Die afgelope week het ons in die SABC2-dramareeks Onder die Suiderkruis die eerste keer kennis gemaak met Jane. Dis die karakter wat deur Christia Visser vertolk word, en met die intrapslag is dit reeds duidelik: Hier het ons 'n buierige, nukkerige kind met 'n sterk wil.

"Jane is kompleks," het Christia aan SARIE.com gesê. "Dit is wonderlik as 'n karakter ‘lae’ het ... om elke laag soos 'n ui te skil totdat jy by haar diepste behoeftes en begeertes uitkom."

Die drama is 'n menslike storie oor delikate verhoudings – met die tema van liefde en haat wat sterk na vore kom. Deurwinterde akteurs soos Michelle Burgers, Stian Bam en Anton Bekker is ook daarin te sien. Johan van Jaarsveld het die draaiboek geskryf.  



Volgens Christia, wat bekroon is vir haar rol as die sekswerker in Tess, laat sy stadig maar seker karakters in. "Daar is geen resep nie. Ek lees die teks soveel as moontlik. Met Jane het ek soms in die middel van die nag wakker geword met nuwe begrip vir hoekom sy sekere besluite geneem het.

"Sy het later onder my vel ingeklim. Jy wil haar eintlik vashou en veilig laat voel. Elizabeth Archer [die regisseur] het ons kreatiewe vryheid gegee en toegelaat om dieper te grou en die karakters ons eie te maak."

Christia sê dit was heerlik om saam met die res van die span te werk: "Dit is lekker as jy so effe geïntimideerd voel deur die akteurs. Dit dwing jou om nog harder te werk en so groei 'n mens."

Die dinamika tussen haar en Stian, Jane se ouer broer, was gemaklik. Chris van Niekerk, Jane se oupa, was "'n fees". En Michelle, Jane se ma, gee so baie om vir haar mede-akteurs. "Ek het baie by elkeen geleer."

Die tonele is meestal in Ottery, Kaapstad, en op die Lourensford-landgoed op Somerset-Wes verfilm.

Christia is ook pas klaar met 'n misdaadreeks vir DStv waaroor sy nog niks wil verklap nie. "Ek hou altyd my oë en ore oop [vir nuwe projekte]. Binnekort gaan ek moontlik nuus hê ... ek wil vanjaar my kreatiwiteit beproef."