Meer Johannesburg as Melrose Arch kan jy nie kry nie – die energie is tasbaar en die geld vloei in die strate. Dis hip en edgy. En as Johannesburg ’n mens was, sou dit maklik Danny K kon gewees het.

Hy sit in die Melrose Arch-hotel in ’n geskeurde denimbroek en swart T-hemp.Hy’t ’n dag oue stoppelbaard en sy donker hare staan perfek regop.Op 33 ís Danny K cool. Maar dis nie net woorde soos “energiek” en “hip”wat aan hom kleef nie.Dis ook “ladies’ man” en “maar net ’n ou wat met modelle uitgaan”. Oor dié etikette kla hy self op sy webtuiste www.dannyk.com.

“Ek het besef dis hoe mense my begin sien het en ek was nie gelukkig daarmee nie. Ek was konstant in die media gedurende my verhouding en verlowing [aan die model Lee-Ann Liebenberg]. Dit was waarvoor mense my leer ken het, veral omdat ek so lank vat om ’n CD bekend te stel. As musikant wil ek bekend wees as ’n musikant. Toe ek jonger was, was ek nie obsessief oor roem nie. Ek was obsessief daaroor om mense te vermaak. Ek het beroemd begin word om die verkeerde redes.”

Met sy jongste album, Across the Line, wat in Mei 2010 uitgereik is (sy eerste CD sedert 2006), wou hy wys musiek is wat hy doen en góéd doen. Hy’t nie sonder rede al die verhoog met internasionale kunstenaars soos Usher, U2 en Beyoncé gedeel en verskeie toekennings gewen nie.

Buiten vir sy CD het hy in 2010 ook aandag getrek met die veldtog SHOUT for a safer South Africa, wat hy saam met die musikant Kabelo Mabalane begin het. Hy’t die liedjie “Shout” van die popgroep Tears for Fears saam met byna elke SA bekende waaraan jy kan dink, opgeneem – van glansmense tot sangers.

Die liedjie is al meer as 50 000 keer op selfone afgelaai. SHOUT se Facebook-blad het sowat 150 000 aanhangers en die konsep het onlangs ’n gesogte Loerie-toekenning vir advertensie en kommunikasie in die Ubuntu-afdeling gewen, waarin erkenning gegee word aan ’n handelsmerk wat ’n positiewe invloed op die gemeenskap het. Asof dit nie genoeg is nie, word dieselfde konsep nou in Australië gebruik om daar teen misdaad standpunt in te neem.

Die veldtog is reeds besig om ’n verskil te maak, meen Danny. Die geld wat hulle maak, word onder meer gebruik om nie-regeringsorganisasies te help wat misdaad beveg. Ook Primedia se Crime Line het ’n toename in anonieme misdaadwenke gekry sedert SHOUT’n vennootskap met hulle begin het.

Tans beplan Danny om in 2011 nog ’n liedjie as deel van die veldtog uit te reik, maar die konsep is vir eers ’n geheim.

Jy’s al tien jaar in die musiekbedryf. Wat verg dit om in so ’n mededingende bedryf te oorleef?

Die eenvoudige antwoord is om gereeld ’n trefferliedjie te hê.Dis nie méér ingewikkeld as dít nie. Jy is net so goed soos jou laaste liedjie of CD. Daarsonder laat die publiek of radiostasies jou nie toe om te bestaan nie.

Wat is die bestanddele van ’n trefferliedjie, waarvan jy al ’n paar geskryf het?

Die kuns van liedjieskryf is steeds vir my ’n misterie. Ek is trots daarop dat ek al die liedjies wat ek al opgeneem het, self geskryf het. Vir my nuutste CD het ek in ses maande eers met ’n hoop gemors vorendag gekom, al het ek energie daarin gesit. Ek moes toe van voor af begin. Soms gaan dit oor wat in my lewe gebeur – dít kan ’n inspirasie wees. Ander kere gaan dit oor die tyd van die dag dat ek skryf. Ek het al van my beste liedjies geskryf sonder om te probeer en van my swakste liedjies toe ek regtig hard probeer het.

Op watter liedjie is jy die trotsste?

Hoewel dit nie die beste liedjie is wat ek al geskryf het nie, lê “I can’t Imagine“my na aan die hart. Ek het dit as huldeblyk vir my broer, Jarren, geskryf. Hy is op 23 in ’n helikopterongeluk dood. Tot vandag toe was sy dood die uitdagendste ding in my lewe. Ek het my musiek as ’n manier van terapie gebruik om daardeur te werk.

Jy’t op The Oprah Winfrey Show en by Madiba se 85ste verjaardagpartytjie gesing en al saammet verskeie internasionale kunstenaars opgetree en vele toekennings gewen. Hoe verbeter jy daarop?

Ek probeer nie om dit te doen nie.Hierdie bedryf gaan oor musiek. As toekennings en eerbewyse jou motivering is, gaan jy ’n oppervlakkige kunstenaar wees. Ek is gelukkig dat hierdie dinge oor my pad gekom het. Ek glo as jy goeie werk doen, gaan goeie dinge na jou kant toe kom.

So, is jy ’n ladies’ man?

Ek’s mal oor vroue, soos enige warmbloedige man, maar ek is nie so suave soos wat mense dink nie. Ek’s eintlik nogal skaam as ek vroue moet nader. Ek is nie iemand wat ’n vrou se voete onder haar uitslaan nie.Toe ek jonk was, was ek mal daaroor om die “veld te speel”. Nou stel ek belang in ’n betekenisvolle verhouding.

Wat soek jy in ’n verhouding?

Ek het ’n onstuimige tyd agter die rug met verhoudings. Ek het geleer om my private lewe so ver moontlik uit die media te hou.Om nie meer so flashy daarmee te wees nie. Ek dink nie dis gesond nie.

Op daardie noot, het jy en Lee-Ann Liebenberg nog kontakmet mekaar?

Ek het nog nie weer met Lee-Ann gepraat vandat ons uitgemaak het nie.

Is jy in ’n verhouding?

Ja, met ’n ongelooflike vrou wat nie bekend is nie. Dis wonderlik, maar ek maak nie ’n vreeslike geraas daaroor nie. As ek ’n verhouding wil hê wat vir jare gaan hou, moet ek dit vertroetel.

Moet ’n vrou mooi wees om in ’n verhoudingmet jou te kan wees?

Glad nie. Ek het geleer as daar nie ’n gesonde balans tussen fisieke aangetrokkenheid en ’n emosionele verbintenis is nie, kan dit nie werk nie.Voorkoms sal uiteindelik vergaan en vel sal verrimpel.

Glo jy bekendes is rolmodelle?

Jy is in ontkenning as jy dink jy is ’n groot musiekkunstenaar, sportster of politikus, maar jy is nie ’n rolmodel nie. As jy tot die kruin van ’n bedryf gevorder het, sien mense op na jou. In dieselfde asem kan ek sê niemand is perfek nie. Dis naïef om na enigiemand te kyk en te dink hulle het nie foute nie.

Was daar tye dat jy gewens het jy was liewer nie bekend nie?

Toe my broer oorlede is. Ek was in ’n donker plek en wou in ’n dop kruip. Toe my verlowing [met Lee-Ann Liebenberg] op die rotse geloop het, wou ek glad nie bekend gewees het nie. Jy moet roem vat saam met die ontsaglike las waarmee dit kom. Dis ook fantasties omdat jy geleenthede kry en ongelooflike mense ontmoet, maar daar is beslis ’n prys om te betaal wat jy moet aanvaar.

Jy was in 2006 ’n afrigter op die TV-reeks Supersterre op SABC2. Luister jy na Afrikaanse musiek?

Ja! Ek was ’n ruk gelede saam met Kurt Darren by een of ander optrede en hy’t sy nuwe CD met akoestiese liefdesliedjies [Met liefde/With love] vir my gegee. Dis nogal goed. Ek dink Die Heuwels Fantasties is ongelooflik. Ek is ’n groot Jack Parow aanhanger.Wie is nie? Ek is mal daaroor dat Afrikaanse musiek die grense oorsteek, dat Engelse radiostasies dit nou ook speel. Dis hoe dit moet wees. Groepe soos Die Heuwels Fantasties het goeie werk gedoen om dit reg te kry, om te wys dit maak nie saak dat hulle in Afrikaans sing nie.Wat saak maak, is dat mense daarvan hou.

Jy’t die SHOUT-veldtog begin nadat Lucky Dube vermoor is. Jou ouers is al beroof. Hoe bly jy positief Suid-Afrikaans?

Ek verstaan mense se wanhoop wanneer werkloosheid, vigs en misdaad so hoog is. Maar ten spyte van die probleme, is ons Suid-Afrikaners sterk. Ons gee nie op nie. Ek het dieselfde houding. Ek is lief vir hierdie land. Ek is bewus van die probleme,maar ons moet opstaan daarteen en die regering láát opstaan daarteen. Regte patriotisme, regte liefde vir jou land is as jy teen die probleme baklei.

Wat wil jy nog in jou loopbaan bereik?

Met elke CDwat ek uitreik, voel dit of ek my loopbaan moet laat herleef. Ek moet myself elke keer van voor af relevant maak. Ek voel asof ek nou net weer relevant geword het. Nou moet ek goeie vertonings gee en goeie musiekvideo’s maak. Ek wil ook fokus op die oorsese mark. Across the Line is in Europa en Japan uitgereik en ek gaan in 2011 daar toer. Ek voel my beste musiek lê nog voor.

SARIE-leser Ingrid van der Walt van Bloemfontein

Hoe was dit om met die SHOUT veldtog saam met top SA kunstenaars soos Kurt Darren, The Parlotones, SteveHofmeyr en Prime Circle te werk? Ek was voorbereid daarop omdat ek al saam met so baie kunstenaars gewerk het. Ek het geleer hoe om ego’s en besige skedules te hanteer.Tog was SHOUT op ’n heel ander vlak. Dit het my drie jaar gevat om al die kunstenaars op te neem. Ek het al in 2007 daarmee begin. Dit het letterlik drie jaar gevat om Steve Hofmeyr te kry. Sommige van die kunstenaars was net so besig. Toe ek die eerste vyf kunstenaars genader het vir die veldtog, moes ek hulle mooi smeek om deel te wees. Maar toe dit eers van die grond af begin kom het, wou soveel ander ook deel wees.

Het jy al ooit gewonder waar jy sou gewees het as jy eerder ’n loopbaan in besigheidsbestuur gevolg het? [Danny het sy nagraadse studie in sakebestuur by Wits gedoen.]

Ek kan jou een ding sê, ek sou nie so vervuld gewees het nie. Ek dink as ek nie musiek gemaak het nie, sou ek op 80 op my lewe teruggekyk en bitter gewees het. Vóór ek musiek gemaak het, het ek by ’n groot beleggingsbank gewerk. Ek sou meer finansiële standvastigheid gehad het as ek daar gebly het, maar ek kan nie ’n prys op die vreugde sit wat ek kry wanneer ek mense vermaak nie. Ek glo dis die pad van my lewe.

SARIE-leser vanVredendal: Dink jy jy sou so bekend gewees het as jy nie ’n gesonde, gespierde lyf gehad het nie?

Ek het geen idee nie.Om te oefen is iets wat ek by my ouers geërf het. My ma was ’n goeie hokkiespeler,my ouma was ’n Springbok-hokkiespeler en my oupagrootjie was ’n ongelooflike atleet. Ek het op skool sokker en rugby gespeel. Ek probeer om ’n paar keer ’n week te oefen. As my voorkoms my in my loopbaan gehelp het, goed so, maar ek kon nie net daarop staatgemaak het nie.

SARIE-leser van Johannesburg: Sou jy daarvan gehou het om ’n gasbeoordelaar op Idols te wees?

Ek het so gehoop hulle bel my. Ek hou daarvan dat jong talent ’n geleentheid gegee word met programme soos Idols. Toe ek jonk was, het ek nie geweet hoe ek dit in die musiekbedryf gaan maak nie.Niks van hierdie werklikheidsreekse het bestaan nie.Vandag word ’n musiekloopbaan vir jou op ’n goue skinkbord gegee as jy wen. Moet my nie verkeerd verstaan nie, jy moet deur hel gaan om dit te kry. Mense soos Elvis Blue, L’loyd en Sindi is nou bekende name. Nou begin hul loopbane. Nou begin die harde werk.

SARIE-leser Welma den Haan van Belville: Is jy ’n natuurliefhebber?

Om Bosveld toe te gaan is die ultimate vakansie en manier van ontspan. Ek is mal oor die natuur. Ek bring gereeld tyd in my tuin deur. SHOUT wil nou betrokke raak by die pandemie van renosterstropery en pogings ondersteun wat dit probeer stopsit. Suid-Afrika se wild is deel van ons erfenis. Ons maak baie geld uit toerisme en ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die wêreld om ons wild te beskerm.

Wat is jou opinie oor Julius Malema?

Ek is geleer ek moet dink voordat ek praat. Ek dink te veel van ons politici doen dit nie.Om ’n magtige mens op so ’n groot platform te wees kom saam met verantwoordelikheid. Ek glo ons politici moet nasiebouers wees, nie die nasie afbreek nie. Ons moet voortgaan met die Mandela-benadering – ommense saam te bring. Ek hoop Julius Malema kan dit vir ons doen in sy posisie as ANC-jeugleier.