Buite in die strate, bars Jakarandas uit hul nate en alles lyk van ver af so gesond. So´ weerklink die temalied van die gewilde kykNET-sepie Binnelanders al vir die afgelope 15 jaar. Oor die jare het talle sterre van dié sepie op SARIE se voorblad gepronk, soos Cindy Swanepoel (BO). Ons gesels met vervaardiger Elsje Stark en hoofskrywer Mitzi Booysen oor die hospitaalgange van Binneland.

Nadia Valvekens het die rol van suster Pippa Malherbe vertolk. Hier pronk sy op die voorblad van SARIE se Mei 2013-uitgawe.

Elsje Stark, vervaardiger:

Binnelanders is vanjaar 15 - ’n mylpaal vir enige sepie. Hoekom het jy besluit om ’n sepie in ’n hospitaal te laat afspeel? Waar het die inspirasie vir Binnelanders vandaan gekom?

Toe M-Net vir Stark Films, net meer as 15 jaar gelede, die kontrak aangebied het vir die vervaardiging van ’n nuwe dramareeks, was daar geen plaaslike reeks wat teen ’n hospitaal-agtergrond afgespeel het nie. Ons het dit as ’n leemte beskou. Natuurlik moes ons strategies dink of en hoe ons sou kon meeding met oorsese produksies soos Grey’s Anatomy en House. Maar ons het die kans gewaag en gereken dat eg Suid-Afrikaanse stories en karakters by kykers aanklank sal vind en die knoop sal deurhaak - wat gelukkig die geval is!

Die afgelope paar jaar het Binnelanders se storielyne ongelooflike sosiale kommentaar gelewer. Hoekom is dit so belangrik vir ’n sepie om ’n spieëlbeeld vir die samelewing te wees - is daar ’n fynbelans tussen vermaak en sosiale kommentaar?

Doyenne Anna-Neethling Pohl, ’n legende in die vermaaklikheidsbedryf, het destyds gesê as jy ’n boodskap wil stuur, gebruik die poskantoor. Net so probeer Binnelanders nie vir kykers ’n ‘boodskap’ stuur nie; ons probeer ook nie doelbewus sosiale kommentaar lewer nie. Binnelanders is bloot ’n spieël vir sy kykers en sê: “Kyk, dis hoe dit lyk of kan lyk in die samelewing; dis hoe mense kan optree in sekere omstandighede; dis die keuses wat hulle kan uitoefen, regtelik of verkeerdelik, as hulle onder druk geplaas word.”

Michelle Botes vertolk die rol van Ingrid Jordaan. Sy was die voorbladster van SARIE se Februarie 2020-uitgawe.

Watter Binnelanders-karakter (uit die hede of verlede) sal altyd ’n sagte plekkie in jou hart hê?

Dis ’n onregverdige vraag om ’n vervaardiger te vra! Al die karakters word vir verskeie redes jou lieflings – jy het hulle immers help skep.

As jy ‘n lid van Binnelanders kon wees. Watter beroep dink jy sou jy beoefen het - verpleegster, sjirurg, ongevalledokter of hospitaalbestuurder? 

Dis ’n vraag om ’n aktrise te vra, wat ek nie is nie. Ek werk agter die kameras!

Wat is die een les wat jy tydens die pandemie geleer het?

Covid-19 het opnuut bevestig dat niks in die lewe voorspelbaar is nie. As vervaardiger moet jy kan reageer op enige onvoorspelbare gebeurlikheid deur op jou voete te dink, koelkop planne te beraam en dan doeltreffend in werking te stel.

Rolanda Marais het die rol van Stefanie Malherbe vertolk. Hier is sy op die voorblad van SARIE se Julie 2009-uitgawe.

Mitzi Booysen, hoofskrywer:

Storielyne word dikwels maande vooruit gedink en geskryf. Hoe kom jy aan storielyn-idees - gaan sit jy dikwels in ‘n koffiewinkel en hou mense dop of fynkam jy koerante/tydskrifte opsoek na inspirasie?

Ek wens ons het tyd gehad om in koffiewinkels te gaan sit! Ons spertye is baie knap en ons werk altyd onder druk. Ons kry as ’n span inspirasie vir die meeste van ons storie-idees uit iets wat ons gesien of gehoor het, interessante artikels of selfs uit persoonlike ervaring. Die fyner besonderhede van die storie beredeneer en bepaal ons tydens storie-werkswinkels.

Feit en fiksie sal altyd verweef wees, veral as die sepie in ’n hospitaal afspeel. Voel jy dikwels gedruk om storielyne te lewer wat feitlik korrek is, maar steeds kan vermaak? Indien ja - hoe leef jy as skrywer met daardie druk?

Ons maak gebruik van mediese kenners en regsgeleerdes om feite so korrek as moontlik weer te gee. Waar dit veroorloof is, neem ons egter soms ’n bietjie van ’n kortpad ter wille van die kyker se kykgenot: Om ’n karakter byvoorbeeld vir drie maande in ’n  koma te sien lê, sou bloot vervelig raak. So daar is voortdurend 'n wisselwerking tussen feitelike korrektheid en fiksie - gebeure kan nie so onrealisties wees dat dit die storie ongeloofwaardig maak nie, maar dit kan ook nie altyd so honderd persent realisties wees dat die drama en spanningslyn verlore gaan nie. 

Simoné Pretorius het die rol van suster René Spies vertolk. Hier pronk sy op die voorblad van SARIE se Januarie 2019-uitgawe.

Binnelanders het al besonderse boeiende storielyne gehad. Kan jy ’n paar storielyne uitsonder wat steeds soms by jou spook of selfs ’nsagte plekkie het?

Daar is talle! Ek hou van stories soos die een oor Naomi se verhouding met Ferdi du Toit, en Naomi wat uitvind sy is Baba Eksteen wat kleintyd soos 'n groot speld verdwyn het. Ek is veral trots daarop dat ons daarin geslaag het om ’n multi-dimensionele karakter soos Annelize te skep - hoe meer stories ons met haar vertel, hoe meer ontdek ons van haar. Daar is immers baie dimensies aan menswees. Ons probeer juis deur middel van stories hierdie verskillende dimensies in elke karakter na vore bring.

Die karakter At Koster het talle aanhangers. Hoekom dink jy is hierdie karakter so geliefd? En het jy self al iets by At geleer?

Hans Strydom is ’n ikoon in die Afrikaanse film- en televisiebedryf wat die rol van die komplekse At Koster met soveel oortuiging vertolk dat dit hom net meer geliefd maak as wat hy reeds is.

Wat het ek al by At geleer?

At stel altyd sy familie eerste, maar dit beteken nie dat hy hulle vrye teuels gee om te doen wat hulle wil nie. Ek het ook by At geleer wat die gevare van ambisie kan wees, en dat niemand net goed of net sleg is nie.

Cindy Swanepoel vertolk die rol van dr. Annelize Roux. Sy was die voorbladster van SARIE se September 2019-uitgawe.