Christo sê hy is “soort van op die verhoog gebore”. Sy ooms is die regisseur Lloyd Davids en Peter-John Davids, wat baie betrokke was by jeugteater, onder meer as beoordelaar. Goliath Davids is sy bekende akteuroupa vir wie ons in dramas soos Fiela se kind en Soutmansland gesien het. Al sy broers, Lee-Roy, Wesley, Marlin en Goliath, is akteurs. Sy sussie, Jenny-Lee, is nog op skool.

Vinette Ebrahim, wat Errol se aanneem-ma, Charmaine, in 7de Laan en sy ma in My naam is Ellen Pakkies speel, sê Christo is “’n veelsydige, ongelooflik intelligente talent”.

Hy laat haar besonder veilig voel op die verhoog.

“Christo is besig om die deure van die bedryf nie net oop te skop nie, maar wawyd oop te hou. Daarby is hy nederig en het hy baie goeie maniere. Wat ’n kombinasie!” sê Vinette.

Soos alle nuwe, jong akteurs sou Christo eers in net 20 of 30 episodes van 7de Laan gespeel het, vertel Danie Odendaal, uitvoerende regisseur. Maar nou is honderde al verby. Danie sê dié akteur se veelsydigheid verstom hom: “Christo was al by soveel verskillende storielyne betrokke – hartroerende, menslike drama, komedie, ingewikkelde verhoudings en donker spanningsverhale. Maar elke keer kom hy met iets nuuts en vars vorendag.”

Christo Davids se 10 drome

  1. In 'n groot musiekblyspel op Broadway speel, juis omdat ek nie kan sing nie.
  2. Toneelspeel in die Londense Weseinde. Ek sal graag Othello in 'n teater daar wil vertolk. Soos baie ander Shakespeare-karakters is Othello divers en vol emosie.
  3. Italië toe gaan. Ek wil verstaan wat Dan Brown in sy boek The Da Vince Code beskryf en ek wil sien waar die mafia in Sicilië ontstaan het.
  4. Die regisseur van 'n groot fliek wees. Een van daai aksieprente, maar dit moet op die Kaapse Vlakte afspeel waar ek grootgeword het.
  5. 'n Huis hê, want een of ander tyd moet ek seker settle. Verkieslik Clifton in Kaapstad. Daar's mos niks mee verkeerd om te droom nie!
  6. 'n Vrou kry om alles mee te deel. Een of ander tyd in jou lewe wil jy iemand hê saam met wie jy kan oud word. Die regte vrou het 'n goeie sin vir humor en haar voete op die aarde.
  7. 'n Klomp kinders hê, want ek kom uit 'n groot gesin van vyf broers en een suster. Jy leer baie by familie en ek wil hê my kinders moet dit ook eendag so beleef.
  8. My eie produksie-maatskappy begin om unieke Suid-Afrikaanse werke te vervaardig. Ek glo ons bly in 'n land wat oorborrel van stories wat vertel wil word. As ons nie ons eie stories gaan vertel nie, gaan Hollywood én Bollywood dit namens ons doen.
  9. 'n Boek skryf oor die mooi dinge in die lewe wat ons soms miskyk.
  10. 'n Rooi 1967-Ford Mustang V8 bestuur, want elke seuntjie kort 'n speelding.