Christine Basson, bekend vir haar rol as die moederlike Nora Naudé in die TV-sepie Egoli, is Maandagoggend in Johannesburg oorlede, net ’n dag nadat sy haar 78ste verjaardag gevier het. Haar gesondheid het glo agteruit begin gaan nadat sy in April haar stuitjie gebreek het.

Die geliefde aktrise het die rol van Nora 18 jaar lank vertolk, maar ons het haar leer ken as Marietjie Barnhoorn in Agter elke man. In haar private lewe was sy sku vir die kollig en het feitlik nooit onderhoude toegestaan nie.

As Nora in Egoli (FOTO Facebook / EGOLI Film)
As Nora in Egoli (FOTO Facebook / EGOLI Film)

“Sy was nie Nora Naudé nie,” sê Frans Kalp, teksredakteur van die kykNET-sepie Binnelanders, vir SARIE.com. As hoofskrywer van Egoli het hy byna twee dekades lank saam met Christine gewerk.

“Sy sou die eerste een wees wat sê dat sy nie moederlike instinkte soos Nora het nie. Net baie deernis vir haar medemens.”

Frans het groot respek vir haar gehad. “As aktrise was sy baie gerespekteerd, as kollega was almal lief vir haar. Sy het jong akteurs en nuwelinge bygestaan en sy was goedhartig.”

Volgens Frans was Christine “tot op die been eerlik”. “Sy sou nooit iets sugar-coat nie. As jy verkeerd was, sou sy vir jou sê jy is verkeerd. Sy het ’n baie goeie barometer vir eerlikheid gehad.”

As Nora in Egoli (FOTO Facebook / EGOLI Film)
As Nora in Egoli (FOTO Facebook / EGOLI Film)

Voor Christine drie maande gelede na ’n aftreeoord getrek het, het sy in haar huis in Brixton gewoon.

“’n Vertoon na buite was vir haar onbelangrik. Haar huis was mooi versier binne. En altyd smaakvol. Sy sou jou nooi vir ete en als was dan stylvol gedoen met kristalglase en ’n mooi gedekte tafel. Al was dit net ’n stukkie vis wat ons geëet het.”

Sy was goed met haar finansies en lief vir diere. “Haar diere het eerste gestaan, nommer een. Bless her soul, sy sou wou gehad het ons moet almal vanaand ’n dop op haar drink.”

Talle bekendes het op sosiale media hulde aan haar gebring. Die aktrise Lizz Meiring het geskryf: “Sy was ’n ware legende en ikoon. Sy het my so baie geleer en gementor toe ek nog ’n jong aktrise was. Moenie in vrede gaan rus nie, liefste Christine! Dis nie in jou dinamiese aard nie. En dankie vir alles. Gaan jou mis.”

Ook haar Egoli-medester Ivan Zimmerman het haar beskryf as een van sy grootste inspirasies. “Uitsonderlike werksetiek en talent! Van my grootste lesse as akteur in die gekose medium (TV-sepie) het ek by Christine Basson geleer. I salute you!