Haar treffer “Mis Eet Slaap Herhaal” is al meer as 745 000 keer op YouTube gekyk, dis tans die top-verkoper op iTunes, en haar debuutalbum het ná net 10 dae goue status bereik (meer as 15 000 kopieë is verkoop). Voorwaar iets besonders, al was sy aanvanklik onder die indruk alle kunstenaars verkoop soveel in die eerste week.

Die 29-jarige blondine van Durbanville in die Kaap het lank aan haar droom gewerk. Sy sing al die afgelope 10 jaar professioneel en het in 2014 onder die top-10 in M-Net se Idols geëindig, maar dis die eerste keer dat sy erkenning as musikant kry.

“Ek glo nou was die beste tyd. Nou weet ek wie ek is. Ek het nie vroeër die ondervinding gehad nie. Die jare se werk het my vir seker voorberei om ’n loopbaan in die bedryf te hê,” het sy aan SARIE.com gesê.

Is sy Demi Lee Moore gedoop? wil ons weet. Want met ’n naam soos Demi Moore is jy uiteraard ’n ster.

“Ek is Demi Moore gedoop, en het self die Lee by gesit. Want Demi Moore was reeds gevat.”

’n Jaar gelede was haar lewe aansienlik anders. “Ek het voltyds gesing, veral by die Twaalf Apostels-hotel. Ook op troues en feeste – dis drie uur wat jy ander mense se liedjies sing.

“Met Die Kontrak het ek geweet dis nou of nooit. As ek weer aan ’n kompetisie deelneem, moet en gaan ek hom wen. Ek kan myself nie weer deur so iets sit en nie wen nie. Ek het regtig hard gewerk, seker gemaak ek doen wat gedoen moet word. En dan natuurlik moes die publiek ook van jou hou.

“Ek het deelgeneem omdat die kompetisie my sou help om my naam uit te kry, dis wat ek nodig gehad het. Ek het baie lank op my eie probeer. Die oomblik toe ek myself oorgee aan die Here, toe word ek in oorvloed geseën.”

Dié oomblik het gebeur toe haar suster, Aimee Ackers, in Thailand beseer is toe sy van haar poegie afgery is. “Daar was niks wat ek kon doen behalwe om te bid en te smeek nie. Vir die eerste keer het ek vertrou. Sy moes net okei wees. En sy is vandag meer as okei.”

Demi Lee het ’n hegte band met haar suster, wat drie jaar ouer is as sy. Dit was juis Aimee wat haar aangemoedig het om deel te neem aan Die Kontrak. “Almal het gesê ek moet nie die kompetisie doen nie.”

Dit was nadat sy sewende geëindig het in Idols en vriende en familie haar afgeraai het om die ondervinding te herhaal. “Maar Aimee se eerste woorde aan my was: ‘Absoluut, doen dit!’”

Wat verkope betref, klop Steve Hofmeyr se jongste album, The Country Collection, hare. (Dit het platinumstatus, met meer as 30 000 kopieë wat verkoop is.) Nie dat dit saak maak nie, want op die album sing sy ’n duet, “Amanda”, saam met hom.

“Steve was nog ’n droom wat waar geword het. Ek luister al na sy musiek vandat ek gebore is. My pa was sy grootste fan.” Demi Lee se pa, Herman, is oorlede aan kanker toe sy sewe jaar oud was.

“Net nadat ‘Amanda’ uitgereik is, bel my oom Roy Moore my en sê dit was een van my pa se gunsteling-liedjies. Ek het dit nooit geweet nie.”

Demi Lee se kêrel, Barthlo Visagie, is ’n beroepsmusikant en speel deesdae permanent kitaar vir haar. Hy het voorheen vir Emo Adams en Jack Parow gespeel.

View this post on Instagram

Family Portrait ??

A post shared by D E M I • L E E (@demilee.moore) on