Hulle sê sy’s ons grootste hoop op ’n Mej. Wêreld-titel in ’n lang tyd. En as jy Claudia Henkel só kyk, waarom nie?

foto's LEANA CLUNIES-ROSS
deur SONIA CABANO

As jy, soos ek, wonder waarom skoonheidswedstryde in die jaar 2005 steeds aftrek kry,
hoef jy Claudia Henkel, die nuutste Mej. Suid-Afrika, net een kyk te gee. Sy is eenvoudig verspot mooi, en alles omtrent haar is op die oortreffende vlak.
Om haar te beskryf is om ’n bestekopname te doen van fisieke perfeksie: van die blinkste
hare tot die langste bene – ’n model en voorbladgesig met boonop die vriendelikste
geaardheid. Verklaar haar tot prinses.
Anneline Kriel (Bacon), Mej. Wêreld van 1974, meen Claudia hét dit. “Sy is beeldskoon,
lank en lenig. Sy het al die eienskappe van ’n Mej. Wêreld, selfs ‘n Mej. Heelal.
“Skoonheidswedstryde is deesdae veel meer van ’n sakebedryf as in my dae, toe ons vir die pret deelgeneem het. Ek was Jool koningin, ’n fotograaf het my foto’s na Rapport gestuur, en toe ek my oë uitvee, het ek die kroon gedra! Dit was ’n wonderlike geleentheid wat ek vir niks sou wou ontbeer nie. Tog dink ek soms dit het alles wat ek verder in my lewe bereik het, oorskadu.”
Is dit wat vir Claudia voorlê?
“Die lewe wat ná die kroon jaar op ’n meisie wag,” sê Anneline, “hang suiwer af van hoe sy haar geleenthede benut.”
Maar watter soort vrou is dit wat ambisies koester om ’n skoonheidskroon te dra in hierdie siniese era, wat vereis dat vroue beloon word vir wat tussen hul ore sit en nie net op grond van voorkoms nie? Nogal ’n student in die regte?
Liesl Krause-Wiid, teoloog en skoonheidskundige, gewese tydskrif redakteur en huidige Mevrou Verenigde Nasies, is nie sinies daaroor nie: “’n Titel kan aangewend word tot groot voordeel van ’n individu sowel as ’n gemeenskap. Jy kan aandag vestig op wel synbehoeftes,
sosiale kwessies én jou eie sakebelange. As jy die kans kry om ’n titel te wen, waarom nie? Die meeste vroue wat aan skoonheidswedstryde deelneem, is in elk geval betrokke by
die skoonheidsbedryf, en kan net baat vind by die blootstelling wat ’n titel meebring.”
Claudia is nie ’n stereotiepe chocolate box beauty queen nie, sê haar modelagent, Monica Smyth van Heads.
“Sy’s ’n vlekkelose juweel en ’n vernuftige sakevrou. Sy is beeldskoon, ja, maar ook koel en berekend. Dis ’n gedugte kombinasie waarmee sy die wêreld kan verower.”
In Huisgenoot het dié wat weet, gesê: Claudia is ons groot hoop op die Mej. Wêreld-titel in Desember. Eers is daar ook die Mej. Heelal-wedstryd in Junie in Bangkok. Volgens Kerishnie Naicker, ’n voorganger, kan Claudia “ons beste kans in die Mej. Heelal-wedstryd” wees.

Tydens die fotosessie
Praat jy lank genoeg met Claudia, besef jy gou-gou sukses het nie saam met die genetiese Krismisboks van haar mate en bates uit die lug geval nie.
“Ek het hard gewerk om hier te kom,” verseker sy jou vrolik. “Dit was nie ’n gelukskoot nie!”
“Hier” beteken, onder meer, die studio in Melville waar Claudia vir SARIE gekiek word. Die atmosfeer is bolangs rustig genoeg om ’n buitestander die onderliggende spanning te laat miskyk – die intense fokus van ’n toegewyde skoonheidspan wat bekwaam te werk gaan om Claudia op haar heel beste te laat lyk. ’n Kristalsnoer om haar slanke nek en skouers skitter soos sy haar ken ’n aks draai, lig of laat sak om die juiste tikkie begeerlikheid te vertoon. Haar glasblou oë soos ysblokkies wat stadig smelt en begin smeul onder die warm
kameraligte.
Die fotograaf bring ’n speelse glimlag na die prinses se mondhoeke met ’n stroom gefluisterde komplimente.
“Daar’s hy, nog ’n bietjie, nog so, nog… Fantasties! Het hom!”
Dan’s die fotosessie verby, en saam met die aandrok en halssnoer glip die ysprinses weg en laat ’n skamerige 21-jarige meisie agter …
“Haar gelaatstrekke is in volmaakte proporsie,” sê Christine Ferreira, SARIE se skoonheidsredakteur. “Sy’s ’n briljante en veelsydige model, maar vandat sy die titel verower het, is daar ’n nuwe elegansie en selfbewussyn aan haar.”
Lesley Whitby, die grimeerkunstenaar, voeg by: “Gewone modelle kan maar vaal wees sonder hul gesig verf en ontwerpersmonderings, amper soos verkleurmannetjies. Claudia kan enige rol voor die kamera vertolk, maar jy sal haar nooit kan beskryf as iemand wat op die
agtergrond verdwyn nie.”

Oor Claudia
Klasmaats aan Tuks, waar Claudia ’n tweedejaar LL.B-student is, is egter verbaas om te hoor dié “valerige meisie” is op 11 Desember verlede jaar by Sun City as mooiste in die land gekroon. “Sy’s nie eintlik die soort wat die ouens se aandag trek nie,” vertel ’n vriendin.
Wat sê Claudia?
“Jy’s een van drie pragtige, lenige susters,” pols ek haar. “Loop mans in stringe agter julle aan?”
Sy skater. “Glad nie! Ons het al begin spot dat daar ’n vloek op ons rus. Glo my,
ons kry nooit dates nie!”
“Te intimiderend,” sê die fotograaf droogweg. “Die mans skrik hulle seker boeglam vir julle.”
Dalk flits dieselfde gedagte deur die kop van die sakeman wat later langs juffrou Henkel by die restaurantbuffet staan.
Want sy oë is min of meer op die vlak van haar naeltjie, waar sy op haar steierhoë
hakke geduldig neffens hom wag vir haar skeppie kos. (“Ek’s 183 cm lank, en 126 cm
van heup tot hak, kaalvoet,” giggel sy toe ek op presiese mate aandring.)
Die man loer een, twee maal terug, maak vervaard keel skoon en druk sy ken blosend af om met onnodige konsentrasie weer eens die slaaikeuse te bestudeer.
Dis darem ’n karige bordjie daardie. Moet jy versigtig eet?
O, ja. Ek vermy stysel soos rys, aartappels en pasta. Hoogstens twee maal per
week, soms ’n bakkie hawermoutpap vir ontbyt. Verder leef ek op ’n hoëproteïen-,
laevet-dieet. Dit verbeter my spierdefinisie. Dis vir my belangrik om
skraal, fiks én ferm te wees. (Sy weeg 60 kg, daardie 183 cm.) Ek gim elke dag vir
’n uur en ’n half, doen kardiovaskulêre oefening, en gaan nêrens sonder my draagbare trappie en gewigte nie! My ouers was voorheen liggaamsbouers, en het my van uitstekende advies voorsien oor die korrekte dieet en leefstyl. (Ek ploeg deur die stapel kos op my eie bord,
en wonder watter soort vitamiene ek moet inkry om vinniger te kan skryf …)

Die skoonheidswêreld
Is die skoonheidswêreld erg mededingend? Wys julle naels vir mekaar agter die skerms?
Dis maar soos enige ander veld waar ’n klomp ambisieuse mense meeding om die top-posisie. Onthou, ons mik vir goud! As ons prokureurs of argitekte of dokters was, sou niemand dit vreemd gevind het nie, waarom dan onder skoonheidskoninginne?
Maar, nee wat, laat ek jou gerusstel. Die meisies is onderling altyd vriendelik en ondersteunend, en het simpatie met mekaar se teleurstellings. Môre kan dit jy wees wat ’n spogtitel verloor, wat jou ken moet hoog hou en jou trane moet sluk omdat die prys by jou verbygegaan het. Daarom gedra ons ons altyd met waardigheid en trots. ’n Mens moet nooit
dink dit gáán met jou gebeur nie. Om te wen is geen uitgemaakte saak nie.
Skoonheidstitels is so half uitgedien.

Het jy as top-model nog so iets nodig om jou loopbaan te bevorder?
Die wedywering in die modewêreld is fel. Ek het aan Mej. SA deelgeneem sodat ek my kon vestig as meer as net nóg ’n kommoditeit in die mark. Ek wou uitstyg bo die res. Ek het menings en sienswyses wat ek aan die wêreld wil oordra. As ’n model sal niemand belangstel in my menings nie, maar as ’n persoonlikheid wel.
Dit gaan nie soseer oor die pryse en byvoordele nie – en daar’s vele – maar oor die eer van die titel. Ek wil graag onthou word as die Mej. SA wat die glans teruggesit het in die titel, wat
weliswaar in onlangse jare so half begin taan het. Ek wil as ambassadeur vir ons pragtige land optree by die Mej. Heelal-wedstryd. Almal oorsee weet wie Nelson Mandela is, maar daar
is nog so baie van ons hier, ontwerpers en kunstenaars, byvoorbeeld, wat uitsonderlike dinge vermag. Hopelik kan ek daardie boodskap oordra. Interessant genoeg kry ek groot steun uit die swart gemeenskap, waar sulke skoonheidstitels steeds bewonder word.

Waar het alles vir jou begin, en hoe het jy voorberei vir Mej. SA?
Ek het ’n loopplankkursus in Pretoria gevolg, en in 1999 ingeskryf vir die Mej. SA Tiener-wedstryd, waar ek onder die eerste vyf geëindig het. Dit was ’n groot aansporing.
Ek was destyds maar vyftien, werklik te onervare vir hierdie veeleisende bedryf. In matriek het ek my skoolloopbaan tydelik opgeskort toe ek as een van die New Faces ’n kontrak
losgeslaan het vir modelwerk oorsee; ook waardevolle ondervinding. My ouers het my aangemoedig om elke geleentheid aan te gryp.
Die twee maande voor die Mej. SA-wedstryd het ek alles ingesit, hard geoefen, reg geëet, laat nagte en partytjies vermy. En gesorg dat ek op die hoogte van sake is met algemene kennis, soos wie al die ministers in ons kabinet is, wat in die politiek aangaan en so aan. As skoonheidskoningin word van jou verwag om onderhoudend te kan gesels oor sake van die dag; jy wil nie net nog ’n blonde pop wees nie.

Wat is die voordele van asemrowend mooi wees? Wat kry jy wat ander mense nie beskore is nie?
Ek veronderstel ek tref die oog, mense wil my leer ken. Ek kan baie kontakte maak op alle vlakke van ons samelewing. Ek is van nature geïnteresseerd in ander mense, nuuskierig
oor die lewe, en dis ’n bonus dat mense in my ook belangstel. As ’n skoonheidskoningin professioneel optree, kan sy veel doen om haar land gunstig te verteenwoordig in die
buitewêreld. Ek glo deur te alle tye myself te wees, beleefd, ingelig en aangenaam, kan ek dit doen. Ek wil mense help verenig.

Hoe lyk die pad vorentoe?
Ek brand om my jaar as Mej. SA te benut. Saam met ’n regskwalifi kasie wil ek mense inlig oor hul konstitusionele regte. Dalk deur ’n TV-reeks of dokumentêre programme. Ek sou bitter graag ’n loopbaan as TV-aanbieder of selfs aktrise wou hê. Maar daar lê nog
’n lang jaar voor, wie weet wat alles intussen kan gebeur? Nou moet ek net my moue oprol en my pligte as Mej. SA nakom. Modelwerk word vir eers op die lange baan geskuif.

Hoe verloop ’n dag in die lewe van ’n Mej. SA?
Bedrywig! Daar is die fotosessies en per soonlike optredes. Die Mej. SA kantoor behartig nou my besprekings – voorheen het my modelagentskap in Johannesburg my loopbaan bestuur. Ek woon steeds klas by waar moontlik. My studie is baie belangrik. Al die meisies wat deelgeneem het aan die Mej. SA wedstryd het ander loopbaan-opsies om op terug te val. Ek ruim daagliks tyd in vir die gimnasium – ek kan nooit laat slaplê nie. Wanneer ek reis, spring ek sommer in my kamer rond vir oefening. Ek sosialiseer maar min. Dit gaan druk
om al my afsprake na te kom; sommige dae is dit ’n geskarrel van vroeg tot laat en eindig ek poot-uit in die bed.

Tyd vir kêrels?
Daar is wel iemand spesiaals – noem dit maar ’n hegte vriendskap met byvoordele!
Maar hy besef dat ek ongelukkig nie te geheg aan hom kan raak tydens my jaar as Mej. SA nie. Die titel verwag mos van my om ’n mejuffrou te bly!

Wat moet ‘n man hê om jou aandag te behou?
’n Ondeunde sin vir humor en stuitige pret! Jy’t twee pragtige susters en jou ma is self ’n prentjie.

Vertel meer oor jou agtergrond?
Ek’s op 22 April gebore, onder die sterreteken van die Bul – ek’s koppig, gedetermineerd, met ’n onwrikbare wil om bo uit te kom. Ons gesin woon nog almal op ons kleinhoewe in Pretoria-Oos. My ma is ’n toegewyde huisvrou en begaafde tuinier, wat ’n lushof en
towertuiste vir ons geskep het. My pa, Irmin, is Duits. Hy’s ’n chirurg.
Hulle is baie trots op my prestasies en ondersteun my volkome. Ek en my sussies is baie geheg aan mekaar en my grootste pret is saam met hulle. Nicola, sy’s 20, is in bemarking, en Anica (25) doen grafiese ontwerp.
Ek was kleintyd maar ’n lelike eendjie, met draadjies aan my tande! Op skool wou ek net uitblink in alles – my studie, netbal, tennis, menseredding.
Ek het nie baie vriendinne gehad nie, my doel gerigtheid en ambisie om te presteer was dalk intimiderend. Dit het my ontstel toe ek nie as prefek gekies is nie; só het ons maar
ons teleurstellings.
Die aand met my kroning, toe ek die Mej. Veet Mooiste Bene-wedstryd gewen het, was ek kortstondig baie afgehaal, want dis gewoonlik ’n troosprys.
Groot was die vreugde dus toe ek nie alleen dít nie, maar ook die spogtitel verower!
Dit wys jou net, toewyding werp vrugte af. En ek glo ek verdien wat ek bereik het. Dis ’n droom wat waar geword het.
Daarmee rangskik juffrou Henkel die laaste van haar slaai mooi netjies op haar bord, sluk ’n laaste teugie mineraalwater af en deel drukkies uit voordat sy grasieus by die skuifdeure
uitseil na haar volgende afspraak. Selfoon teen haar oor vasgeklem onderhandel sy om die kristalsnoer van die vroeëre fotosessie in die hande te kry vir ’n geleentheid wat sy
moet bywoon.

GUNSTELINGE
Kosbederf: Wine Gums en slaai! Ek hou van kos, maar verkies om maer te wees.
Kleur: Ysblou.
Drankie: Ystee en sjampanje.
Boek: Ek is ’n tydskrifverslaafde en verslind alles van Vogue tot Time.
Tydverdryf: Gim. Ek kuier graag saam met my mense of speel met my troetelmeerkat,  Bandit.
Rolmodel: Charlize Theron. Sy’s die toonbeeld van wat deursettingsvermoë kan vermag. En prinses Diana. Sy’t meer gegee as wat sy ontvang het.
Parfuum: Carolina Herrera se 212. Ek het nooit ’n slegte dag as ek dit dra nie.
Ontwerper: Gideon.
Plek op aarde: Andorra, Florence en San Bernadetto, ’n eiland aan die kus van Italië.
Uitrusting: Ek kan heeldag in my pajamas rondloop as ek kans kry, maar niks troef ’n mooi aandrok by ’n blink geleentheid nie.