In April vanjaar is Cindy Nell, Pasella-aanbieder en gewese Mej. SA, met haar droomman, die sakeman Clive Roberts, getroud. Sy het pas teruggekeer van hul eerste wittebrood in Mauritius. (Later vanjaar vertrek hulle op 'n tweede wittebrood na Europa.) Marguerite van Wyk het met haar gesels.

Wat is die mooiste herinnering wat jy teruggebring het?
Dit was prentjiemooi. Ek was emosioneel oor als en rasend gelukkig. Ek het een middag, terwyl Clive geslaap het, na die son gekyk en was so diep gelukkig en het gehoop dié oomblik gaan nooit weg nie. Ek dra dié oomblik saam met my, al weet ek ons gaan nog baklei!

Wat dink jy is die resep vir 'n gelukkige huwelik?
Onvoorwaardelike liefde en 'n mens moet mekaar nie probeer verander nie. Probeer daagliks nader aan mekaar groei, hou die seks opwindend, glo in jou man, luister na mekaar, gee mekaar vryheid en vertrou mekaar.

Gaan jy nog werk as jy getroud is?
Beslis. Een week by die huis en ek is reeds verveeld. Ek is mal daaroor om te werk en dis baie belangrik vir my om my eie lewe te hê en onafhanklik te wees.

Wil julle gou met 'n gesin begin?
Ons wil beslis 'n gesin hê. Ek wil drie kinders hê en Clive twee! Ons gee nie om of dit seuns of dogters is nie, ons bid net vir gesonde kinders. Ek dink ek sal 'n great mamma wees. My ma is die beste ma ooit en as ek net die helfte so goed soos sy is, sal ek 'n sukses wees. Clive sal 'n wonderlike pa wees en hy is reg vir kinders. Ons hou van reis, so ons sal eers so 'n paar jaar wag voor ons met 'n gesin begin. Ek dink mense wat trou, kry te vinnig kinders en geniet dit nie eers om lank genoeg net op hul eie te wees nie.

Wat geniet jy van die getroude lewe en hoekom beveel jy dit aan?
Dis wonderlik, ek is uitgeknip vir die getroude lewe en het al my jol-jare gehad. My gunsteling-liedjie aan Clive is van die Dixie Chicks, ''Easy Silence''. Hy is dít vir my. Wanneer daar geen gesprek nodig is nie. Hy is my rusplek en my beskermer. 'n Vrou wil liefgehê en gekomplimenteer, beskerm en gewaardeer word. Clive is dít en veel meer vir my. Hy luister na my stories, troos my as ek huil oor die mal wêreld waarvan ek deel is, versorg my as ek siek is, gee my raad en het altyd 'n mooi en wyse woord. Hy is gek oor my en elke vrou hou daarvan.

Hoe laat jy hóm spesiaal voel?
Ek stuur hom op skattejagte vir geskenkies, stuur blomme na sy werk, neem hom uit, masseer hom, gee hom baie spasie, reël spesiale partytjies vir sy verjaarsdag, neem sy motor om gewas te word, krap sy kop as ons in die motor ry, hou ons sekslewe baie opwindend, stuur mooi SMS'e en bring vir hom 'n glas water voor bedtyd.

Jy het 'n baie gejaagde lewe as glanspersoon - hoe gaan jy toesien dat julle genoeg tyd saam deurbring?
Dis moeilik, maar my prioriteite het verander en hy is nommer een. Ek woon minder geleenthede by en kyk eerder CNN saam met hom. Ons bespreek naweke weg en ek gaan na die plaas op die Middellande saam met hom. Dan speel ons skaak en ek kyk hoe hy kunsvlieghengel. Ons is gelukkig sterk individue wat hou van spasie.

Waar woon julle nou?
In Morningside, Sandton, maar ons beplan om binnekort ons droomhuis te bou. Ons soek nog net die regte stukkie grond in 'n rustige deel naby Johannesburg. Eendag sal ons dalk Durban toe trek. Dis waar Clive oorspronklik vandaan kom en ons wil ook baie tyd op die plaas deurbring.

Is Clive baie romanties?
Hy is nie Don Juan nie, maar hy is besorgd oor my en sagsinnig. Net reg vir my. Ek hou van 'n bietjie macho-geit. As hulle té mushie is, irriteer hulle my ook.

Aan watter groot projekte werk jy op die oomblik?
'n Nuwe grimeerreeks, Essence. Ek begin ook Caribbean Tan na meer lande uitvoer. My grootste projek is die huwelik, en mag dit altyd die grootste projek wees waaraan ek werk!