Die SARIE-span is dol oor die lekkerruik- en mooigoed by die nuwe Poetry-winkels, waar jy unieke, eklektiese produkte spesiaal vir vroue sal raakloop. Van kasjmier-rokke en truie tot juwele, handgemaakte seep, koekies, kussingslope en velsorgprodukte. Kyk uit vir bv. 'n fotoraam met Indiese kralewerk en 'n handgeverfde muurlamp wat lyk soos iets uit Italië in die 1940's.

Poetry is deur 'n klein groepie mense begin wat lief is vir items wat die verbeelding prikkel en jou inspireer. Dis die eerste winkel in sy soort van dieselfde familie wat die Cape Union Mart-groep gestig het.

"Ons het besef daar is verbasend min winkels waarheen vroue kan gaan om eksklusiewe, unieke items te kry ­ én waarde vir geld," sê Cape Union Mart se bemarkingsbestuurder, Evan Torrance.

Martine Vogelman, wat deel is van die onderneming, sê jy sal nie net gemaklik voel in Poetry-winkels nie, maar ook egte opwinding ervaar. "Alles is oud en alles is nuut. Dís die wêreld van Poetry."

Daar is reeds Poetry-takke in Cavendish Square, Kaapstad en die Garden Route Mall in George, met nog takke wat vanjaar by Tygervallei, Hyde Park, Canal Walk en in Pretoria en Durban hul deure vir jou sal oopmaak.