Dis ’n baie siek, moeë Christa Steyn wat die deur van haar ateljee in Pretoria-Oos oopmaak.  

Sy’s net ’n skadu van die verhoogpianis wat oor dekades heen ’n ster in die Afrikaanse musiekbedryf geword het.

In Junie 2010 het sy gehoor sy het borskanker en dit het intussen na onder meer haar lewer en niere versprei. Die afgelope paar maande het die siekte haar so afgetakel dat sy sê sy’s nou in haar “genadetyd”. Maar sy hou aan met die chemoterapie, al lyk die prognose hoe sleg. “Ek sal nie ophou veg nie.”  

Waar haar lang blonde hare eens was, is nou ’n kopdoek, haar gesig is onherkenbaar geswel weens die kortisoon en sy moet kort-kort die onderhoud onderbreek omdat sy?naar word as gevolg van die chemoterapie. Maar in haar blou oë sien jy nog die vonkel van die Christa van ouds – die pragtige vrou wat met die klawers kon toor.

Sy het vrede gemaak met die verandering in haar voorkoms weens die chemo en die gewig wat sy die laaste jare aangesit het. Sy spot dit het haar goed gepas in haar en Jannie du Toit se vertoning Jannie en die Tannie. “My hare wat uitgeval het, die swelsel weens die kortisoon waarmee ek behandel word . . . Dis als oukei.

“Soms word ek in die middel van die nag wakker en wonder wanneer gaan dit verby wees . . .”

Maar sy’s nie terneergedruk nie. “My kop is eintlik op ’n wonderlike plek al het die dokter my vandeesweek [dit was middel Desember] ingelig ’n nuwe gewas groei agter my borsbeen. Ek voel my lewe is nou finaal in God se hande. Dit is nie vir my of dokters om te besluit hoeveel maande nog nie.”

* Lees die volle aangrypende onderhoud met Christa in die Maart 2012-uitgawe (vanaf Maandag 13 Februarie te kry).

KONSERT VIR CHRISTA

In die vertoning 20 Hande 1 Hart, wat in April deur die Met Mathys Trust by die KKNK aangebied word, kom tien uiteenlopende kunstenaars op een verhoog saam, met veral twee dinge gemeen: Die klavier en ’n liefdevolle respek vir Christa Steyn.

SARIE is die mediaborg van die Met Mathys Trust, wat op die been gebring is om kunstenaars in krisistye by te staan ná die motorfietsongeluk van die sanger Mathys Roets.

Kunstenaars soos Pedro Kruger, Lize Beekman, Ollie Viljoen, Matthys Maree en Janine Neethling sal te sien wees in dié uitsonderlike musiekervaring met solo’s, duette, improvisasies en skermutselings.

Rand Merchant Bank is ter wille van deursigtigheid die trustee van die trust.

* Die KKNK-vertonings is om 20:30 op 5 April en 10:00 op 6 April in die Absa-burgersentrum en kos R100.