Dit het al drie jaar gelede gebeur, maar Corine du Toit (32) is nog elke dag dankbaar.

Sy was op 'n bewegende voertuig om wild te kyk op 'n plaas buite Villiers in die Vrystaat toe sy afgeval het. Haar neus is vergruis, en sy sou nooit kon dink dat sy vandag net 'n paar ligte snymerkies op haar gesig sou oorhou nie.

"Net ná die ongeluk, vóór my neus opgebou is, het ek verskriklik gelyk. Ek was geskok toe ek myself in die spieël sien. Dit was 'n vreemdeling wat na my teruggestaar het. Ek kon lank nie na myself kyk nie," vertel sy. Sy't ses maande later vir Huisgenoot geposeer, maar dit was omtrent 'n jaar voordat sy weer foto's vir haar modelportefeulje laat neem het. Dis ook eers nou dat sy openhartig oor daardie tyd kan praat . . .

Sy's steeds beeldskoon terwyl sy model speel vir SARIE se fotosessie, haar heel eerste glans-voorblad sedert die ongeluk wat byna alles verander het. Destyds was sy bekommerd oor haar voorkoms, bang oor hoe dit haar werk sal beïnvloed. Want haar skoonheid en ervaring as internasionale model het tóg vir haar deure oopgemaak, sodat sy kon wys waartoe sy as aktrise in staat is.

Sonder enige formele dramaopleiding het sy vier jaar lank die prominente rol van Jane in die sepie Egoli gespeel, onlangs 'n rol in 'n Amerikaanse rolprent losgeslaan en van Dinsdag, 7 April, sien ons haar as een van die hoofspelers in kykNET se nuwe dramareeks Getroud met rugby.

Die ongeluk was 'n groot uitdaging vir haar verhouding met Raz Jensen (38), 'n sakekonsultant. Hulle was nog net 'n maand saam toe hulle vir 'n wegbreeknaweek na die plaas is.

Corine tydens SARIE-fotosessie
&aposn Bietjie Parys - Corine die internasionale model
&aposn Bietjie Parys - Corine die internasionale model Corine du Toit
 

"Raz het homself ná die ongeluk bewys. Hy het nie toegelaat dat ek depressief raak nie. Hy kon maklik gedink het hy moet eerder hardloop, maar hy het gebly. Ek moes vir 'n tweede operasie gaan sodat my neusbrug opgebou kon word en ons het nie geweet hoe ek sou lyk nie.

"Maar Raz het my ondersteun, emosioneel en ook op 'n praktiese vlak. Hy het my oral heen rondgery. Selfs met 'n plastiekpyp by die huis opgedaag waarin ek my arm kon sit terwyl ek my trui aantrek, want met 'n gebreekte gewrig was dit te seer as ek dit net so probeer doen het."

Tog het sy op 'n manier rustigheid oor haar beserings gehad. "Diep binne my het ek geweet alles gaan oukei wees.'' Ironies genoeg was haar neus die een ding wat sy nie met plastiese chirurgie sou wou verander nie. "Ek was so gelukkig met my neus," lag sy. Deesdae het haar neus meer wip, maar sy's tevrede met die resultate.

Ná die ongeluk was sy 'n paar maande lank in en uit Egoli met 'n neusstut terwyl sy herstel het. Daarna kon haar karakter, Jane, weer voortgaan met haar streke. Haar loopbaan het nou 'n nuwe rigting ingeslaan. In Getroud met rugby is haar karakter aan die ontvangkant van katterigheid, anders as Jane.

"Ek wil vir eers wegbly van feeksrolle om nie getipeer te word nie," sê sy. Sy speel Inge Bekker,'n prokureur wat wens haar man wil klaarkry met rugby sodat hulle hul "regte" lewe kan begin en saam 'n prokureursfirma kan oopmaak. Sy is glad nie beïndruk met die kompetisie en nydigheid van die rugbywêreld nie. Corine dink die reeks weerspieël die werklikheid van wat agter die rugbyskerms gebeur. In so 'n mate dat sy die enigste vroue-brunet daarin is, spot sy.

Mense gaan beslis van die reeks hou, sê sy, veral oor die vlieg-teen-die-muurgevoel, want wie hou nie van afloer nie! Die uitnodiging na die bekendstelling het juis gelees: "Die manne speel rugby, die vroue speel die game."

Die rol was 'n meevallertjie. Al is die tonele toe Jane in Egoli in hegtenis geneem is eers onlangs uitgesaai,

 

As ek bang is vir iets, weet ek ek móét dit doen

 het Corine die reeks al 'n paar maande gelede verlaat om op die Amerikaanse fliek Florida Road te konsentreer.

"Toe doen ek tussendeur 'n oudisie vir Getroud met rugby en kry die rol. Dit was nie deel van die plan nie, maar dis fabulous! Dis oorweldigend om vryskutwerk te doen en ek is bang, maar ek is ook gek na uitdagings. As ek bang is vir iets, weet ek ek móét dit doen. Dit gaan eindelik die moeite werd wees."
Sy begin in Mei aan Florida Road werk en dis nié 'n Bollywood-fliek nie.

"Almal Bollywood, Bollywood, maar die fliek het 'n Amerikaanse vervaardiger en regisseur. Daar speel wel twee Bollywood-sterre in, Vipin Sharma en Ashmit Patel, en dit gaan 'n Bollywood-gevoel hê. Dit gaan oor 'n Indiese familie wat van Indië na Durban trek. Ek gaan 'n wannabe-aktrise speel op wie die jongste boetie verlief raak. Dis 'n oulike fliek."

Dramatiese pad na herstel

Corine glo dis 'n wonderwerk dat haar gesig so goed

herstel het ná haar ongeluk in 2006. Haar neusbrug het tot in haar sinusholtes gesplinter en haar linkerkantse oogholtebeen het gekraak. Die ligament van haar linkeroog het ook geskeur, maar het weer vanself geheg. Haar oogholtebeen het ook herstel.

 Wonder bo wonder het sy nie sinusprobleme of knaende hoofpyne nie, sê sy.

Corine in SARIE (2005) voor haar ongeluk Corine du Toit skitter weer voor die kamera
VOOR:Corine in SARIE April 2005, voor haar ongeluk. NA: Corine in SARIE Mei 2009

Dr. Duane Mol, 'n oor-neus-en-keelchirurg van Alberton, wat aan Corine se gesig gewerk het, sê dit het baie gehelp dat sy goeie gene het.

Dis wat gebeur het:

  • Corine val op haar neus en haar neusbrug (3,5 cm in lengte en 4 cm in diepte) splinter in 26 stukkies tot in haar sinusholtes.
  • Dr. Mol haal die stukkies been uit Corine se gesig.
  • Hy boor gaatjies in die groter stukke en heg dit met draadjies.
  • Die kleiner stukkies maak hy fyn sodat dit soos "klei" is en druk dit tussen die groter dele om weer haar neus te vorm.
  • Dié wond moet nou eers gesond word.
  • Drie maande later bou hy haar neusbrug op met kraakbeen wat hy uit die binnekant van haar neus gehaal het.
 

Corine het instinktief geweet dis tyd om aan te beweeg, weg van Egoli. Jane het vir haar te "hard" geword.

"In die begin was dit pret om die feeks te speel, maar dit het later moeilik geraak, veral omdat ek nie 'n mislike mens is nie.Teen die einde was Jane 'n lelike, ongelukkige mens. Die enigste manier hoe sy kon beter voel, was om ander te laat sleg voel oor hulself. Ek het soms saans neerslagtig geraak as ek sekere storielyne moes doen." Hoewel sy klaar besluit het om Egoli te verlaat toe die aankondiging kom dat dit in 2010 gaan eindig, was dit steeds 'n skok.

"Dit is vir sommige kykers soos 'n leefwyse. Hulle sal sê niemand moet hulle sesuur bel nie, want hulle kyk Egoli. Dit gaan 'n groot leemte los. Ek gaan die mense op stel die meeste mis.

"Eckard Rabe (Chris Edwards) was altyd daar met 'n bemoedigende woord. Hy was eers 'n onderwyser, so hy is goed daarmee om te help en te leer." As vryskut-aktrise het sy darem nou meer tyd vir familie en vriende, en veral kuier saam met Raz. Sy het hom deur vriende ontmoet. Hy is 'n Deen, maar die kultuurverskille pla nie.

"Ons het taamlik dieselfde grootgeword. Toe hy jonk was, het hy vir 'n ruk saam met sy gesin in Tanzanië gebly. Hy het Afrika in sy bloed."

As kind het Corine nooit oor haar troudag gedroom nie en sy doen dit steeds nie.

"Ons voel nog te jonk. Ons wil net op lekker vakansies gaan!" Dis veral Raz se gemaklikheid tussen mense wat haar aantrek, want sy is anders. As sy 'n geselligheid bywoon, staan sy eerder in 'n hoek en luister hoe die ander gesels. Wat jy nooit sou kon raai nie, want sy het nege jaar lank voor flitsende kameras gepronk as model in lande soos Frankryk, Italië, Duitsland en Griekeland.

"As ek met een mens praat, is ek oukei, maar ek sukkel om in groepe te gesels. Toe ek modelwerk gedoen het, het die ander modelle gedink ek is mislik, want ek het my eenkant gehou."

Die skaam meisie van Bloemfontein . . . Sy gaan vir oulaas as Jane gesig wys in Egoli voordat dit finaal eindig. Sy oorweeg ook werk as TV-aanbieder en meld gereeld vir oudisies aan. Want om te perform is in haar bloed, nes sy kleintyd op haar ouers se Abba-kassette voor die spieël gedoen het.

*Besoek Corine se webtuiste by www.corinedutoit.com.

*Lees ook die artikel Só oefen 'n rugbykaptein waarin Henré Pretorius vertel van sy voorbereiding vir sy rol in Getroud met rugby.