Ons het haar leer ken as die donkerkop skoonheid met die engelstem. Maar deesdae is Corlea Botha ’n vurige rooikop én dis als te danke aan lockdown

Dit was hoogtyd, reken Corlea. “Ek het vir agt jaar dieselfde haarkleur gehad. Dit was opwindend om vir ’n slag iets anders te doen. En ek reken dit gaan minstens nog ’n halwe jaar vat voor ek weer op die verhoog kom, onder verhoogligte moet staan en bekommer oor my haarkleur nie.” Dis háár ‘lockdown-lokke’ en sy is gek daaroor! 

En het rooikoppe meer pret? “Ek weet nie! Maar dis steeds pret om vir myself in die speel te kyk,” skerts Corlea.

Nés die res van die wêreld se bevolking, het 2020 nie uitgedraai soos Corlea gehoop het nie: Grendeltyd en maskers was beslis nie op haar nuwejaarsvoornemens nie. Boonop het die kunsbedryf ook ’n lelike terugslag beleef. 

Corlea is bekommerd oor die industrie. “Maar nie net in Suid-Afrika nie ... wêreldwyd. Almal is onseker oor hierdie tydperk. Maar daar sal ook weer ’n lig aan die einde van die tonnel wees.”

Sy is egter dankbaar ... “Ek is dankbaar dat ek die ins and outs van my loopbaan ken en verstaan: Van die bemarking tot by die regte; die aanlyn-moontlikheid en selfs die tegniek om te sing. Dit wat ek lank terug geleer het, kom my nou handig te pas en ek kan iets doen wat my finansiële inkomste kan bied.”

Musiek was en sal nog altyd haar passie wees. “Ek sal nooit daai passie kan verloor nie. Maar ek het op ’n stadium gevoel dat dit net begin moeite en werk word. Nou deur die sanglesse wat ek gee, het ek van voor af verlief geraak op die proses, op musiek, op hoe ’n mens se stem groei en hoe jy verskillende tegnieke en klanke kan aanpas tot die lied en die optrede.”

Dís hierdie vernuwe liefde op musiek en die kuns daarvan, wat haar positief hou.

Corlea het egter ’n belangrike les geleer. “Ons as kunstenaars dink ons is net dit wat ons fans van ons verwag, dít wat mense op die verhoog sien. Ons loopbaan is wie ons is. Maar dis nie die waarheid nie. Ons het baie meer om te bied as net ons musiek. Eerstens is ek ’n vrou, ek is ’n mens met gevoelens en emosies, ek is iemand wat iets kan bied. My loopbaan is net ’n derde van wat ek is.”

Juis daaroor gee sy terug. Van 8 Augustus tot 15 Augustus hou Corlea en die voorkomskonsultant Elzaan van der Merwe ’n aanlyn-konsert, Hartklop van ’n Vrou, ten bate van die Abraham Kriel Kinderhuis. Albei is beskermvroue vir die kinderhuis. “Ons wou werklik ’n verskil maak en ons stemme gee vir ’n worthy cause.”

En met vrouemaand sonder Corlea drie vroue uit wat haar steeds inspireer. “My ontslape ouma was ’n groot inspirasie ... te midde van al haar terugslae het sy altyd gegee. Sy was ’n pragtige mens en soveel mense was lief vir haar. En dan natuurlik my ma ... dieselfde lesse wat my ouma haar geleer het, het sy my geleer. Die derde vrou sal Elzaan wees. Sy is ’n force of nature, sy kan soveel verskillende goed doen. Sy weet so baie van so baie dinge. Ek kan so baie by haar leer!”

Sy droom om haar eerste solo-konsert op te neem ... Maar sy reken daar moet genoeg drama en flair wees. In haar kop maak sy reeds planne.