Ons boere . . . altesame 36 000 saam met hul plaaswerkers, wat vir 56 miljoen Suid-Afrikaners sorg. Kos op ons tafel sit, die oes van land en see op ons bord. En in ons glas, die sonskyn van ons vrugteboorde. Vir hulle is hul plase – soms vir geslagte lank – ’n stukkie hemel. ’n Eden in die kleine om seisoen ná seisoen aan Suid-Afrika en sy mense te voorsien. Om voorspoed te bring en ’n toekoms te help skep.

Soms word daardie grond ’n stukkie hel, wanneer die aarde smeek om reën en diere swaarkry – diere wat dikwels name het en nie net nommers nie. Wanneer die belofte om te voorsien in die stof verdwyn, en slegs #genade oorbly.

Maar álles verdien ’n tweede kans, glo ons boere. Die grond, ons diere, planne, mense. Ook hoop en drome. Dan ontplof innovasie en floreer skeppendheid. Word inspirasie gevind in die natuur, in kleure en geure, in hartsplekke en ’n helpende hand.

Dít is die inspirasie agter Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE vanjaar aanpak saam met GWK, McDonald’s SA, John Deere en kykNET, en met die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com.

Om die boere en hul vreugdes en vasbyt te leer ken het ’n spesialisgroep van SARIE saam met die TV-span gereis van Douglas aan die Vaalrivier tot aan die voet van die Paarlberg in die suide; van dorre Marydale in die Noord-Kaap tot Williston in die Groot-Karoo. Elke storie is mooi en raak aan jou hart. Die eerste vier unieke foto’s in dié uitgawe vertel elk ’n spesiale verhaal. Hier is Peter en Fancy Schoeman van Williston se storie uit SARIE se November-uitgawe:

PETER EN FRANCY SCHOEMAN

Langbaken, Williston

Francy en Peter Schoeman se liefdesverhaal het diep in Afrika vlamgevat. Voor hulle op 35 getroud is, het hulle op ’n motorfiets om die kontinent gaan toer.

Sy is oorspronklik van Zimbabwe, en het ook ’n ruk in Zambië en Botswana gebly voor haar familie hulle in Suid-Afrika kom vestig het. Twintig jaar laas was sy in haar geboorteland. “Ek moes my huis agterlaat, maar ek het weer ’n tuiste gevind.”

Op die plaas Langbaken naby Williston in die Groot-Karoo word daar met skape en melkkoeie geboer. Francy woeker met handgemaakte boetiekkaas en Peter eksperimenteer met vlytbier. Kaas is nou die hoofgereg op ’n plek waar boere nuwe planne moes maak om die droogte te oorleef. “Dis nou al vier jaar droog. Ons moes dinge anders begin benader,” verduidelik hy. En vandag wen Langbaken-kaas die een toekenning ná die ander.

Uiteenlopende persoonlikhede – dís hoe hulle mekaar uitbalanseer op die plaas, sê Francy en Peter so saam-saam. Hy sorg vir die melkgehalte, sy span haar kennis as sjef in om die kaaskultuur net reg te kry.

Maar hul sorg strek veel wyer as Langbaken. Albei is betrokke by Williston Droogtehulp. Hy met die uitdeel van voer en ander skenkings, en sy met die bewusmaking daarvan. “Williston se mense is wonderlik, jy kan byna nie glo hoe gretig boere is om mekaar te ondersteun nie. Die droogte het ons nader aan mekaar gebring.”

Francy se hart het veel meer plek as net vir mense. By die kombuisdeur waak ’n stewige boerboel wat met ’n leeulyf langs die bakkie hardloop wanneer sy mens-ma by die plaashek ingery kom. Jeff se vorige ouers kon hom nie meer aanhou ná hulle alles in die Knysna-brande verloor het nie.

“Ek’t hom op tweejarige ouderdom ge-rescue. Hierdie is nou sy huis.”

Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit episode 4 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie