“Jis, jis, jis, hoe gaan dit met julle vanaand?” En meer as 1,5 miljoen TV-kykers sit klaar reggeskuif voor die TV vir nog ’n uitsending van Johan Stemmet se uiters gewilde Noot vir Noot.

Hy’t ’n ver pad gekom van Rondebosch Boys’ High in Kaapstad, waar hy eens op ’n tyd onderwyser was (in Afrikaans, geskiedenis en musiek), maar Johan hou nie daarvan om homself suksesvol te noem nie. Hy’t eerder “redelik geslaag” in wat hy graag wou doen - en het nog nie bereik wat hy wil nie! “As jy op ’n punt kom waar jy voel jy het alles gedoen, wat bly oor? Die lewe is ’n groot wiel wat aanmekaar draai en jy moet op daai wiel bly.”

Toe hy en Johan van Rensburg, sy vennoot van byna 30 jaar, mekaar in 1980 in die SAUK se foyer raakgeloop het, het hy nooit kon dink hulle sou die suksesvolste speletjiesprogram tot
nog toe op SA televisie op die been bring nie. Binnekort word die 32ste reeks van Noot vir Noot uitgesaai (van 6 Februarie tot 3 Julie). Hul kontrak met die SAUK sal dié immergewilde program tot met sy 35ste reeks vat - en daarmee saam sy 20ste jaar op TV. Noot vir Noot, waarvan die konsep al aan oorsese lande soos Brittanje verkoop is, is nie Johan se enigste “kind” nie. Vroeër
jare was daar musiekprogramme soos Debuut, Platepraatjies en Teletreffers, wat hy aangebied en saam met Johan van Rensburg ontwikkel het. Daar’s ook belangstelling in Japan om die konsep van Wise Up! te koop - dis ’n speletjiesprogram wat al vyf jaar op SABC2 uitgesaai word om lees- en syfervaardighede onder jong mense te bevorder. En Johan beplan om sy dokumentêre program, Fly the Beloved Country (hy het video-opnames van SA vanuit sy girokopter gemaak), na internasionale filmmarkte te neem om te kyk of dit oorsee uitgesaai kan word.

Hy het nog altyd geweet wat werk en hóé om dit te laat werk. Gedink die Brit Simon Fuller se Pop Idol (Idols hier by ons) is oorspronklik? Glad nie, sê Johan. Hy’t onlangs ’n idee vir ’n nuwe speletjiesprogram aan ’n paneel voorgestel. Om sy punt te bewys dat daar geen nuwe idees is nie, net nuwe maniere om bestaande idees aan te pak, het hy vir hulle gesê: “Wat van ons maak ’n program met vier beoordelaars wat oor die land toer en luister na mense wat sing. Uit daardie mense word deelnemers gekies wat Johannesburg toe gaan en op stel weer vir die beoordelaars sing. Aan die einde van die reeks kies ons ’n wenner.” Toe die paneel sê dis nie oorspronklik nie, dis Idols, sê Johan: “Nee, dis Debuut, wat op TV was lank vóór Idols. Dis dieselfde idee, net ’n ander formaat.”

Hy sit agter sy lessenaar in sy kantoor in die boomryke Linden, Johannesburg. Sy moderne blou geruite hemp is dieselfde kleur as sy vriendelike oë. Hy lyk nie 57 nie. En hy is nog glád nie
reg om eens te dínk aan aftree nie . . .

Vanwaar Noot vir Noot se sukses?

Eerstens, die interaktiwiteit van die program. Mense hou daarvan om in hul sitkamers te sit en saam te speel. Ons het ook oor die jare subtiele veranderinge gemaak. Ons pas die musiek en speletjies gereeld aan, maar só dat jy dit skaars agterkom. Die evergreen liedjies bly, maar daar’s ook byvoorbeeld ’n nuwe Coldplay-liedjie, sodat die program vars bly vir die jonger gehoor. Jy moet verander. Enigiets wat nie beweeg of verander nie, stagneer en word vrot.

Die program vier oor twee jaar (in 2011) sy 20ste jaar op TV. Gaan julle groot makietie hou?

Beslis, maar dit sal ook ’n tyd wees waarin groot besluite geneem word. Ek en Johan van Rensburg sal dalk nie meer voor die kamera op Noot vir Noot wees nie. Ek sal waarskynlik agter die
skerms as regisseur werk en Johan as vervaardiger. Ons word ouer, ons hoor nie meer so goed nie en onthou nie meer so vinnig nie. Ons kan die program vars hou, maar nie onsself nie. ’n
Lekker jong outjie sal dan moontlik Noot vir Noot aanbied. Jong mense wil graag iemand jonk op TV sien. Daar gaan ’n tyd kom wat Johan Stemmet sal moet sê: “Dankie vir soveel jare,
maar dis tyd om te groet.”

Dink jy nie Noot vir Noot = Johan Stemmet nie?

Ek hoop nie so nie. Enige program wat net aanbieder-gebonde is, sê niks van die program self nie. Ek’s net daar om die program te stuur, dit moet sterk genoeg wees om op sy eie te kan
oorleef en ek dink dit ís. Ek het myself nog nooit op die voorgrond gesit ten koste van Noot vir Noot nie.

Beteken dit ons gaan jou nie meer op TV sien nie?

Ek en Riaan Cruywagen is seker die aanbieders wat die langste op TV is. Ek sal graag ’n geselsprogram wil begin. Solank die Here my spaar met gesondheid, sal ek ’n aanbieder wees.

Dit moet moeilik wees om al die kykers gelukkig te hou?

Toe ons besluit het om ook Engelse kunstenaars te laat optree en internasionale musiek in die program te gebruik, het ’n oom ons baie kwaad gebel. Hy’t gesê ons beweeg na “hulle”
kant toe. Toe sê ek nee, oom verstaan verkeerd, ons bring “hulle” na ons kant toe! Ek het eenkeer ’n Indiër-man in ’n winkel in Margate raakgeloop. Hy’t na my toe gehardloop en geskreeu: “Noot vir Noot! Noot vir Noot!” en gesê hy mis nie ’n episode nie. Hy’t vrot Afrikaans gepraat en ek het Engels met hom probeer praat. Maar hy’t bly Afrikaans praat. Ek vra toe: “Verstaan
jy wat in die program aangaan?” En hy sê: “Elke Vrydagaand, ek verstaan ’n bietjie meer.”

Watter deelnemer staan vir jou uit?

Daar was ’n vrou in haar 60’s van Gonubie. Sy het die eindronde gehaal en toe sy die jackpot wen, begin sy kliphard huil. Ons kry altyd die trane wat loop as iemand wen, maar sy het
getjánk. Ek was half ongemaklik en toe sê sy: “Now I can visit my children in Australia.” Die program help ons om vir ons medemens ’n bietjie plesier te gee en dis ’n groot voorreg. Ek doen
iets wat lekker is, dan klap die mense nog vir my hande én ek kry geld daarvoor. Wat ’n wonderlike job!

Jy’s opgewonde oor élke gaskunstenaar. Dit kan sekerlik nie wees nie?

My rol is nie om te oordeel nie. Ek weet wanneer iemand goed is en wanneer nie. Ek is daar om vir kunstenaars ’n platform te gee om op te tree. Dis dan hulle verantwoordelikheid om
mense te oortuig. Ek kan mos nie ’n outjie op dieselfde verhoog as Kurt Darren sit, maar nie vir hulle dieselfde aankondiging gee nie.

Hoekom is jy en Johan van Rensburg goeie vennote?

Ons verskil 100% van mekaar. Ek’s ’n ekstrovert en hy ’n introvert. Ons het een gemeenskaplike belangstelling: musiek. Ek wil dinge dadelik doen. Hy wil eers ’n bietjie daaroor dink. Ek
neem vinnig besluite, soms die verkeerdes. Hy vat sy tyd as hy besluite neem, gewoonlik die regtes. As jy net soos jou vennoot dink en voel, het jy nie ’n vennoot nodig nie.

Jy geniet jou werk baie?

Dis hoekom ek slaag in wat ek doen. My werk is ’n stokperdjie wat ek van kindsbeen af het. In die jare 50 was ek mal daaroor om op die grond voor my ouma se gramophone te lê en saam te
sing “I love to go to Sunday school”. Noot vir Noot gee my dieselfde kick.

Hoe belangrik is geld vir jou?

Ek meet sukses nie aan geld nie, maar aan hoeveel van my talent ek gebruik. Jou talente word nie vir jou gegee met ’n begin- en ’n eindpunt nie. Jy moet dit ontwikkel sodat jy voel daar’s altyd nog iets om te bereik. Jy het ’n sekere sintuig, noem dit maar jou sesde sintuig, wat jou laat besef wanneer dit die einde van jou wêreld is. Dít is wanneer jy voel jy het niks meer om te bereik nie, wanneer jy nou wragtig nie meer lus is vir ’n ding nie. Ek’s nog nie daar nie.

Jy lyk baie positief op TV. Is dit hoe jy is?

Jy moet onderskei tussen positiwiteit en opgewondenheid. Ek’s maklik positief oor dinge, omdat ek opgewonde raak. Jy moet kan opgewonde wees oor iets. Maar ek kan ook negatief wees.
Ek het nou die dag vir Steve Hofmeyr gesê ons is al so lank aan die gang, ons moet tog afbrekende kritiek kan hanteer, maar nie een van ons kry dit reg om ons rug daarop te draai nie. Dit vat
aan jou.

Maak dit jou seer as mense grappe maak oor jou kleredrag op Noot vir Noot?

Glad nie. Ons verander ons kleredrag heeltyd. Ons trek sekere klere vir ’n doel aan. Dink jy ek sal op straat met ’n onderbaadjie loop soos dié waarmee ek al op TV verskyn het? Nooit nie!
Dis nie ék wat daar staan en aanbied nie, dis die aanbieder van Noot vir Noot. Ons het daai goed aangetrek om mense te laat praat. Volgende week kyk hulle weer om te sien wat ek aan
het. Ek dra nie meer onderbaadjies op die program nie, want ek word ouer. Ek kan nie op 57 met ’n bont onderbaadjie rondloop nie. Dit sal deesdae seker half belaglik lyk!

Hoe verskil Johan Stemmet, die mens, van die aanbieder?

Ek gaan nie in ’n vertrek instap en sê: “Jis, jis, jis, jis, hoe gaan dit met julle vanaand?” nie. Ek voel nie ek moet in my normale lewe heeltyd met dieselfde energie met mense kommunikeer as
wat ek dit tydens Noot vir Noot moet doen ter wille van die program se tempo nie. Ek’s ’n redelike stil mens, maar soos Johan, die aanbieder, hou ek daarvan om met mense te gesels. Ek sal
’n halfuur op ’n parkeerterrein met ’n karwag gesels om uit te vind wie hy is.

Is die sê-goed en aanwendsels wat jy op Noot vir Noot het ook deel van jou?

My sê-goed en duimpies wat ek gegooi het, was my maniertjies wat in die program na vore gekom het, maar ek doen dit nie meer nie. Daar mag dalk weer ’n gewoonte sy verskyning maak.
Ek kry my beste kritiek van iemand soos Casper de Vries wat grappe oor my maak. As ek daarna kyk, wonder ek: “Doen ek dit regtig?” Want dan moet ek ophou om dit te doen. Baie
mense het my al in die straat voorgekeer en gesê: “Kyk hoe kyk hy vir my”, en dis oukei. Ek het dit nooit begin nie, so terloops. Dis een van Casper se sê-goed wat hy aan my toegedig het en
toe het ek dit oorgeneem!

Is jy ’n perfeksionis?

Soveel so dat dit ’n pyn is. Ek’s nie iemand wat iets halfgebak doen nie. Toe ek geleer het om te vlieg was ek nie tevrede om net te vlieg nie. Ek wou my instrument- en naggradering kry en ek
wou tweemotorige vliegtuie vlieg, nie net enkelmotoriges nie. Met alles wat ek doen, wil ek so ver moontlik gaan. My girokopter is een van my groot passies. As dinge druk en ek kan nie
terugdruk nie, klim ek in daai dingetjie en vergeet van alles.

Watter ander passies het jy?

Ek skryf musiek. My werk is ook ’n passie. Ek doen niks wat nie lekker is nie. En ek hou daarvan om na my wildplasie in die Waterberge te ontsnap.

Wat is jou gunsteling-musiek?

Ek’s mal oor Portugese fado-musiek. Toe ek ’n student was, het ek ’n ruk in Portugal gebly om spesiaal daarna te luister. Ek hou ook van klassieke kitaarmusiek. Ek luister enigiets van
country tot Jacques Brel tot Bach.

Is jy ’n groot gesinsman?

Ek was nog altyd mal daaroor om saam met my gesin te kuier, maar my kinders is nou uit die huis. Noot vir Noot was ’n groot deel van my twee seuns se kindertyd. Albei is lief vir musiek. Carl (25) het onlangs sy meestersgraad in drama by Tukkies klaargemaak, waar hy ook klas gegee het. Hy gaan in die nuwe dramareeks op kykNET, Getroud met rugby, speel. Etienne (23) werk in die IT-bedryf.

Vertel van jou vrou.
Colleen is ’n skoolhoof by ’n hoërskool in Johannesburg. Ons is 29 jaar getroud. Ons het verskillende persoonlikhede. Ek verstaan haar wêreld, want ek was self sewe jaar lank ’n onderwyser.
Sy verstaan myne, want sy werk met die tellings op Noot vir Noot. Ons steun mekaar 100% in wat ons doen en gee mekaar ruimte binne ons eie beroepe om te bly ontwikkel. Dis verskriklik
belangrik, anders kom daar wrywing.

Jy praat van ’n nuwe CD?

Ek gaan in 2009 beslis ’n nuwe Afrikaanse geestelike album maak. Ek wil iets doen wat regtig besonders en oorspronklik is.

Gunstelinge

BOEK The Pillars of the Earth en ander Ken Follett-boeke.
Maar ek lees wyd.

ROLPRENT Braveheart

AKTEUR EN AKTRISE Robert de Niro en Cameron Diaz

DRANKIE Rooiwyn

KOS Seekos

PLEK Bosveld

MUSIEKKUNSTENAAR Die Beatles, nog al die jare.

LIEDJIE “You’ll be in my heart” van Phil Collins en
natuurlik “Danny Boy”

BESTE EIENSKAP Ek hou van mense

SLEGSTE EIENSKAP Ek kan nie negatiewe, afbrekende
kritiek hanteer nie. Dit krap sommer my dag om.