Dit het alles in die 70’s in ’n koffiewinkel in Melville, Johannesburg, begin. Danie Odendaal het vir ’n vriend sit en wag en om hom rondgekyk, en daar was hulle almal – 7de Laan se karakters.

“Hilda” het oorkant hom gesit, die oujongnooi met die serpie om haar nek wat aan ’n snytjie anchovy toast geknibbel het. “Madel” het ingestap, formidabel en belangrik. ’n Kelnerin het in haar mini-rompie rondgetrippel en ’n jong sjef het ’n paartjie buite gegroet . . .

Destyds al het Danie ’n sepie oor alledaagse mense vir die SAUK voorgestel. Maar die uitsaaier het gevoel kykers is nog nie reg daarvoor nie, en die idee is laai toe.

Toe Egoli in 1992 begin, is Danie as hoofskrywer aangestel. Ná agt jaar daar het hy gevoel hy’t ’n versadigingspunt bereik en het hy weer, saam met Annie Basson, wat ook by Egoli gewerk het as “boksvervaardiger“ (die regisseur se tweede paar oë), aan 7de Laan as konsep begin skaaf.

’n Sepie oor gewone mense wat by mekaar se lewens betrokke raak? Dit kon ’n treffer wees, of misluk. Teen dié tyd weet ons almal wat die uitslag was – op 4 April het dié Suid-Afrikaanse instelling sy tiende verjaardag gevier. En watter gloriejare was dit nie!

Danie, 7de Laan se grootbaas, kry steeds inspirasie by gewone mense. Nie te lank gelede nie het hy op die Johannesburgse lughawe sit en wag vir ’n vlug.

“Ek het ’n intense gesprek tussen drie mense gesien. Ek het vasgenael gesit en probeer uitwerk wat hul verhouding met mekaar is en waaroor hulle praat. Daardie storielyn gaan een van die dae in 7de Laan wees.” As uitvoerende vervaardiger help Danie om storielyne uit te dink, maar sy oog vir detail strek tot by die akteurs se voorkoms.

Kyk Danie se gunsteling-Laan-foto's

“My kop sal soms die hele aand maal oor iets soos San-Mari (Amalia Uys) se hare! Ek sal wonder of Amalia ’n ineenstorting gaan kry as ek vir haar sê haar hare moet ’n skakering rooier.”

Sommige mense by 7de Laan noem hom ’n beheervraat, erken hy self. “In die begin het ek dit ontken, maar deesdae dink ek ek ís seker een, anders sou ek nie hierdie werk kon doen nie.”

Danie het aan die Universiteit Stellenbosch, die Sorbonne-universiteit in Parys én Trinity College in Cambridge, Engeland, studeer.

“Ek het altyd geglo ek sou as ’n lektor êrens eindig, maar toe ek by die Engels-departement by Wits begin klasgee, was dit nie stimulerend genoeg nie. Ek wou self skeppend wees, nie iets wat ander mense geskep het aan taamlik belangelose studente opdis nie.Toe TV in SA begin, het ek as regisseur by die SAUK gaan werk en dadelik tuis gevoel.”

Nou is sy gehoor meer as twee miljoen Suid-Afrikaners – elke weekdag.

’n Mylpaal-verjaardag – hoe voel dit?

Dis mind-blowing. Die tien jaar het soos ’n oogwink verbygegaan. Ek dink dis omdat my dae gevul is met nuwe karakters en stories. As ek sien hoe ’n akteur ná ’n ruk die skerm ophelder, vergeet ek van al die smart en trane wat dit gevat het om daar te kom. Dít maak 7de Laan ná al die jare nog die moeite werd.

Jy glo die mense wat vir jou werk, is van die beste in die bedryf?

Beslis. Jy kry mos mense wat hulself met minder talentvolle mense omring sodat hulle goed kan voel oor hulself. Ek sorg dat ek sterk pilare om my het, juis omdat ek nie so goed is met alles nie. Dis nie altyd maklik nie. As jy jouself met sterk mense omring, daag hulle jou uit, hulle “ja-baas” jou nie heeltyd nie. Dít is hoe ek ingeligte besluite neem.

Het jy ooit gedink 7de Laan gaan so ’n groot sukses wees?

Ek het in die konsep geglo, maar dit was ’n groot geloofsprong. Destyds was sepies glitzy en dit het ’n Amerikaanse gevoel gehad. Maar ek het geweet jy identifiseer nooit op dieselfde vlak met iemand van The Bold and the Beautiful soos met iemand op straat nie. Jy sal nie glo hoeveel mense het al vir my gesê Hilda en Oubaas is soos hulle nie. Dan dink ek behoede ons, want hulle is sulke eienaardige karakters!

Mariska Coetzee, ’n 7de Laan-aanhanger, wil juis weet waar kom die inspirasie vir Oubaas vandaan?

Een van ons skrywers, Kate Williams, het voorgestel ons skep ’n karakter wat sy idiome en woorde deurmekaar gebruik. Ek was skepties. Ek’t gedink dit kan vir ’n reeks van 13 of 26 episodes werk, maar hoe gaan jy daagliks met nuwe sê-goed vorendag kom? In die begin het Oubaas net ’n paar snaakse goedjies gesê. Vandag dis die skrywers vir hom sê-goed uit ’n onuitputbare bron op. Oubaas het integriteit en menslikheid. Ek dink dis hoekom kykers so lief is vir hom.

Die jong akteurs beskou 7de Laan as ’n leerskool. Is dit een van jou doelwitte?

Ja. Annie (Basson, toesighoudende vervaardiger) is deels verantwoordelik vir die rolverdeling. Ek sê altyd sy’s soos ’n boer wat renperde teel. Sy weet watter ‘perde’ se gene reg is. Sy kyk na jong, rou spelers en sien talent raak. Ek sê baie vir haar sy’s mal as sy op ’n sekere akteur besluit. Dan sê sy: “Glo my, hier is talent.” En sy’s altyd reg. Soms vat dit ’n jaar vir iemand om te blom, maar dit gebeur. Dis hoekom so baie akteurs as ’n kelner by Oppiekoffie begin. Daar word baie hard aan jong akteurs geskaaf en die regisseurs kan genadeloos wees. 7de Laan is ’n masjien wat draai en ons is streng oor gehalte.

Is daar soms akteurs wat nie die mas opkom nie?

Wanneer ons die rolverdeling doen, is ons reeds taamlik seker die akteur het die nodige talent. Ons het Alyce se ouers byvoorbeeld drie keer oor gekies. Dit was moeilik, omdat Alyce ’n kugel is. Sy moes black diamond-ouers hê. In die tien jaar was daar nog net twee akteurs wat nie die mas kon opkom nie. Ons het hulle uitgeskryf. Jy kan nie toelaat dat ’n goeie storielyn sink omdat die speler nie opgewasse is nie.

Jy sal nie glo hoeveel mense het al vir my gesê Hilda en Oubaas is soos hulle nie. Dan dink ek behoede ons, want hulle is sulke eienaardige karakters! - Danie Odendaal

Om watter ander redes word karakters uitgeskryf?

Dis moeilik, veral as die akteur goeie werk gelewer het. Maar sekere karakters leen hulself net tot ’n beperkte aantal stories. Daarna vind jy die storie herhaal homself. Die kykers tel dit baie vinnig op. Dis hoekom ons probeer om ons hoofkarakters soveel lae as moontlik te gee. Matrone, wat hoofsaaklik ’n komiese karakter is, het ook al dramatiese storielyne gehad. Een van ons aangrypendste storielyne was Paula se donker, hartseer liefdesverhouding met die joernalis Brandt (Steve Hofmeyr).

Watter karakters het jou verras?

Ek word elke dag deur die karakters verras. Een van hulle was Paula. Sy’t as Connie se niggie begin. Diaan Lawrenson sou oorspronklik net vir tien opnames deel wees van 7de Laan. Toe bring ons haar terug. Haar karakter het stelselmatig gegroei. Die ander karakter wat my verwagtinge oortref het, is ou Claratjie. Die kykers was van die begin af mal oor haar. Ons het gesien Angelique Gerber (wat Clara speel) het talent. Sy moes eenvoudig terugkom. Simphiwe, wat in 2003 saam met Matrone pasteie verkoop het, het die publiek se hart aangeraak. Simphiwe en sy pies sou ’n grappie van twee episodes wees. Die storielyn het uiteindelik vir 30 episodes geloop.

In watter mate beïnvloed kykersbriewe wat in 7de Laan gebeur?

Dit gebeur nie juis nie. Mense vra meestal vir ’n foto of handtekening van ’n akteur in hul briewe. Jy kom egter gou genoeg agter of ’n karakter of storielyn gewild is deur na almal te luister wat op die produksie werk. Een sal sê hy’s mal oor ’n storielyn of ’n ander een sal sê haar kinders se maatjies by die skool praat oor ’n karakter. As ek uitgaan, is dit onvermydelik dat mense met my oor 7de Laan gesels. Annie sê ek doen heeltyd marknavorsing, want ek vra mense van wie hulle die meeste hou. Of as hulle byvoorbeeld wil weet of Altus en Paula weer bymekaar gaan uitkom, vra ek: “Dink jy hulle moet?”

Akteurs kan buierig wees. Hoe hanteer jy dit?

Ek het enorme respek vir wat akteurs doen. Hulle moet by ’n ateljee instap en alles gee, want miljoene mense gaan na hulle kyk, en op straat aan hulle stamp of hul hare trek omdat hulle nie van die karakter hou nie. Die akteurs verloor hul identiteit en ek voel jammer vir hulle daaroor. Ek verstaan dat hulle weens dié druk kan uithaak. Ons probeer hulle die nodige ondersteuning gee deur ’n simpatieke werkomgewing te skep. As jy met buierigheid bedoel dat spelers groot ego’s het of vol grille en giere is – dan is daar min genade. Jy leer om te onderskei wanneer ’n akteur vol nonsens is en wanneer hy erg gespanne of onseker is.

Is jy ’n pa-figuur vir die akteurs?
Ek is besorg oor hulle, maar ek raak nie betrokke by hul persoonlike lewens nie. Soms is dit vir my nuus as ek hoor iemand gaan trou of skei. Annie vervul meer daardie rol. As die akteurs by iemand wil huil, is dit by haar. Ek’s nie ongevoelig nie, miskien is ek net te besig. Die akteurs noem my wel Oom Daan, as ’n grappie.

7de LAAN-AKTEURS VRA....

Pierre van Pletzen, wat Oubaas speel, sê 7de Laan is een van die lekkerste werkplekke. Voel jy ook so?

Ek wil nou nie soos ’n vrolike vinkie klink nie, maar ek sien uit na ’n dag by die werk, al lê daar watse probleme voor. Ek en Annie gee om vir mense en dit syfer deur, want naderhand begin die mense hier ook vir mekaar omgee. Daar’s ook baie storielyne wat almal op stel laat goed voel. Almal het destyds die boksgeveg tussen Bart en Marko geniet. Dié twee het weke lank geoefen en dit vreeslik ernstig opgeneem. Ons het baie gelag.

Annelize van der Ryst (Matrone) wil weet wat maak jou hartseer?

Op professionele vlak: Wanneer spelers kortsigtig is en nie die potensiaal raaksien as jy vir hulle ’n nuwe uitdaging gee of hul kostuums wil verander nie. Oor die algemeen maak dit my hartseer as mense onvervulde lewens lei. Soms kyk ek na mense in ’n restaurant en wonder hoekom hulle nog saam bly en saam eet. Jy kan aan hul lyftaal sien daar’s nie enige vreugde of kommunikasie nie. Jy’s baie gelukkig as jy in die oggend kan opstaan en iets kan doen wat bevredigend is en in die aand kan huis toe gaan na ’n plek wat lekker is.

Sy wil ook weet of daar ooit ’n oomblik is dat jy nié aan 7de Laan dink nie?

Annie is my redding. Sy sal sê genoeg, genoeg, genoeg, nou gaan eet ons uit of gaan fliek. Ek probeer bewustelik afskakel, maar soms, as ek juis nie aan 7de Laan dink nie, sal daar ’n idee by my opkom. My onderbewuste bly heeltyd besig met 7de Laan-dinge.

Is dit moeilik vir jou en Annie om saam te werk omdat julle ook ’n persoonlike verhouding het?

By die werk, wat die grootste gedeelte van ons dag beslaan, sien ons mekaar nie veel nie omdat ons nie regstreeks met mekaar te doen het nie. Ons beskou ons naweke as taamlik heilig. Dan beplan ons wat ons gaan doen en saam met wie ons gaan kuier. Dis ons gehalte-tyd saam.

Jy en Annie is lief vir Frankryk en hou gereeld daar vakansie?

Toe ek van die vliegtuig afklim toe ek daar gaan studeer het, kon ek voel die land is in my gene. Ek het onmiddellik ’n liefde vir Frankryk ontwikkel. Ons is lief vir die Franse platteland, veral die suidweste, en gaan soontoe vir inspirasie of om ons wonde te lek.

Hoe voel jy as gewilde akteurs soos Elma Postma (Dezi) of Nina Swart (Wilmien) weggaan?

Aan die een kant is ek hartseer. Dis ’n cliché, maar ons is regtig soos ’n groot familie omdat ons elke dag lang ure saamwerk. Aan die ander kant is ek bly hulle gaan nuwe horisonne verken. Ek besef ons kan nie akteurs vir altyd hier hou nie. In terme van die sepie gaan ons in ’n paniektoestand in en wonder hoe ons sonder Wilmien, Dezi of Jan-Hendrik gaan klaarkom. Almal huil hulle gewoonlik dood met ’n afskeid. Die hartseer ding is, 7de Laan gaan dan sonder hulle aan met nuwe mense en nuwe storielyne.

Dink jy elke sepie het ’n rakleeftyd?

Dit hang van jou konsep af. As jy baie karakters het wat uiteenlopend is, kan dit vir jare en jare aanhou. Dis ook belangrik om kreatiewe breine om jou te hê wat heeltyd met nuwe idees vorendag kom. As jy dít nie doen nie, raak ’n sepie voorspelbaar en moeg en sterf ’n natuurlike dood.

Ek het enorme respek vir wat akteurs doen. - Danie Odendaal

Annie was onlangs baie siek. Hoe het dit die dinge by 7de Laan beïnvloed?

Almal het geweldig gestres daaroor, want almal is na aan haar en die gedagte dat sy dalk sou moes ophou werk, het hulle ontstel. Hulle voel hulle kan haar vertrou. Haar siekte het my ook ontstel en mense hier kon dit sien. Dit was ’n moeilike tyd vir my én die produksie. Sy’t galblaasontsteking gehad wat omgesit het in septisemie. Die dokters kon nie haar galblaas verwyder voordat die septisemie onder beheer was nie. Gelukkig is sy nou weer gesond.

Die SAUK het verlede jaar swaar getrek en kon vervaardigers soms nie betaal nie. Hoe het jy die mense op stel se moreel hoog gehou?

Ek was bekommerd omdat jy net tot op ’n punt die produksie kan dra. Ons was gelukkig dat die SAUK uit hul pad gegaan het om ons so gou as wat hulle kon te betaal. Hulle het elke maand ten minste ’n persentasie van die geld betaal. Ons standpunt was duidelik en eenvoudig: Ons kan nie mense nié betaal nie. Ons het besnoei op dinge soos kostuums en kos. Ons kon nie die onsekerheid wegvat nie, maar ons kon darem sorg dat mense ’n dak oor hul kop het. Ek dink daar was waardering daarvoor.

Jou kinderjare?

Dis vreeslik vervelig. Ek het geen geraamtes in my kas nie. Ek het aan die Oos-Rand grootgeword en matriek daar geskryf. Ek het op skool tennis gespeel en atletiek gedoen. My familie is wel ’n eindelose bron van stories vir 7de Laan!

Wat wil jy nog in jou loopbaan bereik?

Ek kan seker ’n gesonder balans tussen my werk en persoonlike lewe probeer handhaaf. Maar as ek heeltemal eerlik kan wees: Ek is dolgelukkig met dít wat ek nou doen.