Ja, sy het die verhoogpersoonlikheid van die Flooze, maar daar is 'n ander kant van Sorina wat mense nie baie goed ken nie. In haar nuwe album, Ek watch jou!, wat einde Augustus verskyn, kan aanhangers haar beter leer ken.

"Sorina se liedjies is mooi en vroulik, laat jou goed voel en gaan jou soms laat huil, terwyl die Flooze se tunes 'n paar zef treffers inhou vir die mense wat die lewe met 'n sin vir humor en 'n knippie sout aandurf," het sy in 'n onderhoud met sarie.com gesê.

Een van die liedjies op die nuwe album, "'n Laaste bietjie hoop", gaan oor mense wat geliefdes aan die dood afstaan weens kanker. "Ek en my man, Braam, het in 'n kwessie van twee weke vyf mense in ons binnekring verloor aan dié siekte."

Dit was vir hulle 'n baie moeilike tyd, en Sorina het op Facebook daaroor geskryf.

"Die reaksie wat ek van my aanhangers af op Facebook gekry het, was oorweldigend. Ek het nooit besef hoeveel mense elke dag op een of ander manier deur kanker geraak word nie. Ek het net daar besluit ek moet eenvoudig 'n liedjie daaroor skryf om HOOP te gee ten spyte van die verwoesting wat kanker in mense se lewens saai."

So is "'n Laaste bietjie hoop" gebore – in ’n vliegtuig tussen Kaapstad en Johannesburg. "Die woorde het net gekom, asof God dit in my mond geplaas het. Die boodskap daarvan is vasgevang in die laaste paar woorde: 'Kanker verwoes en verniel die mens se bestaan, maar dit kan nie God vernietig nie en Hy sal deur dit alles met jou gaan.'"

Nietemin kon niks Sorina voorberei op die skok toe haar musiekvervaardiger, Christa Steyn, midde-in die vervaardiging van die liedjie met kanker gediagnoseer is nie.

"Dis asof die wêreld gaan stilstaan het. Nadat ek die liedjie geskryf het, was daar geen twyfel dat Christa met haar briljante musikaliteit die produksie van hierdie brose liedjie moes doen nie. Ons was reeds drie maande besig met die produksie toe ons die slegte nuus gekry het.

"Dit was bitter moeilik vir haar om die liedjie te voltooi, maar tog het dit vir haar ook baie genesing gebring.

"My vriendskap met Christa kom al 'n lang pad en sy was van die begin af betrokke by my musiek. Dit was sy wat die produksie van my eerste album, Engel met 'n angel, gedoen het."

Sorina vertel dit was Christa wat haar moed ingepraat toe sy jare gelede vir ’n Crescendo-kompetisie ingeskryf het waar sy ’n beoordelaar was. "Ek het een van my eie komposisies gesing en Christa was ongelooflik beïndruk met my vernuwende styl. Sy het vir my gesê ek moet aanhou met wat ek hier create het en haar opbouende kommentaar het my hoop gegee."

Gevra of dit soms moeilik is om ernstig opgeneem te word as gevolg van die Flooze, antwoord Sorina sy is nie veel gepla nie. "Ek weet wie ek is, en my God, my man, my familie en vriende weet wie ek is."

Sy glo sy bereik baie mense deur die Flooze te wees omdat sy vir mense wys dit is oukei om jouself te wees, al is jy anders. "Deur die Flooze te wees wys ek vir kinders dit maak nie saak wat mense van jou dink nie, of van watter klas jy afkomstig is nie. Solank jy gelukkig is." 

Meer oor die nuwe album, Ek watch jou!

"As jy gedink het Hoezit my Tjomma! was 'n riller, wees dan gewaarsku, want Ek watch jou! is 100 keer wilder . . .

"Maar dié keer klim ek ook in die kryt om gestroop te staan en die binnekant van my hart te wys. Die Flooze en Sorina kom gesig aan gesig teen mekaar te staan om die ultimate vraag te vra: Wie is ek?

"En ek nooi elkeen uit om daardie ontdekkingstog saam met my mee te maak. Die CD is 'n samesnoering van emosies in die oortreffende trap – want ons lag dat die valstande rol, sing dat die kranse antwoord gee, dans soos kaalvoet-lovers in somerreën, leef asof die uurglas reeds uitgeloop het, en helaas, huil saam met almal wie langs die pad die stryd verloor het . . ."

Volg SARIE op Twitter en Facebook