By tye het dit onwerklik gevoel. Aktrise Desiré Gardner sou in die nag wakker skrik en besef sy is nie in haar huis op Philadelphia nie – dis net sy en haar twee kinders in hul nuwe blyplekkie in die Kaap. Haar huwelik van nege jaar was op ’n einde.

Dit was een van haar grootste struikelblokke die afgelope jaar: Om te aanvaar dit is hoe dit nou is, hul ou lewe soos sy dit geken het, is vir altyd verby, vertel Desiré.

“Ek hou nie van verandering nie, ek hanteer dit nie goed nie. En skielik was álles anders: my lewe, die toekoms, my kinders se lewe. Dit het my lank geneem om vrede te maak daarmee. Jy rou oor iets wat daar was en nie meer is nie. Niemand trou om te skei nie,” sê sy.

Desiré en Chris, beligtingsregisseur en tegniese hoof van die kykNET-sepie Suidooster, het in April verlede jaar besluit om uitmekaar te gaan en hulle is verlede Augustus amptelik geskei.

Sy het dit van die begin af “dag vir dag” en “oomblik vir oomblik” gevat, sê Desiré. “Jy het nie eintlik ’n keuse nie, jy doen dit om te oorleef, dit help nie om jou te kwel oor die toekoms waaroor jy geen beheer het nie. Ek het geweet ek moet net deur vandag kom. As ek deur vandag kom, sal ek deur môre kom. Ek probeer dit steeds in my lewe implementeer, om my nie te kwel oor môre nie.”

In dié tyd het sy deur elke emosie gegaan waaraan jy kan dink: Sy was hartseer, moedeloos, desperaat, kwaad, onseker, bang ...

“Dit was ’n warboel van konstante emosies. Selfs nou nog sal ek skielik ’n emosie ervaar en nie seker wees waar dit vandaan kom nie. Maar ek besef dis deel van onderliggende dinge waardeur ek nog moet werk, dis deel van my helingsproses. Ek moet daardeur. ’n Vriend van my sê as jy byvoorbeeld angstig voel omdat dít wat jy ken vir ewig weg is, moet jy daardie vrees in die gesig staar. Nooi dit in. Voel dit, erváár dit. As jy klaar is, sê: Dankie, ek het jou ervaar en nou gaan jy weg. Dit klink dalk esoteries, maar vir my het dit gehelp.”

Sy het lank oor haar egskeiding stilgebly, net familie en haar naaste vriende op wie se skouers sy gehuil het, het geweet. Sy en Chris is albei baie privaat. By die werk (op die stel van Suidooster) het sy haar kop hoog gehou, bly glimlag, gefokus op haar spel en op haar skryfwerk.

“Dit beteken nie ek wou dit onder die mat invee nie, maar dit sou net te seer wees om dit te herleef deur almal te vertel. As jy reeds sukkel om deur jou dag te kom, probeer jy dit vermy. Anders is dit soos om ’n bloeiende wond verder oop te sny.”

Die wonder van tyd is dat daardie wond tog later gesond word, sê sy. “Jy is bang jy verloor bloed, jy moet cope daarmee en die bloeding stop. Maar mettertyd vorm ’n rofie. Elke nou en dan kap iets daarteen en die wond gaan dalk oop en bloei weer ’n bietjie. Totdat nog ’n rofie vorm. Uiteindelik bly net die letsel oor. Dis net so met emosionele pyn. Dit neem tyd totdat daar net ’n letsel is.”

Gedurende die grendeltyd het sy nog ’n vrees oorkom: Om alleen te wees. “Ek het die eerste vier weke saam met die kinders by my ouers op  Groot-Brak gebly, en toe teruggekom met my seuntjie sodat hy tyd met sy pa kon deurbring. Ek het gedink dit gaan vir my moeilik wees om alleen by my plekkie op Melkbosstrand in die Kaap te wees, nog ’n vrees wat ek in die oë moes kyk. Maar dit was so genesend, ek het dit geniet om tyd op my eie deur te bring, my eie ding te doen.”

Desiré het deurentyd gaan draf – dit was nog altyd haar terapie, die tyd wanneer sy iets vir haarself teruggee. Haar dinktyd wat haar help om perspektief te kry. “Soms wanneer ek wakker word en ek wil net niks doen of nêrens heen gaan nie, trek ek my tekkies aan ... Terwyl ek draf met musiek in my ore, sê ek dikwels vir myself: Jy kan dit doen. Jy kan dit doen. Een voet voor die ander. Dit het ’n mantra in my lewe geword.”

Om te rou oor hul ou lewe was ’n lang, seer proses, maar deur alles het sy haarself oomblikke gegun om te lag. Sy leer haar kinders dat geloof en ’n sin vir humor die dinge is wat jou deur moeilike tye dra. As jy nie lag nie, kan jy verval in ’n groef van bitterheid en hartseer.

Desiré het in die proses baie geleer oor aanvaarding. En dat sy nie so hard op haarself moet wees nie. “Wees kind teenoor jouself en teenoor ander mense. Ons moet vir mekaar omgee.” En uiteindelik het sy aanvaar jy kan jou lewe hoe goed beplan, maar soms loop die lewe sy pad met jou en dan bevind jy jouself op ’n plek wat jy jou nooit kon indink nie. “En dis ook oukei.”