Negentien jaar gelede het die komediant Casper de Vries by die Laerskool Skuilkrans in Pretoria opgedaag om jong leerders dié vraag te vra: “Hoe lyk die Paashaas?”

Verskeie haasbekkies het ougat-antwoorde gegee: “Hulle is geel, en het eiers gebraai”, “Hy lyk soos ’n haas, maar het net langer ore” en “Dis mense wat soos hase aantrek”.

Een sesjarige seuntjie het egter harte gesteel met sý antwoord. Hy het twee dinge erken: Hy ken nie die Paashaas nie en hy hou nie van malvalekkereiers nie.

Sy antwoord het soos dié van ’n slim professortjie geklink. Sy naam? Werner Badenhorst.

Die video, wat ’n insetsel vir Die Casper Rasper Show was, sou van klein Werner ’n internetsensasie maak. Hy was daai jaar volksbesit en kykers het hom tot op die strande van Hartenbos herken.

Deesdae beklee Werner ’n administratiewe pos by ’n Pretoriase hospitaal. Sy ma, Karin Badenhorst Pulles, ’n bedryfsielkundige, vertel dat die lewe al ’n paar moeilike draaie met hom geloop het.

“Toe hy drie jaar oud was, is sy pa in ’n motorongeluk oorlede. Hy het daarna Aspergersindroom ontwikkel,” het sy aan SARIE.com vertel. “Ek is lief vir daai kind! Hy is eerlik en opreg, ’n ongelooflike persoon, en as jy moeite maak om hom te leer ken, te probeer verstaan, sal hy jou baie vermaak.”

Werner is haar enigste kind.

'n Jong Werner. FOTO Verskaf

Aspergersindroom (AS) is ’n steuring binne die outismespektrum. Lyers het nie aangebore sosiale vaardighede nie. Hulle is intelligent en klink soms soos wandelende ensiklopedieë. Maar mense met AS gaan dikwels sukkel-sukkel deur die lewe. Die wêreld verstaan hulle nie, en merk hulle as “vreemd”, “onvanpas” en “taktloos”.

 “Hulle is mense wat graag wil kontak maak, maar weet net nie hoe nie. Werner is vreeslik ordentlik, hy vertrou almal en hy wil graag almal help. En dikwels word hy misbruik en in die proses seergemaak,” sê Karin.

 Werner sal byvoorbeeld in die middestad iemand sien wat swaarkry en sy beursie daar en dan, ten aanskoue van almal op straat, uithaal. Dit het al gebeur dat die persoon hom aanrand en sy beursie steel.

“Ek moes al ’n paar keer vir hom sê om dit nie te doen nie. Maar Werner verstaan nie, hy wil net help.”

FOTO Verskaf

Karin, wat die afgelope 10 jaar ’n tweede keer getroud is, sê hulle het ’n gelukkige gesinslewe. “My tweede man, William, aanvaar Werner ten volle. Ons probeer hom bemagtig. Hy cope goed. Hy is dol op Marvel- en DC-flieks, en kan vir ure daaroor oplees. Ek gaan kyk soms saam met hom, dan sal hy my presies vertel hoekom hy nie van die fliek gehou het nie.”

 En eet hy al malvalekkereiers? “Nee, Werner hou steeds nie daarvan nie,” skerts sy. “Ons vier maar Paasfees met suiwer sjokolade.”

 Karin hoop die wêreld sal meer bewus raak van outisme en AS.

 “Probeer verstaan … die wêreld weet nie hoe om met hulle om te gaan nie, hoe om met hulle te praat nie. As my seun se storie bewusmaking kan skep, sal ek bly wees.”

Hoe Werner nou lyk. FOTO Verskaf

In SARIE se Mei 2008-uitgawe het Lydia van der Merwe oor Aspergersindroom geskryf:

Jy ken ook dalk só iemand. Of is sélf so. Ander mense vind jou “vreemd” – jy tree sosiaal lomp en eksentriek op. Wanneer moet jy wat sê, hoe naby moet jy aan ander mense staan en waar moet jy kyk? Jy weet nie dié dinge instinktief nie. Soos die 19-jarige AS-lyer wat geleer het jy moet vroue altyd eerste laat stap. Hy wóú die sosiaal korrekte ding doen. By ’n supermark kom ’n oorgewig vrou van voor af en hy sê vir sy maat: “Wag, laat die vet vrou eers verbykom.”

 MOONTLIKE TEKENS VAN AS

* Jy het nie aangebore sosiale vaardighede nie – soos om lyftaal te lees en ’n gesprek te voer.

* Jy haat dit as jou roetine verander.

* Het skynbaar ’n gebrek aan empatie; Jou stem is eentonig – sonder toon of klem op sekere woorde. Jy herken ook nie subtiele veranderings in ander se stemtoon wat die betekenis van hul woorde kan verander nie.

* Jy vermy oogkontak; Het een (of meer) belangstelling waarvan jy alles weet. Jy praat baie daaroor en voer dikwels ’n monoloog.

* Jou motoriese ontwikkeling was stadig. Jy leer laat om ’n bal te vang, fiets te ry of met ’n mes en vurk te eet.

* Jy is sensories baie sensitief, soos vir harde geluide, helder ligte, of sterk smake en teksture. Onthou: Nie een mens met AS is dieselfde nie.

KONTAK:

Outisme Suid-Afrika 011 484 9909/9923

Outisme Wes-Kaap 021 557 3573/021 556 2600

Unicaskool vir kinders met outisme, Pretoria 012 460 6539

Veraskool, Kaapstad (021) 696 2844

ASperger CONnections 021 715 5255 (Avril) of 084 513 1333 (Jana).