Die karakter wat sy eerste verskyning in April vanjaar by die Binneland-hospitaal gemaak het, is 'n man van vele talente. Hy is beide 'n gekwalifiseerde dokter én prokureur. En as dit nie vir sy fobie vir bakterieë was nie, sou hy sekerlik vir Franz Basson 'n ding of twee kon leer!

Chris sou graag sy lyf meer akteur wou hou, maar as gevolg van die eise wat sy musiekloopbaan aan sy tyd stel, is dit nie altyd moontlik nie.

"Vir musiek moet mens elke dag op 'n ander plek wees en vir toneel elke dag op dieselfde plek. Die lekker ding van sepies is dat mens lank voor die tyd duidelikheid oor die skedulering kan kry en dit is dus die enigste formaat wat my 'n geleentheid bied om ook my liefde vir toneelspel uit te leef," sê Chris

Chris geniet die rol van Thomas Badenhorst, alhoewel hy nie vooraf besef het hoe die karakter hom in sy werklike lewe sou beiinvloed nie: "Ek het onder andere agtergekom dat ek nou meer geneig is om dinge kompulsief te orden, penne en papiere reg te skuif ens. Hierdie karakter is besig om onder my vel in te klim!"
 
Chris is beïndruk met die feit dat daar regte mediese kundiges op die Binneland Sub Judice stel is om seker te maak dat dinge met die werklikheid strook. Daar was ook al heerlike toevallighede en verrassings op stel. "Ek het  eendag gekyk na die papierwerk wat die advokate daar ronddra en het toe die titelakte van n woonstel reg langs my woonstel gesien. Dis hoe ek uitgevind het dat die rekwisiete meesteres toevallig die woonstel langs myne besit wat sy uitverhuur. Ek het ook geleer dat Tobie Cronjé 'n briljante pianis is wat Bach op gehoor speel tydens middagetes."
 
Thomas Badenhorst is vanaf 17 Augustus tot 1 September terug op Binneland Sub Judice. Weeksaande 18h00 op Mnet en kykNet.