Die 22-jarige Nadia Herbst, wat die rol vertolk, sê Olivia is die “girl next door”. “Sy is glad nie ’n dom poppie nie. Sy steur haar nie aan mans nie en as hulle probeer ogies maak, het sy net so ’n ‘ag shame’-houding. Sy is baie diep,” vertel Nadia.

Die blondekop-Paarliet lyk nie verniet so bekend nie: Sy het in 2015 aan die sangkompetisie Idols deelgeneem! Sy het die top-10 gehaal.


Idols was haar eerste tree in die vermaaklikheidsbedryf, maar werk was steeds skaars. Haar droom om in die bedryf te werk, ondanks geen formele opleiding in sang of drama nie, het haar egter die afgelope twee jaar gedryf om aan te hou probeer.

“Ek moes my hele lewe lank werk vir wat ek wou hê. Niks het ooit in my skoot geval nie.”

Vroeër vanjaar was sy naby aan moed opgee.

“Ek het al drie keer ’n oudisie by 7de Laan afgelê. Toe ek steeds geen rol kry nie, het ek besluit ek gaan dit eerder los. As sanger kon ek ook geen deurbraak maak nie. Ek wou net aangaan met my lewe, want ek moet werk. Ek het ondervinding in bemarking en het begin werk soek daarin.”


Op ’n dag kry sy ’n oproep van 7de Laan.

“Dit was die 25ste Augustus. Ek het die rol van Olivia gekry en op 28 Augustus my eerste toneel geskiet. Dis ongelooflik hoe die lewe homself uitsorteer. Ek was baie bekommerd oor my toekoms. Ek het nie geweet wat om te doen en wat van my gaan word nie. Dit was toe dat ek besef het ek gaan okei wees. Al wat ek hoef te doen is om net te probeer.”

Maar Nadia hou haar lyf nie net aktrise nie, sy sing steeds en studeer bemarking deur Unisa – sy is al aan die einde van haar tweede jaar.

Bedags neem sy tonele op vir 7de Laan en saans tree sy op by die Rockwood-teater in Pretoria, as deel van ’n rock-skou wat nog tot 31 Desember duur.

“Ek leer my woorde in my kar, op stel en saans by die huis. Ek het altyd ’n teks in die hand. My vriende sê ek is missing in action. Ek gaan nie vanjaar op vakansie nie, maar ek gee nie om nie. Ek leef my droom uit. En ek hou baie van werk. Ek noem dit nie eens werk nie!”

FOTO VERSKAF


Sy gaan beslis aandag trek. Tydens haar laaste twee jare in die Hoërskool Paarl Gimnasium het sy modelwerk gedoen.

Haar ouers, Koos en Ronel, woon en werk steeds daar.

“My pa ontwerp meubels en doen houtwerk soos kombuiskaste. My ma werk in versekering.”

Sy is dolgelukkig. “Als het net in plek geval!”