Die professionele joernalis. Skerp kyk, skerp vrae. Carte Blanche-kykers ken Ruda Landman al jare só. Maar toe die bomme ontplof, was sy in Londen – as ma.

deur RONEL NEL
foto’s PHYLLIS GREEN

Ek was op die punt om dié artikel te stuur toe die SMS kom: Ek in Londen by Johannes. Ons in dorpie buite die stad. Hou hande vas en kuier. Dit was skaars ’n week ná die dramatiese bomontploffings in dié stad. Ruda stuur by navraag ’n e-pos: “Johannes en sy vriende is OK. Hulle bly aan die buitewyke van Londen, en is nie regtig deur die ontploffings geraak nie. Was trouens nie eens heeltemal bewus daarvan tot ’n dag later nie. Hulle is ’n vierstuks jong Suid-Afrikaners wat van huis tot huis gas verkoop om genoeg te spaar vir studies en toekomswense. Koerante en nuus is nie heeltemal ’n werklikheid in hul daaglikse roetine nie. “En hul houding is: Die lewe gaan aan … Nie sonder meelewing en empatie nie, maar môre is môre. Ons het mos in Suid-Afrika grootgeword. In ’n mate is hierdie situasie vir my soos Suid-Afrika in die tagtigs.” Ruda Landman se seun was nie naby die hart van die ontploffings nie, maar sy was binne ure daar om self vas te stel wat presies aan die gang is. Aan die een kant, die ewige joernalis. Aan die ander – dieper – kant, die ma. Die versorger. Die spil.

Wie is die vrou agter die VROU?
Agter die hoofletter-mens, vreeslose, op-die-punt-af-joernalis, ook onlangs aangewys as slegs die tweede vroue-direksielid van Media24 (SARIE se moedermaatskappy), direksielid van die Hoërskool Helpmekaar, ook raadslid van die Universiteit Stellenbosch. Ons wil weet van háár. Wie is sy, hoe dink sy, hoe leef sy, wat is in haar kop, hart en lewe. Dit kan tog nie te moeilik wees nie? Ons ken haar mos ’n bietjie. Weet van haar liefde vir boeke, die passie vir musiek en films, die gesonde leefstyl. Maklik … Verkeerd. Ná ’n gesprek van twee uur vind jy uit jy het nie eens begin om te vermoed nie. En begin jy met mense na aan haar, rondom haar, gesels, word die prentjie nog meer kompleks. En kontrasterend. Sterk. Warm. Professioneel. Empaties. Kwaai. Meelewend. Intellektueel. Passievol. Volwasse. Prettig.

Salomé Brown, een van Ruda se hegste vriendinne, beskryf haar soos volg:
“Ek en Ruda ken mekaar van 1971 af. Ons was saam ‘Botha Babes’ in die weermagkollege vir vroue op George. Tóé al het sy haar onderskei, en behalwe dat sy op alle gebiede presteer het, was sy ’n baie nice vriendin, wat altyd reg was vir ’n bietjie sports. Uiteindelik is sy vir haar prestasies daardie jaar met die toekenning as die beste student beloon. “In die afgelope aantal jare het ons werklik nader aan mekaar gekom en vandag tel Ruda (en haar man, JP) onder my hegste vriende. Ons gesin verwys na hulle as ons ‘sielsfamilie’. “Ruda is een van die lojaalste en meelewendste vriendinne waarvoor mens kan vra. Sy is altyd toeganklik en gemaklik en gesellig. Die tyd wat ek saam met haar deurbring, is ’n belegging waaruit ek altyd iets wonderliks kry. Ons kan ure met mekaar gesels – soms oor ditjies en datjies, meestal oor dít wat vir ons albei saak maak en altyd met ’n wedersydse belangstelling. Vir my, in kort, is dít wat vriendskap is. “Hoe sien ek haar? Sy is ’n besondere mens. Sy is vrolik, prettig, speels, ernstig, baie slim, kreatief en op emosionele én spirituele vlak ’n aanwins vir almal met wie sy in aanraking kom.”

Die vervaardiger van Carte Blanche, George Mazarakis, lag toe ek hom oor Ruda uitvra. (Bietjie senuagtig, dog ek in my enigheid.)
“Nee, ons het ’n ‘gesonde’ werkverhouding. Dit beteken dat nie een van ons vir die ander een stilbly nie. En sy is natuurlik een van die mees belese mense wat ek ken. Sy het ’n fenomenale boekekennis. Dit kan nogal skrikwekkend wees.
“Maar deur die loop van die jare het ons goeie vriende geword. Mettertyd het sy bietjie versag en ek het bietjie grootgeword, dus werk dit nou goed! As mens verder as die doeltreffende buitelaag kyk, is daar ’n wonderlike, warm vrou met geweldige empatie en medelye vir haar medemens.
“Sy is veral ’n uitstekende luisteraar, wat natuurlik help in haar werk. Maar wat ook beteken dat sy werklik ’n oor het as iemand probleme het.”
Derek Watts, wat van die eerste uitsending van Carte Blanche 17 jaar gelede op 21 Augustus 1988 saam met Ruda op stel was, beaam George se mening.
“Sy het, veral op stel, ’n sterk en akademiese aanslag. ’n Sterk sin vir die etiese en die regverdige. Maar sy is ook heerlike pret om mee saam te werk. En as mens ’n skouer soek om op te huil, is dit gewoonlik hare. Sy het werklik ’n hart van goud.”
Ruda erken dat sy en George mekaar in die eerste nege jaar van die nou tien jaar lange samewerking “amper vermoor” het. “In daardie stadium – sewe jaar saam – was ons ’n klein, intieme span. Iets soos familie. En George het van ’n ander dissipline gekom. Hy was ’n sakeman, hoewel in die joernalistiek. Natuurlik wou ons nie ons ereplekke as mede-eienaars van die show afstaan nie! Maar … dit het gewerk. En werk steeds. Ons het nou wedersydse agting vir mekaar.”
Daar loop wel ’n skinderstorie dat al die vroue op die produksiespan van Carte Blanche uitgeloop het toe daar sprake was dat Ruda moontlik deur ’n “jonger” aanbieder vervang gaan word. Sy self weet nie daarvan nie. Ander bronne bly ook tjoepstil daaroor.

Maar goed, hoe is dit om ouer te word in so ’n “jong”, visuele bedryf?
Ek is nou eenmaal té Calvinisties of wat ook al om aan ’n face lift te dink. En boonop gril ek as ek daaraan dink! Ek het onlangs my eerste insetsel self vervaardig en dit was ’n hengse thrill. Dink dis waarheen ek myself sal stuur: Mens kan tog nog agter die kamera staan en dink al is jy tagtig. Maar om nou al te wil planne maak vir daardie tyd, is tyd mors. In ’n mate is ek fatalisties. Of wag, dis die verkeerde woord. Laat ek dit so stel: Ek het nog nooit regtig gesoek vir geleenthede, werk of andersins, nie. Iewers het daar nog altyd ’n deur oopgegaan.

Jy was in 1971 een van die eerste innames by die Vroue-leërkollege op George. Hoekom en hoe was dit?
Dit was beslis nie ’n strategiese besluit nie. Bedoelende: Ek het, nes die meeste kinders vandag, ná skool nie ’n clue gehad wat ek wil doen nie. Daardie tyd was dit soos om vandag oorsee te gaan vir jou jaar ná matriek. Ek het op Keimoes grootgeword, en albei my ouers was onderwysers. (Hulle is albei in 1984 oorlede.) Ek moes dus iéts doen voordat ek kon besluit wat om met die res van my lewe te maak. Behalwe dat ek daardie jaar ’n paar goeie vriendinne gemaak het, het dit nie eintlik veel beteken nie. (Sy staan op om die swembadpomp af te sit.) Mens kan nie praat met so ’n gebrom op die agtergrond nie!

En toe? Jou lewe ná diensplig?
Ek het besluit om te gaan swot. Wou eintlik joernalistiek doen, maar daardie tyd het Naspers mos nie beurse vir vroue gegee nie. Ek sal nooit vergeet nie: In die onderhoud het iemand nog vir my gesê: ‘Vroue hou nie. Dis nie die moeite werd om vir julle beurse te gee nie.’ Vandag wentel die joernalistiek rondom vroue! Ek het toe onderwys gaan studeer en eers by Die Burger gewerk en daarna twee jaar lank Engels gegee by ’n skool op Stellenbosch. (Wat sy nie vertel nie, is dat sy onder meer in haar studentejare lid van die universiteit se studenteraad was. Dat dit ook daar was dat sy haar man van 27 jaar, JP Landman, ontmoet het.)

In daardie tyd het ek ’n stemtoets by die SAUK gedoen – en dit gedop! Ek was nog so oningelig …
‘Wie of wat is die volgende: Kigali?’
‘Nee, ék weet nie.’ (Sy praat lakonies. Met ’n bietjie selfspot.)
Maar die volgende keer was ek paraat, en ek het die tweede toets geslaag.
En toe bel hulle my twee jaar later … Ná ’n rukkie daar het ek egter ’n tweereëltjiebrief gekry wat sê dat my ‘voltydse betrekking opgehef is’. Sonder verduideliking.
By navraag het ek agtergekom dat ’n paar ouens bietjie ongemaklik met my politiek was.

Hoe het jy toe uiteindelik op die kassie beland?
Wel, my stemtoets was nog op die register. Nadat ek toe by SARIE gaan werk het – destyds nog onder Fritz Joubert en later onder Izak de Villiers – kry ek eendag ’n oproep van Friedrich Stark. Hy soek aanbieders. My eerste verskyning voor ’n kamera was: ‘Staan daar onder ’n boom en sê iets!’ Hulle was besig om ’n nuusleesspan saam te stel. ’n Paar jaar later is M-Net gestig, en toe hulle my vra of ek daar wil kom werk, het ek dadelik ja gesê. Carte Blanche was een van hul eerste oorspronklike programme, en toe hou dit ‘vir ewig’.

En jou lewe nou?
Benewens my werk bestaan my lewe uit JP en Johannes. Ons is ’n driemanskap. Net verlede week was die drie van ons saam met die Esterhuyses (Willie, die filosoof/ekonoom en sy vrou, Annemarie) in Egipte. Dit was ’n fees! Annemarie kon ons deurentyd meer vertel van die plekke waar ons is. Ons het ’n week lank op die Nyl gevaar. En ons het in die Rooisee gesnorkel – die water is so lou, en die wêreld onder daardie oppervlak so ruim en beeldskoon … ons het letterlik die hele dag op die see gedryf met ons koppe onder die water. En natuurlik ons sitvlakvelle afgebrand!

Almal maak melding van jou leeslus. Jou huis is vol boeke. Wat lees jy?

Enigiets. Steinbeck, Graham Greene, Deon Meyer … Deon skryf wonderlik, hy gebruik ons geskiedenis, maar nie soos in Disgrace of Forgiveness nie. Sonder waarde-oordeel. Ek het sy een karakter, die Xhosa-biker, veral verskriklik geniet. Ek het ’n storie nodig, ek wil wegraak in ’n ander wêreld as ek lees. Op die oomblik lees ek baie crossoverboeke. Harry Potter, byvoorbeeld. Ek het al die boeke gelees en al die flieks gesien! Het die Afrikaanse vertalings veral geniet. Robertson Davies. Margaret Mahy.
Ek het onlangs ’n Duitse jeugskrywer, Cornelia Funke, ontdek. Haar Inkhead is ’n kragstuk. En elke vyf jaar móét ek die hele Keurboslaan-reeks weer lees!

Vertel meer van Johannes?

Hy het verlede jaar matriek geskryf, en hy en drie van sy maats het besluit om in Engeland te gaan werk. Hy is ’n buitengewone mens. Ek mis hom verskriklik! Dit was altyd ons drie. Ons was nog nooit ouers-en-kind nie. Omdat een van ons meestal weg was vir werk, het albei van ons, ek en JP, ’n unieke, naby-verhouding met hom opgebou. Ek sal nooit vergeet nie: Ek kom een aand van die werk af, ná ’n shoot, en daar lê die twee op die bank in mekaar se arms en slaap! Dit was vir my een van die mooiste gesigte wat ek nóg aanskou het. Ek en JP deel verskillende goed met Johannes. Hulle twee redeneer voortdurend, gesels oor die lewe en politiek. Die land se toekoms, sulke dinge. Ek en hy, weer, lees saam boeke en poësie, fliek en kyk naweke om video’s. Johannes se filmkennis is ongelooflik. Hy en sy vriende het byvoorbeeld so ’n speletjie. Een sal sê: verbind Katharine Hepburn en Michael Caine met mekaar. Dan moet hulle deur films werk om uiteindelik die twee bymekaar uit te bring.

Wat dink jy van ons jeug?
Sjoe, as ek so na hulle kyk, sien ek ’n generasie sonder bagasie. En met ’n sterk sin vir eie. Nou die aand, byvoorbeeld, bel ek Johannes. En waar is hulle? Het ’n bottel rooiwyn gaan koop en sit iewers op ’n heuwel en gedigte lees! Hier is vier doodgewone, jong Suid-Afrikaners. Rugby gespeel op skool, die hele ‘gewone’ ding. Maar hulle is nie vasgevang in ’n voorgeskrewe identiteit van byvoorbeeld wat jy moet doen om ’n ‘man’ te wees nie. Hulle is so gemaklik. Hulle interaksie met mekaar is onbevange. Die seuns en die meisies met mekaar en die seuns onderling. Gee mekaar maklik drukkies, byvoorbeeld. As ek nou dink hoe dit was toe ons jonk was! Ons was vol angs, vol skuldgevoelens en onsekerheid. Oor alles. Ons lewe was baie voorskriftelik, vol reëls. Ek beny hulle daardie vryheid wat hulle hulself toegeeien het. Ek het baie respek vir hulle.

Watse ouer is jy?
Ek glo aan totale openheid. My kind moet vir my enigiets kan sê. Ek sal nooit vergeet nie: Die eerste keer toe hulle byvoorbeeld te veel gedrink het, was dit reg hier, op hierdie stoep waar ons nou sit. En natuurlik het moeder die volgende dag heelwat te sê gehad: Sommer vir die hele spul. ‘Nou weet jy hoe dit voel. Volgende keer, voordat jy wegspring en alles net in jou keel afgooi, onthou die resultaat. En moenie op ander mense staat maak om die gemors agter jou skoon te maak nie!’ (Sy lag hartlik. Die situasie het haar klaarblyklik baie geamuseer.) Maar, die punt is, hulle het die vryheid gehad om dit hier, by die huis, te doen.

Jy is onlangs aangewys as direksielid van Media24. Hoe ervaar jy dit?
Ek dink dit sou vir my baie moeiliker gewees het as dit nie was dat ek vroeër drie jaar in die direksie van die Hoërskool Helpmekaar was nie. (Sy is tans die voorsitter.) Toe ek daar aankom, was daar net twee vroue in die direksie, en die res was sakemanne. Daar het ek geleer van lenings en rente, van direksie-verantwoordelikhede. Ek het aanvanklik niks geweet nie, maar het die vrymoedigheid gehad om vrae te vra as daar iets is wat ek nie verstaan nie.  Helpmekaar word soos ’n sake-onderneming bedryf, en die onderwysers en kinders voel beskerm, dis duidelik. Een van die voorwaardes, byvoorbeeld, is dat geen onderwyser ’n klas van meer as 18 leerlinge sal hanteer nie. Derhalwe ontvang die kinders beter individuele aandag, en is die taak van die onderwyser nie so oorweldigend nie. Maar in elk geval, die ervaring daar het my geleer dat geen vraag onnodig is nie. Dit beteken ek kan in die Media24-direksie vrae vra sonder om soos ’n fool te voel.

Wat wag vir jou, enige planne of toekomsvisies?
Ek het nie juis ‘planne’ nie. Hierdie Media24-ding is wel baie interessant. Ek is nou 51, en ek weet mens kan nie vir ewig voor die kameras wees nie. Ek het dit vreeslik geniet om daardie insetsel te maak, en sal graag meer by die kreatiewe proses betrokke wil wees. Dalk eendag meer reis, ook. Maar, soos ek in die begin gesê het, daar sal iewers ’n deur oopgaan. Ek glo dit vas.

***
Dis maklik om Ruda in Londen by Johannes voor te stel: Laatnagte saam met sy vriende om die tafel, ’n glasie rooiwyn of twee, en hartlike, openlike gesels. Want jonges en volwassenes is almal tog maar net mense.