Quinne Brown is klaar met 7de Laan. Nou ontgin en ontdek sy nuwe plekke en horisonne.

deur MARTIE SWANEPOEL
hooffoto's LEANA CLUNIES-ROSS
stilering Christine Ferreira
en Fanie Cronjé

Gaan 7de Laan se Connie dalk haar kelnerin-uniform verruil vir ’n pos as TV aanbieder?
SARIE spoor Quinne Brown in Amerika op om te bevestig wat ’n voëltjie in ons oor gefluister het, maar dié meisiekind hou so lekker vakansie dat sy niks voortydig
wil uitlap nie.
Boonop is daar ’n man op die Amerikaanse horison …
“Ek weet nog glad nie wat ek gaan doen nie. Die aanbod het gekom op dieselfde dag dat ek Amerika toe gevlieg het. Wat ’n mal dag! Maar natuurlik is ek opgewonde oor die geleentheid, en praat in Desember (2004) verder met die vervaardigers van die program.
“Wie weet tog wat als volgende jaar gaan gebeur, en sal die een wat weet, my asseblief inlig?! Dis opwindend,” skryf sy per e-pos uit haar geliefde stad San Francisco.
Quinne beleef nou ’n opwindende oorgangstydperk ná 7de Laan. Sy het as ’t ware die wêreld aan haar voete. Die groot besluite lê soos aanloklike lekkernye voor haar uitgestal.
Maar daar is op die oomblik baie dinge wat sy eers wil koester, sê sy.
As sy terugkom van haar vakansie in Amerika, sal sy graag haar kursusse in die fynere kunsies van die vermaakbedryf by die Johannesburgse Stadskouburg wil voortsit. En dan wil sy ruimte maak vir nuwe dinge en mense. Sy wil tyd bestee aan haar stokperdjies: fotografie, skryf, teken, reis ...
En dan is daar ook haar nuwe groot liefde om aan aandag te gee. Sy is nog suinig om oor hom uit te wei. Hy is ’n Amerikaner wat sy ontmoet het toe sy einde 2002 met ’n silwer Chevroletsedan kuslangs na Kalifornië gereis het. Sy het die “wonderlike man” deur vriende ontmoet.
“Hy is ’n sakeman en hy is ongelooflik fantasties,” sê sy dromerig.
En dis al wat sy in dié stadium bereid is om te sê. Nou wil sy eers net reis, en reis, en reis.

Sy bly steeds ’n kind van Afrika
Haar reis na Amerika van November tot middel-Desember was ’n geleentheid om ná 7de Laan te gaan asem skep en om haar kop “reg reg te kry vir die wegwees van haar familie by die Laan”. Sy het plekke soos Mexiko, Texas en “die wille Vegas” besoek.
Sy wou Kersfees tuis by haar mense wees. Sy woon saam met haar ma, Salome, ouma, Quinta, broer, Richard, en suster, Esther, in Melville, Johannesburg.
Gaan die Amerikaanse liefde haar nie dalk uit die land lok nie?
Haar lippe bly gesnoer, maar sy sê beslis dat sy ’n kind van Afrika in murg en been is. “Trots Suid-Afrikaans” noem sy haarself. “Natuurlik sal ek ’n geleentheid om oorsee te gaan werk en woon aangryp. Dit sal onwys wees om dit nie te doen nie. Maar ek sal nooit permanent oorsee kan gaan woon nie. Ek sal altyd weer wil terugkeer na my land.”
Al gaan sy ook waar in die wêreld, is daar ’n stukkie Afrika wat sy in haar hart saamdra.
“Kleure, mense, pap en vleis en musiek. Amanda Strydom, David Kramer, Miriam Makeba, Hugh Masekela, Vusi Mahlasela, Abdullah Ibrahim, Gloria Bosman. Musiek is soos ’n stuk van ’n land se siel wat jy saamdra,” sê sy.
Sy glo dis dom om te dink ’n mens sal meer ondervinding oorsee opdoen as hier. “Hier is so ’n magdom mense met internasionale kennis. My ondervinding in Suid-Afrika sal altyd
my stewige fondament wees.”

Dis nie maklik om 7de Laan te verlaat nie
’n Deel van haar leerskool was haar tyd by 7de Laan. Dit was nie vir haar maklik om te besluit om weg te gaan nie.
“Daar is ’n tyd om te kom, en ’n tyd om te gaan,” glo sy.
Net soos Connie as model Amerika toe gaan om nuwe uitdagings aan te pak, voel Quinne ook sy moet vir ’n wyle vry soos ’n vlinder vlieg ...
“Vir my wentel die lewe in siklusse. Elke nou en dan is dit tyd vir vernuwing. Ek is nou vyf jaar by 7de Laan. Ek is 25 jaar oud. Dit is tyd ...” sê sy een somermiddag met die gewoel van Melville se régte 7de Laan om ons.
Sy kyk na die kelnerinne wat om ons rondtrippel met skinkborde vol cappuccino’s. Sy en Connie wil vir eers as kelnerin “uittree”, sê sy laggend.
“Ek het reeds vir ’n ruk die innerlike wete gehad dat ek ’n bietjie moet wegbreek. Ek is onder die Tweeling-sterreteken gebore en ons hou van verandering. Die soeke na verandering
kom van binne my. Daar is nie eksterne invloede nie. Ek is nie moeg vir 7de Laan nie. Ek het net ’n breekkans nodig.”

Haar tyd by 7de Laan
Sy sal haar goeie vriende op stel mis. Elkeen was vir haar spesiaal op sy of haar eie manier. Party was raadgewers, ander mentors, ander lagmaats.
“Ek weet dit klink soos ’n cliché as ’n mens sê ons is soos familie, maar dit is so. Daar is ’n baie spesiale gees. Soos familie lag en baklei ons saam, maar ons staan deur dik en dun
bymekaar.”
Die span sal haar ook mis. Die vervaardigers het haar duidelik laat verstaan die deur staan oop as sy wil terugkom.
“Vinette Ebrahim was vir my soos ’n ma op stel, sy het altyd raad en positiewe kritiek gegee. Wilna Snyman het my baie van respek vir die beroep geleer. Elma Postma, Bertha le Roux, Vuyelwa Booi, Neil Sandilands, Waldi Schultz, Nico Panagiotopoulos, Francois Lendsley, Chris van Niekerk, Diaan Lawrenson, almal op stel was my vriende. Ek neem van elkeen ’n stukkie saam.”
Sy het by elke regisseur wat oor die jare aan 7de Laan gewerk het, iets geleer. Haar eerste regisseur, Mark Graham, het haar onder sy vlerk geneem toe sy nog niks geweet het nie
en by Henry Milne, Pierre van Pletzen en Alwyn Swart het sy ’n rykdom geleer. Henry is haar mentor. Hulle het onlangs saam aan Hartsondes by die Oudtshoorn-kunstefees gewerk.
“Hy het my geleer om op my instink staat te maak. Hy sê toneelspel kom uit die guts uit. Hy het my van die begin aangemoedig om te wys wat ek het sodat hy kan weet waaraan
om te werk.”
By Henry het sy ook geleer om ’n rol haar eie te maak. Sy kon haar met Connie vereenselwig, want sy het hope ervaring as kelnerin in haar pa, Gerhard, se restaurant
in Johannesburg opgedoen. Daarby is sy en Connie ewe avontuurlustig.
“Ek is ’n aartsopportunis! Ek glo daaraan om geleenthede aan te gryp.
“Ek en Connie het saam gegroei. Connie het gegroei van iemand wat net op die agtergrond beweeg het tot ’n sentrale karakter. Ek is trots op haar, want deur haar het ek ’n hoop
ervaring opgedoen. Ek is steeds dankbaar dat Annie Basson my as onervare aktrise raakgesien het en die kans gegun het.
“Ek het nie drama op universiteit of kollege geneem nie. Ek is ná skool vir ’n jaar oorsee en het omgewingsbestuur by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit geswot. Baie geheime
van die beroep het ek by 7de Laan geleer.”
Sy is dankbaar sy gaan op goeie voet weg by 7de Laan. Sy glo daaraan om die goeie uit ’n situasie te neem.

Sy is gereed om nóg te leer
Tog voel sy dis nou tyd om meer kennis op te doen. Ná haar laaste verpligtinge by 7de Laan het sy haar aangesluit by die Akteursentrum by die Johannesburgse Stadskouburg, waar sy
tot drie keer per week slypklasse by regisseurs, choreograwe, dansers en akteurs met internasionale ervaring bywoon.
“Ek voel nog soos ’n groentjie in die bedryf. Daar is nog so baie wat ek wil leer. Ek kan allermins nou agteroor sit en dink ek is ‘suksesvol’.”
Sy neem klas in dans, stem-ontwikkeling, sang en toneelspel.
“’n Mens moet jou belangstelling en honger vir toneelspel aan die lewe hou as jy tydelik ‘werkloos’ is; jy moet as’t ware fiks bly in jou veld.”
Tussen die slypskole deur werk haar kop kliphard aan planne om te reis. Sy het nog altyd wanderlust in haar are gehad. Haar ouers het hulle as kinders gereeld saam oorsee geneem.
“Reis is deel van my leerproses vir die lewe. Ek is in my element as ek ’n vreemde plek kan verken.”

Haar reise
Sy het onlangs ’n reis van die Keirivier langs die Tuinroete tot op Hermanus aangepak. Sy was by van haar gunstelingplekke in Suid-Afrika: die Wildekus, Cintsa naby Oos-Londen, Hogsback. Sy hou gewoonlik dagboek van haar ervaringe en emosies.
“Dis deel van my groeiproses as mens. Van my reise was spirituele ervarings. Op sommige plekke is dit asof die engele op die aarde neerdaal en die lug en veld aanraak. Soms is ’n leë
strand en die oop vlaktes soos ’n oop pad na die siel.
“Die onbekende laat my lig en lekker voel.”

Die toekoms
Sy het al by geleentheid gesê sy sal eendag wil trou en kinders hê, maar dis iets wat “sal gebeur wanneer dit gebeur”. Trou en kinders is vir haar verantwoordelikhede wat nie lig opgeneem moet word nie. “As die tyd reg is, sal dit gebeur, maar intussen het ek nog te veel geleenthede wat lok.”
Sy wil eers haar paar maande van sabbatical een dag op ’n slag neem.
“Dis soms lekker om net niks te doen nie. Soms maak die niksdoen my bang. Maar ek glo die geleenthede gaan kom en dan gaan ek dit aangryp.
“’n Mens moet die lewe en jou werk geniet. ’n Mens hoef nie te suffer om sukses te hê nie. Sukses is iets wat jy moet aangryp.”