon nie durf nie. Hy moet sy woorde tel. Altyd beskaafd en beleefd wees, ongeag sy bui. Dis nie dat ek ongepoets en roekeloos is nie, maar ek is net nie so voorbeeldig soos hy nie! Dit lyk vir my na 'n ongemaklike gedoente om voltyds Chris Chameleon te moet wees.”

Jy kan maar net raai wat sy ander alter ego, die punk rocker in Boo! met sy rokkies en grimering, van die stemmige Chameleon dink!

Kom in kontak met jou alter ego

  • Hou op om jouself te veroodeel, ook die eienskappe waarvan jy nie hou nie, sê Elmarie Claassens van Johannesburg. Want die oomblik wat jy dit veroordeel, onderdruk jy dit. Maak die kritiese stem in jou kop stil: moenie dit só doen, of só aantrek nie. Omhels dit, maak dit jou eie.
  • Leer jouself beter ken. Ontwikkel nuwe belangstellings en doen verskillende dinge, al is jy skrikkerig daarvoor. Só ontdek jy nuwe aspekte van jouself. Jy kan ook by ’n sielkundige aanklop.
  • Moenie jouself so ernstig opneem nie. Ander mense sal dan ook makliker met jou kliek, sê sy.