Die Madiba-magic wat ons omgewe het, hoe ’n nasie verenig is: Dit word alles herleef in ’n nuwe Hollywood-fliek met Matt Damon as François. François Pienaar Die blouoog-, blondekop-François met sy netjiese lyf (1,91 m, 108 kg) en stewige kakebeen dink op 42 nog dikwels met nostalgie terug aan sy rugbydae.“ Ek wil teruggaan en jol. En ek raak nou nog emosioneel as die ouens die volkslied sing voor hulle begin speel.”
Hy het hoendervel gekry toe hy twee jaar gelede saam met sy seuns, Jean (11) en Stephane (9), in Frankryk gaan kyk het hoe die Springbokke wéér die Wêreldbeker wen, dié keer teen Engeland. Deesdae is hy provinsiale voorsitter en hoof van borgskappe van FNB n die Wes-Kaap. Die afgelope ses jaar is hy ook baie betrokke by die liefdadigheidsorganisasie Make a Difference (MAD), wat behoeftige kinders met potensiaal help om ’n goeie opvoeding te kry. So het hy onlangs in een week Kilimandjaro uitgeklim en aan die Cape Argus Pick `n Pay-fietstoer deelgeneem om geld vir dié doel in te samel. Sy gesin is die heel belangrikste in sy lewe: Nerine, sy vrou van die afgelope 13 avontuurlike jare”, en sy seuns. Dis saam met húlle dat hy naweke spesiale dinge doen. “Ons is ’n tipiese Boeregesin wat hou van vleisbraai. Mét paptert, braaibroodjies, sousies en aartappelslaai met kondensmelk. En ’n glasie yskoue sauvignon blanc. Ons hou ook van ski-vakansies saam met die kinders en beplan nou ’n vakansie met viertrekvoertuie na Namibië saam met vriende. “Nerine is my seuns se heldin. Sy sorg ook vir die geestelike ankers in ons lewe. Ons huis is vol atmosfeer, ’n plek waar kerse brand, waar ’n mens welkom voel, waar ek herlaai.” Sy is báie opgewonde dat Matt Damon François in die fliek speel. “So ook al die ander vroue in my familie!” lag hy. “Ek is natuurlik baie gevly en ook ’n bietjie benoud oor hoe hulle my agtergrond en die apartheidsjare gaan uitbeeld. Hollywood sal ’n mate van ‘digterlike vryheid’ toepas, maar ek wil hê die fliek moet gebalanseerd wees. Ek het Carlin se boek sowel as die draaiboek gelees en tree as konsultant vir Morgan Freeman (wat benewens sy rol as Madiba ook vervaardiger van die fliek is) en regisseur Clint Eastwood op. Ek wil hê Madiba se ware gevoel van deernis teenoor my moet weerspieël word. Hy het rugby nie net klinies gebruik as instrument om swart en wit te herenig nie. Hy het werklik omgegee vir my as mens.” Destyds het Madiba uit die bloute by Silvermine buite Kaapstad opgedaag om die Springbokke net voor die eindstryd te motiveer. “Skielik het ons die klank van helikopters gehoor en daar klim Nelson Mandela uit! Dit was totaal onverwags, ons kon dit nie gló nie. Dat dié groot staatsman bereid was om na óns ‘kantoor’ (die rugbyveld) te kom. Dit het ons diep geraak en absoluut begeester om te wen. “Toe ek hom die eerste keer voor die Wêreldbeker in 1995 by die Uniegebou in Pretoria ontmoet het, was ek ’n bietjie senuweeagtig. Maar hy het my gou op my gemak laat voel en staaltjies van sy tuisdorp, Quno in die Oos-Kaap, en van Robbeneiland vertel. Dís ware leierskap. “Hy was by ons troue en ná Jean se geboorte het hy ons gebel om ons geluk te wens en te vra of hy Jean se peetpa kan wees. Stephane het twee jaar gelede, toe ons Madiba besoek het, gevra of hy nie ook sy peetpa kan wees nie!” Madiba het vir albei seuntjies ’n Xhosa-naam gegee: Jean noem hy Mkhokeli, die leier, en Stephane is Gorha, die dapper een. François se seuns is ook dol oor rugby. “Rugby het my ontsettend baie geleer oor die lewe. Daar’s altyd ouens wat beter of swakker as jy is. Ek kan ’n boek skryf oor sport. Alles in die lewe gaan oor spanwerk en strategie.” Dit het hom ook die kans gegee om die wêreld plat te toer. “Nadat ons gesin ses jaar in Engeland gewoon het, wóú ons terugkeer SA toe.Dit bied die beste onderwysstelsel vir ons kinders, ons het verlang na ons familie en vriende – en waar in die wêreld kry jy dié wonderlike leefwyse? Almal kan van SA ’n beter plek maak as hulle net hul deel doen en ophou kla. Sedert die eerste demokratiese verkiesing veertien jaar gelede het Suid-Afrikaners al ongelooflik presteer.” Nes François-hulle, daardie Junie-dag op Ellispark . . . Lees meer oor MAD by www.themadbunch.com  Bykomende bronne: www.people.com; www.thetimes.co.za; www.rugbyworldcup.com; www.rugbyheaven.com.au Matt Damon
Toe hy die draaiboek van The Untitled Mandela Project* lees, het Matt dadelik geweet: “Ek’s in!” Selfs al sou hy nie die hoofrol vertolk nie. In hierdie fliek móés hy speel . . . Dit het alles begin met skrywer John Carlin se voorstel aan akteur Morgan Freeman: Wat as hulle ’n fliek maak van sy boek Playing the Enemy: Nelson Mandela and The Game that Made a Nation? oor die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning in 1995 en hoe rugby en Madiba die reënboognasie verenig het. Morgan het nog altyd gedroom oor ’n kans om Nelson Mandela te speel en hy’t geweet sy vriend en regisseur Clint Eastwood is dol oor rugby. Só het dit gekom dat al dié groot Hollywood-name in SA is vir die verfilming van The Untitled Mandela Project. Matt (38) speel die rol van die geliefde Springbokkaptein François Pienaar. Toe hy die eerste keer vir François sien, was sy woorde: “What a beast!” Want nes baie ander mans is Matt heelwat kleiner as die voormalige Bok-flank. Chester Williams, rugbyafrigter en -konsultant wat vleuel was in die 1995-span, neem Matt ’n paar keer per week onder hande om die rugbyreëls te leer: Hoe om te tackle, in lynstane te spring, drieë te druk en te skrum. Volgens Chester is hy ’n vinnige leerder en ’n “harde mannetjie” wat beslis François se rol oortuigend kan speel. En toe Matt hoor van die Cape Argus Pick 'n Pay-fietstoer het hy besluit om saam met François daaraan deel te neem. Hy’t ’n verswikte enkel gehad ná ’n besering op die rugbyveld, maar het nogtans die wedren op ’n tandem voltooi, in stormsterk wind, saam met sy broer, Kyle.“ Dit was wonderlik! Natuurlik sal ek dit weer doen!” het hy by die eindpunt uitgeroep. Nes François is Matt ook ’n model-pa en plat-op-die aarde-mens. Hy versamel nie sportmotors en seiljagte nie. Hy’t eerder ’n oop hand vir liefdadigheid. Hy’t beroemd geraak nadat hy en sy groot vriend Ben Affleck in 1998 ’n Oscar gewen het vir hul draaiboek vir die goedvoel-fliek Good Will Hunting. Sedertdien was hy suksesvol in verskeie flieks soos Saving Private Ryan, The Talented Mr Ripley, die Bourne- en die Oceans-trilogie. Hoewel hy mal is oor sy werk, is sy groot passie sy gesin. Sy vrou, Luciana Barroso, met wie hy in 2005 getroud is, hou hom geanker, vertel hy. Hulle het twee kinders, Isabella (2) en Gia, wat verlede jaar gebore is. Luciana het ook ’n dogter, Alexa (11), uit haar eerste huwelik. Matt is lief daarvoor om sy kinders te laat lag. Dis vir hom die mooiste klank in die wêreld. “Kinders verander jou prioriteite. Toe ek enkellopend was, het ek net aan myself gedink en ek kon doen wat ek wil, wanneer ek wil. Nou moet ek hulle in ag neem.” Deesdae aanvaar hy nie sommer rolprentwerk wat hom té lank van die huis wegneem nie – of hy neem sy gesin saam. “Daar’s tien sakke en ’n wavrag vol goed wat saamgaan. Dis malligheid, maar ek is dol daaroor.” Hy waak streng oor sy persoonlike lewe en koes vir die paparazzi. Te veel aandag maak hom senuweeagtig. “Ek’s ’n vrotsige celeb,” vertel hy. Wanneer die steelfotograwe buite sy huis uitkamp, het hy al dae lank binne gebly. Net wanneer dit by liefdadigheidswerk kom, gee hy nie om vir die kollig nie – dan kan dit mense se lot help verbeter. Hy het al self in Afrika kom kyk hoe ingesamelde geld gebruik word om kinders te help. En as sy eie kleinspan groter is, wil hy hulle saamneem op sulke sendings oorsee, sodat hulle kan sien hoe bevoorreg hulle is. Hy sien baie uit na die fliek oor Madiba, François en die Springbokke. Want soos hy sê: “Dis ’n storie wat jou hart warm maak.” En weet ons dit nie! * Werkstitel by SARIE se ter perse gaan. (Die fliek is sedertdien na Invictus herdoop) WAAR WAS JY TYDENS DIE WÊRELDBEKER-SEGE IN 1995?