“Ek dink dis belangrik om jouself te leer ken in verskeie fases van jou lewe, om moeilike vrae te vra en eerlik te wees met jouself,” het sy aan SARIE.com gesê. 

Sy het ook geleer hoe noodsaaklik dit is om deur elke emosie te worstel. “Dit opreg te voel en te herken vir wat dit is. Sodra mens goed probeer eenkant stoot, borrel dit later net weer op. Dis nodig om die hartseer te voel en te beleef.”

Dis ongelooflik moeilik, bieg sy. “Maar aan die ander kant skep enige moeilike situasie weer spasie vir groei, mens moet maar net oop wees daarvoor.”

Lucinda was vir ’n paar jaar uit die kollig en musiekbedryf. Haar fokus was om haar Pilates-ateljee op die been te kry en haarself as illustreerder uit te druk. Maar musiek was nog altyd in haar bloed en sy kon nie vir lank sonder dit nie. 

“Ek het musiek gemis en dit was nog altyd vir my genesend. Dit maak my gelukkig. Ek is tog dankbaar vir die tyd wat ek nie voltyds in die bedryf was nie, mens kan dit nou vanuit ’n ander oogpunt ook benader,” sê sy.

Net soos die res van die wêreld is Lucinda vanjaar tot stilstand gedwing. Tog het sy die “stiller tyd” geniet - dit het haar gedwing om te reflekteer en innoverend te wees. “Ek het baie geteken en weer begin aanlyn Pilates aanbied, wat vir my baie vreugde bring. Ek het besef dat die stilstand nodig was vir my persoonlik, en ek dink baie mense voel dieselfde, asof die wêreld se konstante gejaag baie angs wek.”

Kuns uit die pen van Lucinda. FOTO Instagram / Lucinda Neethling
FOTO Instagram / Lucinda Neethling

FOTO Instagram / Lucinda Neethling

Die tyd het ook opnuut dankbaarheid gekweek, veral vir die lewe se eenvoudiger dinge. “Ek wil baie graag probeer aanhou eenvoudiger leef, en aanhou dankbaar wees vir die klein, alledaagse vreugdes waarmee ek geseën is.”

Hierdie komende Vrydag, 29 Mei, om 20:00, gaan mense die geleentheid hê om ’n e-vertoning van Lucinda by te woon. Die intieme, akoestiese vertoning is vooraf opgeneem, en bevat liedjies uit Die Melktert Kommissie-kanon - 18 jaar se nostalgie. Dis ook die eerste keer dat dit net Lucinda en haar kitaar gaan wees - voorheen sou sy en die hoofkitaarspeler Jean-Marie Korff dit saam aanpak. 

Koop kaartjies hier

Vir Lucinda was dit besonder lekker om die Melktert-liedjies só te sing. “Ek is mal oor ’n unplugged weergawe van enige song, of dit nou iemand anders s’n is of een van Die Melktert Kommissie. Dit voel altyd vir my asof die liedjie dan naaste aan sy oorspronklike vorm terugkeer, amper hoe hy gebore is.”

’n Roerende oomblik uit Lucinda se akoestiese vertoning wat op Vrydag 29 Mei gaan plaasvind. SKERMGREEP Youtube / Lucinda Neethling

Lucinda het self op ’n nostalgiese reis gegaan. “Dis amper asof mens weer jou dagboek van hoërskool ontdek en dan onthou mens tonne dinge. As jy die show kyk, sal jy seker sien ek glimlag nou en dan in die middel van ’n liedjie ... dis gewoonlik as ek iets onthou het wat my wil laat uitbars van die lag. Musiek is ’n time machine, dit neem mens dadelik na ’n oomblik waar die liedjie iets in jou opgewek het vir die eerste keer. Dis magies eintlik.”

In die lokprent sing Lucinda haar roerende lied “Engele kom”:

Haar stem ontroer jou siel. Sy is weerloos - die lied is immers in 2016 geskryf toe sy groot seer beleef het. Lucinda kon eers jare later dit voor ’n gehoor sing. “Maar ek het elke keer begin huil op stage. Ek het agtergekom dat mens se eie weerloosheid spasie kan skep vir ander mense om bietjie meer hulself te kan wees. Dit is vir my ’n mooi gedagte.” 

Dit is waarom sy altyd daarvan hou om dié lied te sing.

“Ons almal het ons maniere om met seer saam te leef ... daardie woorde het vir my gevoel soos ’n troosgeskenk van bo wat my bietjie rustiger kon maak as ek dit sing. Ek wil sulke dinge probeer deel.”

Musiek is kos vir Lucinda se siel. Daarom het sy grootliks haar huis daarmee gevul gedurende die tyd van inperking.

Hier is vyf van die liedjies wat sy geluister het:

“My top-vyf vir ups and downs wat ervaar word tydens lockdown.” 

1. Sophie Hutchings se “Your Heart” 

2. The Killers se “Caution” 

3. Joshua Hyslop se Hallelujah” 

4. Shallou se “Mutual Love” 

5. Etta James se “I just want to make love to you” 

Daar is nuwe musiek in die pyplyn, verklap Lucinda. “Sommer allerhande soorte nuwe musiek. Een is ’n nuwe single wat binnekort uitkom, baie anders as my ander musiek maar ek is vreeslik opgewonde daaroor.”

’n EP gaan einde September uitgereik word. En verder werk sy ook aan ’n kunsuitstalling. “Die hele uitstalling bestaan uit alles wat uit my balpuntpen vloei: stories, gedigte, liedjies en kuns. Dit is ’n mengelmoes van als waarvoor ek lief is.”

Koop kaartjies vir Vrydag se vertoning.