Adele du Plessis, kommunikasie-direkteur, Revlon SA Adele du Plessis, kommunikasie-direkteur, Revlon SA
". . . jellie en Ouma se skons” My oupa het elke Kersfees gery en groot, mooi denneboom-takke gaan soek. As ek nou ’n dennebol sien of daaraan ruik, dink ek aan daardie tyd. En my ouma het skons gebak. Sy was die heel beste! Sy was ’n mens van uiterstes. Sy het 60 sigarette ’n dag gerook en sy was klein, moeilik en vurig, maar sy was ook sag en vol liefde. Sy het my altyd die engeltjie bo-op die boom laat sit en my laat voel asof ek haar gunsteling-kleinkind was! As volwassene hou ek steeds van groen en rooi jellie, maar ek hou nou meer van ’n eksotiese aanbieding daarvan – ’n kleurryke toring van tequila-jellies op ’n pragtige kristalbak! Ek’s steeds mal oor melktert en die geur van lamsboud. Al het Franse sjampanje, soesji, kreef, Skotse salm en oesters ook nou deel van my ideale Kersete geword, bly daardie oorspronklike geure dié wat emosie ontlok. Tye verander en ek hou van verandering. Deesdae vier ek Kersfees sommer ’n paar weke lank: Eers met vriende, dan met familie en dan by ’n spesiale plek omring deur geliefdes. Wonderlike geure, mooi musiek en magic mense om my is wat elke Kersfees spesiaal maak. My lietsjie-kruisement-en-sjampanje-skemerkelkie in groot glase is altyd ’n treffer. Dis die beste manier om ’n goeie Kerspartytjie af te skop. Dié jaar vier ek Kersfees saam met my geliefdes op Philadelphia aan die Weskus van SA. Jill Middlekop, aktrise en sanger Jill Middlekop. aktrise en sanger
“... ’n denneboom” Dit laat my aan my pa dink. Hy is vier jaar terug oorlede. Vandat ek kan onthou, het ons elke jaar ’n regte boom vir Kersfees gehad. My pa het elke jaar twee dae vóór Kersfees met die boom by ons huis opgedaag. Hy was puntenerig oor die Kersversierings. Elke versiering het sy spesiale plek gehad. Die kleure op die boom was vir hom belangriker as die boom self. Hy was mal oor silwer en rooi balle en fyn, glinsterende drade. Ons het na Kersliedjies geluister terwyl ons die boom versier het. Ná Kersfees het ek en my pa al die versierings versigtig afgehaal en weggepak sodat ons dit die volgende jaar weer kon gebruik. ’n Denneboom lig my gemoed. Elke Kersfees was anders omdat ons ’n nuwe boom in die huis gehad het. My pa was ’n Kersfees-freak! Omdat Kersfees altyd so spesiaal was, het ek tot vandag toe nog elke Kersdag by my ouerhuis deurgebring. Dié jaar gaan ek weer huis toe om dit saam met my ma te vier. Marlon Roelfze, akteur Marlon Roelfze, akteur
“. . . verf en laventel” In ons coloured gemeenskap het ons die manier om elke Kersfees te spring clean. En dit sluit alles in . . . van skilderye teen die mure afhaal en skoon skrop, tot die huis binne en buite oorverf. Ons het selfs die deure afgeskuur en oorgeverf. Dié reuk laat my altyd dink aan my grootwordjare as jong seun in Port Elizabeth. Die ander Kersreuk is laventel. Ek is mal oor lyfrome en opknappers. In 1995 het die mense wat saam met my as menseredders op King’s Beach in Port Elizabeth gewerk het vir my laventel-lyfroom vir Kersfees gegee. Elke keer as ek strand toe gegaan het, het die mense gevra wat ruik so lekker. Ek wil juis dié Kersfees saam met vriende in Port Elizabeth vier en gaan visvang. Robbie Wessels, sanger Robbie Wessels, sanger
“...snoek, gebraaide aartappels, malvapoeding en melktert” Die nostalgie het Robbie glad geïnspireer om ’n storie te skryf: In die vreemde stap ’n jongman in die straat af, vol verlange en hartseer omdat hy sy mense en geliefdes so mis. Hy’s op soek na iets wat hy ken, iets wat hom kan herinner aan waar hy vandaan kom. Die horlosie slaan middernag en hy ruik ’n geur in die lug wat hy ken. Hy loop in die rigting vanwaar die reuk kom, min wetend dat dit van alle kante af kom. Hy loop op en af in klein straatjies, by kafeetjies, groente en vrugtewinkeltjies, koffiewinkels en parfuumwinkels in, maar nêrens kan hy met sekerheid sê dis dít wat hy ruik nie. Dis of alles waaraan hy ruik ’n bestanddeel is van die wonderlike reuk wat hom omring. Hy klim op die hoogste gebou in die stad. Daar’s die reuk selfs sterker, maar steeds kry hy niks nie. Op pad ondertoe hoor hy ’n stemmetjie uit ’n hoek onder ’n trap: “Kan ek u help, Meneer?” Die jongman skrik en wil eers hardloop, maar besluit tog om na die stem te loop. ’n Klein, krom tannie staan daar met haar kierie en kombersie. Dit lyk of sy daar gaan slaap. “Wat lyk u so nuuskierig?” vra sy. “Mevrou,” sê die jongman, “ruik u dit ook?” “Ja, my kind. Dis al waarna ek heeljaar uitsien,” sê die tannie. “Die reuk is oral.” “Tannie, ek moet weet wat dit is wat my soveel vrede gee. Dit moet iets bekends wees.” “Dis die reuk van Kersfees,” sê die tannie. Toe tref dit die jongman. ’n Traan loop oor sy wang en hy gaan sit op die trappie langs haar, neem haar hand en maak sy oë toe. Hy besef hy’s nie vanaand die enigste een wat alleen op Oukersaand is nie. Met die tannie se sagte, koue hand in syne begin hy die reuk identifiseer: “Tannie, maak toe jou oë. Vir voorgereg het ons soutkoekies met salami, kaassmere, olywe, aspersies en vrugte. Vir hoofgereg het ons skaapboud met gebraaide uie, snoek, geelvis met gebraaide aartappels en groente. Vir nagereg het ons malvapoeding met vla en roomys en melktert. Op die radio speel ‘Little Drummer Boy’, want dis Oukersaand. En ons is nie alleen nie.” Dunay Nortjé, model en verloofde van sanger Kurt Darren Dunay Nortjé en Kylo
“. . . see en frangipani” Ons is ’n hegte familie en het ’n vakansieplek aan KwaZulu-Natal se suidkus waarheen ons elke Desember vir ’n maand gaan – al vir die afgelope 20 jaar. Daar’s ’n frangipani-boom net buite ons vakansiehuis en dit blom daardie tyd. Dit ruik ongelooflik lekker! My peetkind, Kylo (6), was al drie keer saam see toe oor Kerstyd en hy bring altyd vir die vroue frangipaniblommetjies. Ek móét myne in my hare sit. Ek mag dit ook nie laat rondlê nie; hy kry ’n bakkie met water waarin ek dit moet sit. Ons maak altyd vroegoggend geskenke oop. Kylo is gewoonlik eerste. En ons maak kos vir ’n koning: Kalkoen, eend, tong (waarmee my tannie my altyd terg, want ek gril my dood) en slaaie. Ons maak ook ’n punt daarvan om te onthou waaroor Kersfees gaan en ons dank die Here dat Hy ons vir nog ’n jaar gespaar het. Os du Randt, oud-rugbyspeler Os du Randt (middel)
“pepermenttert en . . ." Hierdie geur laat my dink aan my grootwordjare op die plaas buite Elliot in die Oos-Kaap, en veral aan my oorlede ma. By die Du Randts was dit ’n groot geëtery op Kersdag. My ma het altyd baie moeite gedoen. Sy het drie pepermentterte gemaak: een vir my, een vir my broer en een vir die familie. Nodeloos om te sê het die familie se tert nie altyd by hulle uitgekom nie! Vandag het ons die geneigdheid om te braai of ’n potjie te maak vir Kersfees, heel anders as toe ek grootgeword het. Op ’n manier voel dit dan of die Kersfeestye wat ons saam met my ma deurgebring het, beskerm word en spesiaal is. Dié Kersfees gaan ek na my pa, broer en twee susters op Elliot.