Veelsydig, aantreklik, gedissiplineerd. Jan Ellis het ’n ver pad gekom sedert hy Fiela se kind was – het selfs ’n twee-jaar-draai in Japan en 100 dae in ’n Zen-klooster gemaak.

deur RONEL NEL
fot o’s INGE PRINS
foto - konsep PIETER HUGO

Ek vang Jan Ellis net betyds voor sy tog na Transkei – “om my siel te gaan voed”. En om te gaan branderplankry. En hy en twee vriende gaan terselfdertyd rondkyk vir mooi plekke om te gebruik in ’n kort movietjie wat hulle beoog. Hy het kort tevore al sy hare afgeskeer vir sy rol in Swartskaap by die KKNK. Hy lyk seningrig en gesond, byna asketies. En daar is ’n stilte om hom wat mens sélf ook stil maak. In die bekroonde Swartskaap speel hy die rol van Morena, ’n laboratorium-skepsel wat spesiaal gemaak word om die land oor te neem en te regeer. Iets soos Rocky uit The Rocky Horror Picture Show of Frankenstein. Jan is in dié stadium besig met die skiet van ’n ander TV-reeks, Known Gods, in September op M-Net. Daarna volg die verfilming van die tweede reeks van Amalia, waarin hy natuurlik weer die rol van Loek Visser sal vertolk. Dit sal weer op kyk-NET en M-Net te sien wees. Daarin het hy nog sy lang haredos en ’n staalblik in die oë, want Loek is nie ’n aangename kêrel nie.

By ’n ete spesiaal vir die hoofspelers van die reeks is hy beskeie, innig, ontspanne – heeltemal die teenoorgestelde as die Loek-karakter wat hy so sterk uitbeeld. Jan is net 32 jaar oud, maar al ’n leeftyd in die film- en TV-bedryf. Ook op die verhoog, waar hy ewe tuis voel. Ons het hom as bloedjong, intense seun leer ken in Katinka Heyns se filmweergawe van Fiela se kind*, waar hy die rol van Fiela Komoeti se wit seun gespeel het. Sowat tien jaar daarna het hy die rol van Nollie Kemp in Paljas gespeel, weer vir Katinka – met ’n eerlikheid wat selfs die grootste kritikus geraak het. En sedertdien is hy bedrywig in sepies, op kunstefees-verhoë en agter die kamera as draaiboekskrywer, onder meer vir Villa Rosa, ook op kykNET.

Jan se kollegas in die toneelbedryf is vol lof en bewondering vir sy vermoëns as akteur – maar ook vir sy beskeidenheid en dat sy voete stewig op die aarde geplant is. Veral Katinka ken hom goed. “Jan het eintlik voor my grootgeword, dus het ek ’n sagte plekkie vir hom. Ek is meer soos ’n ma as ’n regisseur teenoor hom. Maar ek moet dadelik sê: Ek het baie respek vir sy integriteit en erns as speler. Daar is ’n vreemde resonansie tussen ons – wanneer hy stil is, kan ek hom amper beter lees as wanneer hy praat.


“Toe hy jonger was, het hy homself nie toegelaat om onseker te wees nie. Maar soos mens ouer word, laat jy jouself meer toe om uiting aan jou innerlike te gee. Hy is nie meer bang om emosies te wys nie, en gee altyd meer as wat jy vra. “Ek dink die sterkste element wat in Jan na vore kom: Al is hy uiters aantreklik – en hy werk hard om homself gesond te hou – maak hy nooit op sy uiterlike staat nie. Hy het die dissipline om teen sy ego te werk, en dis uiters belangrik vir ’n akteur so jonk soos hy.” Anna-Mart van der Merwe, met wie hy al verskeie kere die skerm en die verhoog gedeel het, stem saam.  “Ek het die voorreg gehad om in Wyn op te tree – ’n stuk wat Jan geskryf het. Die produksie is verlede jaar by die KKNK en ook by Aardklop opgevoer. Shirley, sy suster, het die regie behartig.  “Dit was regtig lekker om met iemand, ’n skrywer, te werk wat oop van gees is. Hy het ingesit tydens repetisies, en ons kon daaroor met hom praat. Jan het geen ego-probleme nie. En omdat hy self ’n akteur is, is daar by hom ’n oopheid en ’n ongelooflike bereidwilligheid om deel van die kreatiewe proses te wees. “Of ons nou op stel of op die verhoog saamwerk, dis altyd ewe gemaklik. As mens en as speler. Dis lekker om so iemand in die oë te kyk. As ons moet spring, is hy vreesloos.”

Wat doen jy op die oomblik?
Daai movietjie wat ons in die Transkei wou maak, is sedertdien klaar geskiet! Ons het kameras gebedel, klanktoerusting gebedel, mense gebedel om saam met ons aan die produksie te werk. Dit was ’n labour of love ... Ons begin nou redigeer en hoop daar gaan iets van kom. Die doel is nie noodwendig om dit te verkoop nie, dit was meer vir die lekkerte en vir die proses. Maar ‘n mens weet nooit nie – miskien stel iemand belang! Die onderwerp is egter ’n verrassing. Ek is ook besig om te skaaf aan ’n joernaal van my tyd in ’n Zen-abdy in Japan. Ek is besig om ’n manuskrip daarvan te maak, met foto’s en als.
Al is dit op die ou end net ’n tipe koffi etafelboek vir myself en my vriende, sal dit ook orraait wees. Ek wens partykeer net die dae is langer ...
Ek is ook besig met ’n nuwe play. En daar is die vooruitsig van ’n TV-reeks in die Kaap, en dan is ek steeds besig met ’n paar tekste vir Villa Rosa. Ek het doelbewus besluit om myself in die Kaap te vestig. Ek was van verlede Augustus tot nou in Johannesburg – onder meer om aan Amalia te werk. Wat ’n heerlike stuk! Daar is goeie gapings tussenin – mens word deel van ‘n familie vir ’n dag, en die volgende dag is jou belewenis weer heeltemal anders. Dis altyd tog nice om goed behandel te word. Op die Amalia-stel was almal goed voorberei, en dit spoor mens nog meer aan. Dis asof elkeen op stel, crew ingesluit, baie sensitief was vir die proses, en dit veroorsaak wedersydse respek. Katinka se teenwoordigheid op stel, haar persoonlikheid, trek die mense saam. Dis inspirerend, en maak dit makliker om jou konsentrasie te behou. ’n Positiewe gees. Dis verstommend dat mens soveel geestelike energie kan hê. Dit was wonderlik.

Som jou lewe tot nou in vyf sinne op …
Baie gereis, baie gesien, baie plekke in die wêreld gesurf. Ons het van kleins af op Hermanus vakansie gehou, en dit het my aan die see bekend gestel. Daarna het ek tussen Melkbos, Blouberg, die Weskus, Transkei en die Kaap geleef. Ek het alles wat te doen het met die toneelbedryf – teater, skryf, televisie, sing, ensovoorts – beproef, en dis waar ek myself steeds bevind. Die vyfde sin maak die meeste sin: My verhoudings met my familie en ander nabyes het gegroei, verdiep. Dis die grootste ding in ’n mens se lewe, dis wat altyd by jou bly.

Wou jy van kleins af toneel speel?
Nee, dit het per ongeluk gebeur. (Met Fiela.) Daar was ’n punt net ná skool toe ek geologie wou studeer. Klippe fassineer my tot vandag toe! Maar ek het aanhou speel, veral teater gedoen. Ek het tussendeur aan Unisa ’n graad in kommunikasiekunde en Engels behaal.

Wat is vir jou die lekkerste soort werk?
Ek het nie ’n gunsteling-medium nie. Die basiese konsep is dieselfde: Om die boodskap met erns oor te dra en om die outentieke inhoud van die werk wat jy doen te behou. Ek is baie bevoorreg om in al die media te werk. Dis ’n bedekte seën. Mens ontwikkel meer vaardighede as jy in al die genres werk. Elkeen bring sy eie verryking. Ek het onlangs in een week op vier verskillende produksies gewerk: Op ’n sepiestel, in ’n dramareeks, deelgeneem aan ’n kabaret en was deel van ’n regstreekse onderhoud-situasie. Mens spring op kort kennisgewing tussen style rond. Ek het baie vingers in baie pies!

Het jy ’n gunsteling-karakter wat jy al vertolk het?
Ek sal altyd ’n sagte plekkie hê vir James Blond (wat op die KKNK gespeel het, sowat 10 jaar gelede). Dit was ’n Chris Vorster-teks, en die begin van ’n nuwe beweging in die Afrikaanse toneellandskap. Dis slapstick en spoeg en sweet, maar dis ook vars en onmiddellik. Die reaksie van die gehore was ongelooflik!

Wie inspireer jou die meeste?
My suster, Shirley. Ook Katinka, wat my so te sê op skerm grootgemaak het. Maar Shirley het my gehelp om my kop op my skouers te hou, om geanker te wees in myself en om nie in die vervlugting van die bedryf verdwaal te raak nie. Ek is bevoorreg met die mense om my, het by almal iets geleer. By hulle kry ek aansporing, maar ook ’n sin van werklikheid. Oortuiging. Daar is eintlik baie liefde in dié bedryf.

Vertel van jou tyd in Japan?
(Hy raak byna nie uitgepraat nie.) Ek was amper twee jaar daar. Ek het Engels gegee, in Foekoeoka, wat op die Kioesjoeeiland lê. Ek het plekke soos Nagasaki besoek, die Vredespark, onder meer, wat ’n roerende ervaring was. Mense besef nie hoe die Japanse psige steeds swaar trek onder die atoombomaanval nie. Ek het ook In Japan gesurf en het vriende geraak met ’n klomp Japannese surfers. Waar ek skoolgegee het, was net een ander Engels-onderwyser. En ek het ’n hele paar vriende gemaak. Om in ’n Japanse huishouding ontvang te word is ’n eer en ’n besondere belewenis. Die mense is in die algemeen, en veral van buite af beskou, taamlik geslote. Maar as mens eers met hulle bevriend raak, gaan ’n ander wêreld oop. Hulle is geweldig lojaal en versorgend.
Ek het my swart gordel in judo gekry terwyl ek daar was. En gaan binnekort beslis ’n boek net daaroor skryf! Die graderingseremonie veral, dit was baie vreemd. Ek was die enigste gaijin (buitelander) in die klub. Hulle reëls is so anders. Jy moet byvoorbeeld vyf keer ná mekaar wen – as jy een beurt verloor, moet jy drie maande wag voordat jy weer kan probeer. Gelukkig het ek dit gemaak! Ek het ook soemo gesien terwyl ek daar was, die groot kompetisie in November. Dit was ongelooflik, die tradisie, die krag. En ek het die kunstenaar Prince in lewende lywe gesien in Foekoeoka! ’n Kragtoer.
Ek het gesorg dat ek die Japanse kultuur goed leer ken. So het ek moeite gemaak om Kaboeki te sien, ook No¯ (albei tradisionele toneelvorms). Daar is omtrent niks in die Westerse teaterkultuur wat jy daarmee kan vergelyk nie. En ek het feeste bygewoon. En ek het bofbal gekyk. Ek was ook op die lip van ’n lewende vulkaan. Dit was ongelooflik, ’n ervaring wat jou laat besef hoe klein ons eintlik is.
Ek brand om terug te gaan, dié keer met ’n kamera. Net ná my tyd in Japan het ek weer James Clavell gelees, Sh¯ogun. Dis eintlik ’n goeie beskrywing van die Edo-periode, wat ’n belangrike tyd in die vorming van die huidige Japanse psige was. Ek het baie gelees oor Zen. Die beginsels het my gevang. En snaaks genoeg, in my tyd daar het twee films uitgekom wat daaroor handel: Last Samurai en Kill Bill.

En die deel in die klooster?
Ek was in ’n Zen-klooster vir honderd dae. Presies honderd. Dis moeilik om daaroor te praat. Die ervaring was dualisties – aan die een kant glad nie betekenisvol nie, maar aan die ander kant was dit ’n lewensveranderende proses.  Die idee is om so min as moontlik te doen terwyl jy so veel as moontlik doen, as dit sin maak. Mens word onderwerp aan uiterstes – jy werk jou dood en dan weer sit jy tot jy nie meer kan sit nie. Dis nogal militaristies. Ek sou sê die hoofdoel is dat dit ’n sterk afbrekingsproses is van die ego. Mens staan in diens van ’n groter ding, besef jy.

Wat is jou gunsteling-plek – waar hou jy vakansie of gaan herlaai jy jou batterye?

Transkei. Dis werklik Afrika. En dis mooi, met ’n ware Derdewêreld-gevoel. Almal glimlag, en daar is ’n groot sin van vrede. Ek surf graag daar. Die plek bly die natuur se eiendom, die mense daar wil nie eienaarskap neerlê nie …

Wat lees jy graag?
Ek lees graag romans – soms is die waarheid in fiksie groter as in nie-fiksie. Maar ek lees ook nie-fiksie, veral oor kommunikasie-studies en taalontwikkeling.

Watter soort musiek luister jy as jy by die huis is?
Ek luister enigiets. Dansmusiek. Rock veral, en blues.

Wat is jou sterreteken?
Ek is ’n vis. ’n Tipiese vis. (Dit beteken hy is gefokus, en weet wat hy wil hê. Maar visse swem ook graag saam met die stroom, eerder as stroom-op. Hulle is empaties, sensitief vir ander mense se emosies, geneig om konfrontasie te vermy, maar skram nie daarvan weg indien dit op ’n keerpunt kom nie. En hulle is uiters kreatief.)

Watter uitdrukking irriteer jou die meeste?
In die algemeen is ek fine met gesegdes, tensy die werklike betekenis en waarde verlore gaan. Ek hou net nie daarvan as mense gesegdes as ’n weggooiding gebruik nie, soos byvoorbeeld as iemand sê: “Dit sal nie help om te kla nie,” terwyl hulle eintlik bedoel dit gaan uiters vrot.

Wat is jou slegste gewoonte?
My humeur. Dis verskriklik. Klein goedjies kan my nogal opwerk. Hoewel, tydens regte groot krisisse is ek baie kalm. Ek’s soos ’n hond wat allenig teen die aandwind blaf.

GUNSTELINGE
Kos: Japanse kos, okonomijaki veral. Dis amper soos ’n pizza, Japan-styl, wat met daikon (reuse-witwortel) gemaak word
Drank: Vrugtesap en water
Kleur: Oranje
Musiek: Rock, blues, sekere house-musiek
Boek: Enigiets van Tom Robbins en Gabriel García Márquez
Akteur/aktrise: Cate Blanchett, John Cusack, Javier Bardem
Reuk: Branders
Mens: My girlfriend
Tydverdryf: Surf!