Dinsdagdromer ... nóg ’n SARIEgesels-geleentheid!

Met ons eerste aanlyn kuier in April het ons saam met vroue van reg oor die wêreld die boodskap #JyIsGenoeg uitgedra.Ons het saam gelag en gehuil, maar ook praktiese lesse gedeel en vrae gevra om meer van mekaar en ons wêrelde te leer.

Uit hierdie gedeelde oomblikke het die besef gekom dat so baie van ons steeds voel ons is nie genoeg nie en so is #Dinsdagdromer gebore. Dinsdagdromer is ’n maandelikse SARIE-kuiersessie met van ons land se inspirerendste vroue.

Volgende Dinsdag, 30 Junie, deel die nuwe ma Donnalee Roberts ons virtuele bank met Elana Afrika-Bredenkamp, ’n ervare ma. Die tema is koffie en ma-wees met ’n hele paar verrassings! 

Koop jou kaartjie hier.

SKETS Something Els

Wie is die Dinsdagdromer-vrou agter Something Els?

Die kreatiewe siel Nadia Els woon al vir 13 jaar in Pretoria, maar het grootgeword in die Limpopo-dorpie Musina. Van kleintyd af was sy mal oor mode en klere. Ná skool het sy BCom (Hons) bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, juis om haar kreatiwiteit vlerke te gee, sê Nadia. Tydens die inperking het sy digitale illustrasies begin maak. 

Nou gaan sy vir elke Dinsdagdromer-geleentheid spesiaal die gaste teken.

Sy beantwoord ons vrae:

As jy die meesterbrein agter enige ontwerp, kunswerk of merkwaardige gebou kon wees, watter een sou dit wees en hoekom?

Ek was bevoorreg om verlede jaar die indrukwekkende Vryheidstandbeeld in New York te kon besoek. Hierdie standbeeld kan van verskeie kante gesien word, en straal vryheid, eenvoud en uniekheid uit. My lewe, wie ek is en my kreatiwiteit, vereenselwig met hierdie wêreldbekende standbeeld.

SARIE word vanjaar 71, hoe sal jy haar teken en wat sou sy dra?

SARIE laat my altyd aan my ouma dink, haar naam was ook Sarie, en sy was die opregste, goedhartigste, “sien-my-siening” mens gewees. Ek het verskeie foto’s van haar in die 70’s met haar groot bos hare, groot brille, wye rompe, wye broeke en so. Ek sal SARIE skets met groot bykomstighede wat dan die grootheid (wat aangaan in jou hart) van die mens weerspieel.

Wat beteken die woord Dinsdagdromer vir jou?

Dat daar altyd ander mense is wat jou in moeilike situasies of tye kan en sal help. ’n Mens het nie altyd die regte antwoorde op besluite of situasies nie. Ons moet die “middele” net gebruik! Moet nooit skaam wees om te vra nie ... dít het ek al menige kere geleer: Vra is vry, met die ja-woord daarby.

Hoekom het jy besluit om betrokke te raak by die Dinsdagdromer-projek? 

Ek sê altyd vir my vriende “You have to risk it to get the biscuit.” Ek was nog nooit bang vir enige uitdaging of om dinge te doen waaroor ander dalk sal aarsel nie.

Ek het gedurende die inperkingstyd begin om digitale illustrasies te maak. Ek het op ’n mooi foto van Donnalee Roberts afgekom en haar sommer so impromptu geteken en vir haar aangestuur. Min wetende dat ek deel sou word van Dinsdagdromer.

En hier is ek vandag, ’n paar tekeninge in saam met twee van ons land se inspirerendste, lojaalste en merkwaardigste vroue, Donnalee en Elana Afrika-Bredenkamp, asook een van ons land se bekendste tydskrifte, SARIE. My Dinsdagdroom, kan ek sê, het waar geword. Joune kan ook!