Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vanjaar 25 Eeufeesmedaljes aan Suid-Afrikaners wat oor 'n tydperk 'n besondere bydrae gelewer het tot die wetenskappe, die kunste en/of kultuur toegeken. Die sanger-liedjieskrywer Coenie de Villiers is een van hulle. Marguerite van Wyk het met hom gesels oor Afrikaanse musiek en sy nuwe album, Dekade.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor van die toekenning?
Absoluut stomgeslaan. Dis bietjie soos die Hertzogprys vir popsangers. 'n Ongelooflike eer en dit maak 'n ou nederig en baie dankbaar.

Wat is jou rol as Afrikaanse liedjieskrywer en musikant. Moet jy opvoed én vermaak?
Ek dink nie ek het 'n rol nie. Ek moet probeer skryf en skep. En dít moet ek so goed as moontlik doen.

Jou nuwe CD, Dekade, is 'n keur van jou treffers van die afgelope tien jaar. Een van die nuwe songs wat daarop uitstaan, is "Gebed van 'n reisiger". Vertel meer oor dié liedjie . . .
Baie dierbare vriende van ons het na Australië verhuis. Ons vergeet hoeveel derduisende Suid-Afrikaners woon oorsee. Ek het gewonder wat om vir hulle te gee, toe skryf ek dié versie vir hulle om saam te neem toe hulle weg is. Ek het nog 'n bietjie musiek bygeroer en dit toe op die album gesit. Dis 'n versie vir almal wat ver is. As ek dit by vertonings speel, kom mense ná die tyd met rooigehuilde oë na my en sê dis vir hulle mooi en laat hulle dink aan hul kinders in Vancouver of waar ook al, en dis vir 'n liedjieskrywer lekker. Ek hoop dit beteken baie vir mense.

Hoe het jy die liedjies uitgesoek wat verskyn op Dekade?
Dis maar 'n mog het troffe oefening. Ek het probeer kyk na waarvan mense hou in vertonings. Ek het sestien albums wat verskyn het, maar slegs snitte uit die afgelope ses albums gekies. Een wat vir my uitstaan, is die "Pie Jesu" wat ek opgeneem het saam met Chris Chameleon, Jannie du Toit en 'n volledige simfonie-orkes.

Watter ander projekte beplan jy vir die res van die jaar?
My opera, Maximilian, wat op 10 Junie in Klagenfurt se operahuis in Oostenryk open met 'n simfonie-orkes en koor. Ek is 'n algehele wrak. John Jackson is die librettis.

Dink jy Afrikaanse musiek is in 'n goeie toestand?
Die ekonomie is nie in 'n goeie toestand nie en almal voel dit. Maar dis wonderlik dat daar elke dag nuwe mense is wat skryf en skep. Maak nie saak watter soort musiek dit is nie – stamptreffers is net so geldig soos enigiets anders.

Waar kry jy al jou inspirasie vandaan?
Ek het lankal opgegee om te probeer uitwerk hoe dit werk. Ek weet nie waar sit die kraan nie. Anders het ek dit seker al probeer afdraai. Ek skryf seker maar omdat ek dit kan doen.