Dis hoekom ons so opgewonde is dat die skeppers van Vlug na Egipte en sy opvolg, Terug na Egipte, saamwerk aan ’n splinternuwe reeks.

Vroeg in 2018 kan ons uitsien na Paul C. Venter en die ewe bekende Human Stark se nuutste kykNET-reeks, Knapsekêrels. Die storie gaan oor vier gesinne – die Bekkers, Zimmermans, Dawidse en Fortuins – wie se lot vervleg raak wanneer ’n lid van elke gesin betrokke raak by ’n jaagtog om lewe en dood. Dit speel af in Johannesburg, vir baie ’n stad met hart en siel, maar dit het ook ’n skadukant.

Van die hoofrolle word vertolk deur die gesoute Dawid Minnaar, Die Boekklub se hartebreker Armand Aucamp en Christia Visser van Tess-faam, een van dié aktrises van ons tyd. Ons dink dis reeds rede genoeg om die reeks te volg.

Dawid beskryf sy rol as die skatryk sakeman Hans Zimmerman as “uitdagend”. “Human, wat die regie gedoen het, is baie ordentlik, kalm en geduldig. Teenoor my, wat baie ongeduldig is. Die drama is in ’n geanimeerde styl gedoen, waaraan ek nie gewoond is nie. Die uitdaging was goed vir my. Ek glo, maak nie saak wat jy doen nie, jy moet eg wees in jou vertolking. En dis waar die uitdaging gelê het.”

FOTO Verskaf

Oor haar rol as Addie, Hans se dogter, sê Christia: “Addie is ’n bedorwe brokkie, naïef, vol planne en draadwerk, maar haar hart is op die regte plek. Ek het haar geniet, sy’s nie op haar mond geval nie! Ons het ’n great cast gehad, van akteurs wat baie meer ervare is as ek tot dié wat nuut op die kassie klim. Dit was vir my ’n voorreg om by hulle almal te kon leer en saam met hulle te speel.”

FOTO Verskaf

Armand vertolk die rol van die lyfwag Mynie Bekker. Hy vertel: “Mense kan hope aksie en avontuur verwag. Die stakes is hoog: die vinnige lewe van die privaatsekerheidsbedryf en dié van hul ryk kliënte wie se lewe hulle moet beskerm. En die harde realiteit en kontras van die werkersklas-gesinne.”

FOTO Verskaf

Ook Sandi Schultz, wat ons in Binnelanders leer ken het, maak ’n welkome terugkeer. “Ek vertolk die rol van dr. Lynn Davids. Sy kry snuf in die neus dat als nie pluis is met haar dogter nie en is erg bekommerd. Dit was interessant om aan so ’n groot produksie te werk. My tonele is oor drie maande geskiet. Party akteurs het ek dalk een keer in daai tyd gesien, ander glad nie. Dit was wel lekker om weer teenoor mense soos Dawid Minnaar te speel.”

FOTO Verskaf

Terence Bridgett, Brendon Daniels, Marisa Drummond, Odelle de Wet en André Odendaal is nog ’n paar van die bekende name in Knapsekêrels, maar ook nuwe talent word bekend gestel.

Ons sal nog tot Dinsdag 9 Januarie 2018 moet wag vir die eerste van 13 episodes. Gaan hou lekker vakansie, want daar is iets om na uit te sien in die nuwe jaar!