Jy hoor hulle voordat jy hulle sien – ’n dreunsang buite die blou siersteenlanddroshof in Wynberg, Kaapstad. “Friends of Masi” staan in wit letters agterop hul swart T-hemde. ’n Groep breek weg en begin in die straat toi-toi, maar ’n paar manne van die polisiekantoor langsaan vat hulle vinnig vas. Eenkant lê ’n moeë ondersteuner ’n uiltjie en knip. Sy kep is laag oor sy oë getrek, sy kartonplakkaat regop teen die tralie gestut: “We support our leader.”

Ná die gedruis is die blou-en-wit naambord van Saul’s Saloon and Grill ’n welkome gesig. Binne is dit
koel. Die middagete-stormloop is verby, maar ’n Castle-bierkraan by die toonbank doen nog flink diens. ’n Neonteken wys waar die nierookkamer is – kleiner as die rookplek waar Deon Meyer reeds wag in ’n verbleikte leunstoel met armleunings wat bruin gevat is. Op die plankvloer langs hom rus sy motorfietshelm; op die koffietafeltjie met die geel waterringe sy sleutels, beursie en ’n pakkie Kent. Hy lyk tuis.

Die 52-jarige borselkop, wat klokslag as “die gewildste spanningskrywer in Afrikaans” beskryf word en spog met misdaadboeke in 21 tale wêreldwyd ( Japannees, Russies en Bulgaars ingesluit), erken ruiterlik hy’s op sy gemak tussen die manne.

“Ek’s die middelste van drie broers. Ek verstaan wat in mans se kop aangaan. Met karakters soos (speurder) Bennie Griessel of (lyfwag) Lemmer dink ek nie eens nie, ek wéét hoekom hulle iets doen en sê. Maar vroue?” Hy skud sy kop soos generasies mans voor hom.

“Hulle is soos glibberige visse waaraan ek sukkel om vatplek te kry. Ek moet dubbeld so hard werk aan my vrouekarakters.”Hy blaas ’n straal rook uit en bieg: “En ek het geen idéé hoe om hulle uit te rus nie ...”

Deesdae, sê hy, help sy vrou hom. “Ek beskryf die soort vrouekarakter wat ek sien, dan gaan soek Anita vir my prentjies op die internet. As dit pas, maak sy drukstukke met sorgvuldige beskrywings van styl, materiaal, etikette, watter bykomstighede by wat pas en selfs winkels waar dit als gekoop kan word.”

Nietemin is een van Deon se nuwe projekte ’n vervolgverhaal vir SARIE – mét ’n vrou as hoofkarakter!

“Dit skop in die Junie-uitgawe af. Twee weke se heeltyds skryf, dan moet dit klaar.Toevallig het my heel eerste vervolgverhaal, Die ontvoering van Leendert le Roux, ook in SARIE verskyn.”

Maar eers wil hy ’n ent weg wees met sy nuwe boek, wat hopelik teen die einde van die jaar verskyn. (Etienne Bloemhof, sy jarelange uitgewer by Human & Rousseau, verklap die titel is 7 Dae.) En tussendeur pas hy tien dae in op Grignan, ’n dorpie in Provence, vir die viering van sy Franse uitgewer se sewentigste verjaarsdag. En wil hy sy vrou later vanjaar verras met ’n oorsese reis – omdat sy so dikwels alleen was verlede jaar.

“Gelukkig,” sê hy, “skryf ek lekker op ’n trein.”

Oor die vervolgverhaal vertel hy: “’n Misdaadskrywer soek altyd na bronne van konflik. Kry jy dit, is ’n storie nie ver nie. Hier gaan dit oor Lea Burger ’n jong rekwisiete-assistent in die Kaapse filmbedryf wat spartel om aan die frenetiese pas van haar werk en die eise van haar despotiese baas te voldoen. Op ’n deurmekaar oggend val sy in ’n hotel se voorportaal en doen ’n diep sny op haar arm op. Sakeman Ben Liebenberg kom tot haar redding. Hy verbind Lea se wond in sy hotelkamer. Sy gaan was haar gesig in sy badkamer, maar wanneer sy uitkom, kry sy hom in ’n plas bloed op die vloer, met háár skêr in sy hart. Die enigste manier hoe sy uit dié gemors kan kom, is om die moord self te probeer oplos.”

***
Toe ’n 13-jarige Deon trots sy eerste kortverhaalpoging vir sy twee broers gewys en hul somber advies ontvang het “om maar nie dadelik met ’n nuwe te begin nie”, het hy nooit kon dink die naam Deon Meyer sou eendag een van Afrikaans se suksesvolste uitvoerprodukte wees nie.

Vroeër vanjaar het hy gehoor hy is op die kortlys van die Amerikaanse 2011 Barry-prys vir beste misdaadverhaal. Die wenner word in September by die reusagtige Boucherconmisdaadfiksie-fees in St Louis in Amerika aangewys. Verlede jaar het Deon die kortlys van vyf vir die Britse CWA International Dagger-misdaadprys met Stieg Larsson gedeel, die man agter die opspraakwekkende Millennium-trilogie, terwyl hy op 20 Februarie aangewys is as die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad se wenner van hul jaarlikse tweetaligheidsprys vir 2010. Die ander finaliste was André P. Brink en Antjie Krog. En dié is net ’n paar van ’n rits pryse plaaslik en oorsee.

As groen verslaggewer wat in 1980 by Die Volksblad aangemeld het, het Deon ook sy destydse redakteur verras.

“Deon was van die begin af vuur en vlam, maar as onderwysstudent onervare en ongelukkig ook taamlik verstrooid,”vertel Hennie van Deventer. Só het ’n groot gees in die Vrystaat, Kosie Pansegrouw, sommer Piet Pantsegrouw geword – tot konsternasie van die hoofredaksie. Maar dit was ’n onderhoud met die kanonvoetlosskakel De Wet Ras wat Deon se loopbaan as skrywer verseël het.

“De Wet is ten gunste van Errol Tobias oor die hoof gesien vir die Springbokspan. Hy was woedend. Terwyl Deon met hom gesels het, het hy telkens ’n duif met ’n windbuks omgeklits. Elke dooie duif was in daardie voorbladstorie – in geur en kleur. Die sportredaksie het gevrees De Wet se loopbaan is daarmee begrawe. Dit was darem nie, maar van toe af is met ander oë na Deon gekyk.”

Dit is juis hierdie oog vir detail wat Deon vandag goed te pas kom. Veral omdat hy dit kombineer met tydrowende, noukeurige navorsing om ’n wêreld te skep, waarin – soos hy sê, “die leser intellektueel kan belê – hoe meer geloofwaardig die wêreld is wat jy skep, hoe groter die leser se genot.

“Die begin van ’n boek is swaar. Ek skryf sewe, agt ure op ’n dag, so van vroegoggend af met ’n ver stap om tienuur soggens. Ek het drie jaar gelede die sprong gewaag om heeltyds skrywer te wees. Maar dis ’n alleenproses waartydens die navorsing moet lyf en lewe kry en jou kop so vol is van ’n wêreld wat jy eintlik met niemand kan deel nie. Dan is dit vir my wonderlik dat Anita lees wat ek geskryf het, sodat daar iemand is met wie ek kan praat oor wat ek in daardie toegetrekte agterkamertjie doen.

“Wanneer ek begin skryf, sal ’n nuwe hoofkarakter dikwels voor my kom staan as ’n driedimensionele mens. Die mindere karakters se name teken ek in ’n stel notas langs my rekenaar aan sodat ek kan tred hou met wie’s wie. In ’n tweede stel skryf ek idees neer vir latere ontwikkeling.”

Dis sy navorsing wat sy stories bepaal, sê hy. En soms word die saadjie geplant deur iets wat hy toevallig hoor of lees, of ’n brokkie wat ’n ekspert vir hom aanstuur. Vuurwapens ken hy ná sy tyd in die Lugmaggimnasium.Om vas te stel wat die verband is tussen onder meer die Kaapse bendes en terroriste-netwerke sal hy met soveel moontlik kenners praat.

“Maar persoonlike kontak, om dáár te wees mét die mense – dis broodnodig as jy geloofbaar wil klink. Lede van die polisie praat byvoorbeeld ’n kortpadtaal. Die ondersoekbeampte se dagboek word sommer ’n ‘vyf ’; ’n subpoena ’n ‘207’. Vir hulle is burgerlikes ‘hase’. Op die oomblik onderhandel ek om saam met die Valke uit te gaan.”

Hy’t sy les geleer met sy eerste boeke. “In Wie met vuur speel praat ek van ’n lekker witwyn van ’n kelder wat op die ou end toe glad nie eens witwyn maak nie!”

Daarom gaan Deon ook nooit meer sonder sy kamera, videokamera en GPS uit nie. Op sy webwerf kan lesers selfs gaan kyk na foto’s van waar die betaalfoon staan in Carlucci’s, die deli in die Kaapse Tuine waar Rachel Andersen haar pa bel in 13 Uur, of waar die laagwaterbruggie oor die Cata-rivier in die Oos-Kaap is waaroor Thobela op sy BMWmotorfiets ry in Infanta.

As tiener op Klerksdorp was Deon gefassineer deur die fyn draadwerk van radio’s. Net so worstel hy vandag met die diktatuur van sy storiestruktuur. En hy is nie skaam om te leer nie. In 2003 het hy hom ingeskryf vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder leiding van prof. Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy hom onder meer ’n handsak en ’n reistas vir ’n vrouekarakter laat in- en uitpak het. Maar as dit kom by geweld, glo Deon daar is perke van ordentlikheid. “Die jong Rachel word in 13 Uur gemartel om te praat. Haar klein toontjie word met ’n tuinskêr afgesny. Skokkend, ja, maar nie naastenby so skokkend as wat in die regte lewe moontlik is nie. As ’n skrywer moet jy besluit waarvoor jy kans sien.”

Uit sy verkope is dit duidelik Deon het ’n aar raakgeboor. Spoor (2010) se verkope is al byna verby die 40 000- merk, sê sy uitgewer, waar die deursnee Afrikaanse lekkerleesstorie gewoonlik ’n oplaag van tussen 3 000 en 5 000 het. “Die verrassende van Deon is dat sy bewonderaars ál sy boeke koop, selfs sy eerste boek word keer op keer herdruk.”

***
“Daardie rooikoppie het altyd so agter sy pa aangestreep,” vertel mev. Francis Meyer, Deon se 80-jarige ma, wat in Milnerton woon. “Die dood van sy pa was vir hom’n geweldige skok.”

“My pa was ’n gebore storieverteller,” vertel Deon. “Ek het my eerste boek opgedra aan ‘die man met die rooi mus’. En die man se kinders het almal rooi mussies gedra ...Dis my pa wat my versot gemaak het op die buitelug. Ons seuns sou dikwels saam met hom gaan visvang of op staptogte deur die Tsitsikammabos gaan. Hy was maar 66 toe hy onverwags ná ’n hartoperasie dood is.”

Deon se hartsplek is Loxton in die Noord-Kaap. “Toe die vier kinders nog almal in die huis was, het ons gereeld as gesin gegaan. Nou is dit dikwels net ek en Anita en vriende. Of ek sal sommer in die middel van die week vir ’n dag wegbreek. Die huisie is nuut gebou, maar in die dorpstyl met ’n sinkdak, breë stoepe en ’n Aga-stoof. Onlangs het ek my eerste skorsies geoes. Daar’s ’n groentetuin en vrugteboord en ’n paar skapies wat ek op die dorpsmeent aanhou. Saans kook ek en dan kuier ons.”

Dis maar moeilik om daar te werk, bieg hy. “Oom Niek van langsaan sal oorstap en as Anita vir hom sê ek werk, kom hy doodluiters in met ’n ‘skryf is nie werk nie’!”

In Kaapstad woon die Meyers in die boomryke Vierlanden in Durbanville, waarheen hulle drie jaar gelede getrek het toe die daaglikse ryery uit Melkbosstrand te veel geword het. Dis beide sy en Anita se tweede huwelik nadat hulle mekaar 11 jaar gelede by Sanlam, toe nog albei se kantoor, ontmoet het. Selfs sy ma sê hulle het baie hard gewerk om die aanpassing vir hul onderskeie kinders, Deon se Lida (26) en Johan (18), en Anita se Liam (21) en Konstanz (15), so maklik moontlik te maak.

“Maar Anita is sy geesgenoot,” sê Francis met groot warmte. Dieselfde warmte en bewondering is daar wanneer Deon vertel dat Anita, ’n fotograaf, nou ook aan haar eerste kookboek werk.

“As ek baie weg is, soos verlede jaar, sal ons elke oggend en elke aand voor ons gaan slaap oor Skype met mekaar praat.”

Wanneer ons uitstap in die loom namiddag stamp Deon sy paar diksoolstewels ’n slag, rits sy baadjie toe en beduie na die ander vrou in sy lewe, ’n glimmende BMW 1150 GS Adventure.

Sy oë streel oor die chroom flanke, die vloeiende lyne, die kragtige voorwiel wat parmantig uitsteek. “In die laaste – en beste – job wat ek gehad het voordat ek heeltyds begin skryf het, was ek vyf jaar lank saam met my ou groot maat Pieter de Waal (vandag by BMW in New Jersey,Amerika) verantwoordelik vir die bemarkingstrategie en webwerf van BMW-motorfietse. En dis waar ek besef het: Dis nie ’n motorfiets wat jy verkoop nie. Dis ’n leefstyl. In die eerste jaar wat ons ons strategie van niks af opgebou het, het ons BMW se markaandeel in Suid-Afrika van 0,4% tot 41% laat styg.”

Hy kyk met ’n tikkie spyt na sy ryding. “Maar hy’s nou te koop. Ek het my oog op ’n nuwe BMW R1200 GS Adventure – een waarmee ek en Pieter later vanjaar die Rotsgebergte in Amerika wil aandurf ...”Hy swaai sy voet oor die saal en met ’n gebrul en laaste wuif verdwyn hy straat-af. Op daardie oomblik knip die blou lig voor die polisiekantoor aan.