Die 29-jarige Stephen Segal is ons nuwe Mnr. SA. Hy sê dis sy liefde vir mense wat hom stof in die ander deelnemers se oë laat skop het. Charis Labuschagne dink dis eerder sy sin vir humor omdat hy haar gebel het, vermom as 'n Kentucky Fried Chicken-werknemer, om te hoor what's your order?

Was dit 'n kinderdroom om die titel Mnr. SA te wen?
Glad nie. My droom was om 'n branderplankryer te word of in flieks te speel.

Hoe het Mnr. SA dan gebeur?
Ek het 'n onderhoud met Dieter Voigt ('n voormalige Mnr. SA) op die internet gelees en gedink hy is 'n nice ou en besluit om in te skryf. Dit was 'n lekker uitdaging. Ek was verras toe ek wen.

Wat wil jy met jou titel bereik?
Ek wil graag 'n verskil in die land maak en mense inspireer. Vóór ek ingeskryf het, was ek erg oorgewig. Ek het 27 kg in 5 maande afgeskud deur 'n gesonde eetplan en streng oefenprogram te volg.

Is jy bang om weer gewig aan te sit?
Beslis! Ek is verslaaf aan sjokolade. Ek weeg 3 kg meer as toe ek gewen het. Mense sê ek lyk beter met die ekstra gewig, want ek was dalk bietjie té maer. Ek leef gesond en is nou verslaaf aan oefen. Hopelik weeg ek nooit weer 110 kg nie.

Hoe voel jou vrou, Adele, oor jou kroning?
Baie opgewonde. Sy het my ongelooflik ondersteun, veral as my sjokolade-lus te groot was!

Is jy 'n seks-simbool?
Jislaaik! Ek? Ek dink nie so nie. Nee.

Verwar mense jou soms met die Amerikaanse aksieheld Steven Seagal?
Almal maak grappies met my daaroor.

Wie is die ware Se(a)gal?
Wel, ek het meer gesiguitdrukkings as Steven Seagal en ek dink ek is snaakser. Hy is old school. Ek is new school.

Wil jy ook 'n TV-aanbieder word soos vorige Mnr. SA's?
Ja! Om Mnr. SA te wees is amper soos 'n voorvereiste. Ek wil in Michael Mol se voetspore volg en sal graag op Top Billing wil wees.

Jy word in Oktober 30. Is jy bang daarvoor?
Dertig moet tog net nie kom nie, maar ek dink ek gaan groot partytjie hou.

Hoekom het juis jy Mnr. SA gewen?
Ek is baie sosiaal. Ek maak maklik vriende en is gek oor mense. Ek het maklik oor die weg gekom met almal en ook Mnr. Persoonlikheid gewen.

Wat doen jy vir 'n lewe?
Ek is 'n professionele fotograaf en stel veral belang in mode-fotografie. Ek het ook begin om modelwerk te doen.