Dame Judi Dench versinnebeeld gravitas waarmee oud én jonk kan identifiseer.

Met haar elfie-haarstyl, stylvol geklee in ’n geblomde uitrusting van Dolce & Gabbana, loer sy ondeund na die kamera op die voorblad van die Junie-uitgawe van die Britse Vogue. Op 85 die oudste voorbladgesig nóg van ’n modetydskrif.

Hier is iemand wat sedert 1957 al haar staal wys as aktrise. Van haar eerste televisiereeks, Hilda Lessways, en haar rol as M in Bond-flieks soos Goldeneye regdeur tot Shakespeare in Love (waarvoor sy in 1999 ’n Oscar gewen het), is sy ikonies. Meer onlangs skitter sy in die guitige Best Exotic Marigold Hotel-flieks (juis oor hip ouer mense, tot Richard Gere verskyn daarin) en die verkwiklike verwerking van Agatha Christie se Murder on the Orient Express. Vanjaar is sy ’n gemmerkat in die rolprent Cats. En dís juis die punt. In dié distopiese tye, waar g’n mens weet wat wag nie, is sy ’n baken, iemand wat al gelééf het en op 85 sê: Ek is steeds hier en niks gaan my onderkry nie. Ook nie ’n virus nie.

Haar trooswoorde op die voorblad van Vogue ruk aan die hart en spreek van die wysheid van haar jare: “If a great deal of kindness comes out of this, then that will be a plus.

Ons smag na dié soort warmte. Geen ander tydskrif volg dié roete nie. Op die Amerikaanse Vogue se voorblad pryk die Israeliese aktrise Gal Gadot in ’n silwer aandrok in ’n strak woestynlandskap. Die nuustydskrif TIME wys foto’s van mense met maskers ... Maar hier, besef ons, is veel meer aan die gang as die verskyning van ’n 85-jarige op ’n glansvoorblad.

Vir seker, sê die antropoloog prof. Cees van der Waal van die departement sosiologie en sosiale antropologie aan die Universiteit Stellenbosch. “Die tydskrif waag om die skoonheid en besonderse waarde van die ouderdom uit te beeld. Die foto vestig die aandag op háár generasie en die baby boomers, gebore tussen 1946 en 1964, omdat hulle almal juis nou in die nuus is weens die pandemie. Ouer mense is nog meer kwesbaar as gewoonlik, veral dié met onderliggende gesondheidsprobleme.” En dit het wêreldwyd gelei tot ’n debat oor hoe generasies van mekaar verskil en wat die verhouding tussen hulle is. “Die geveg teen ‘ageism’ – vooroordele teen ouer mense – is ’n nuwe verskynsel. Dit het gekom in reaksie op dikwels eensydige uitsprake wat stereotipes oor ouer generasies ondersteun,” sê hy.

Die Judi-debat is ook ’n Suid-Afrikaanse een. Annelize Visser, leefstyl-redakteur van die aanlyn nuustydskrif VryeWeekblad (vryeweekblad.com) en ’n aanhanger van Dench, sê dié aktrise staan vir onafhanklike denke en bevraagteken dikwels sosiale norme, veral dié wat van toepassing is opvroue van ’n bepaalde ouderdom. “Sy is moedswillig en ek hou daarvan.” Annelize herinner ons dat Dench al in onderhoude verwys het na volwasse, geleerde vroue wat nie skaam is om ’n ding te sê soos dit is of mense op hul plek te sit nie.

Dench het in hierdie coronatye al 5,4 miljoen klikke gekry vir haar grappige Twitter-video waarin sy ’n prettige hondehoed dra met ore wat uitpop en kykers aanmoedig om aan tehou lag – en oud en jonk doen ewe gewillig saam. Sy het, terloops, op 81 haar eerste tatoeëermerk gekry (carpe diem, Latyn vir “gryp die dag aan”, staan in hoofletters op haar pols), het al jare lank ’n lover (haar man, die akteur Michael Williams, is in 2001 oorlede), is gek oor sjampanje en haar kleinseun bel haar daagliks, want hulle deel ’n passie vir Ed Sheeran se musiek en sokker.

Dis g’n wonder vele millenniërs twiet deesdae dat ’n mens háár geslag moet eer en beskerm nie. Annelize vertel Vrye Weekblad voel só sterk oor die hele ageism-kwessie dat hulle in drie agtereenvolgende uitgawes daaroor geskryf het. Adjunkredakteur Adri Kotzé wei uit oordie angs van mense in sorgsentrums (“Ons oumense se angsin die Covid-ghetto”, 1 Mei); ’n week later volg Anneliese Burgess, mederedakteur, dit op met ’n artikel, “Ouderdom is g’n rede om mense op die virus-altaar te verbrand”.

Annelize (Visser) se #gevorderdestyluitdaging op 15 Mei sê weer dit is bog dat die wêreld vir ouer vroue voorskryf wat hulle mag dra. Sy het vir dié mode-artikel sewe ouer Suid-Afrikaanse styl-ikone (meestal boomers), onder andere Jackie Burger, eienares van die styl-salon Salon 58, en TV-persoonlikheid Ingrid Jones, pasmaats gemaak met millenniërs soos Amaria Carstens, SARIE-moderedakteur, en opera-ster Lynelle Kenned. Hierin vertel die jonger vroue wat hulle by die ouer vroue leer van styl.

Die idee het sy gekry op die Instagram-blad van die New-Yorkse fotograaf Ari Seth Cohen. In sy Advanced Style-blog vir vroue ouer as sestig het hy hulle vroeër vanjaar met ’n soortgelyke uitdaging genooi om hul mode-uitrustings te deel. Só wou hy ouer mense eer – hulle wat ons nou midde-in die pandemie moet koester, maar dit was ook subtiele kommentaar op ouer mense as kanonvoer vir die virus, meen Annelize.

Die aktrise Sandra Prinsloo reken ageism is so taboe soos rassisme en seksisme – alles gegrond op “mites”. “Niemand gaan besluit ek is ’n ou tannietjie wat sekere dinge nie kan doen nie.” Op 73 is Sandra fikser as menige 40-jarige. Sy stap daagliks met haar twee labradors, Romeo en Olga, doen joga en pilates, eet gesond. “Ek dink nooit aan my ouderdom nie.” Tans stof sy ook haar bekroonde toneelstukke Oskar en die pienk tannie, Die naaimasjien en Moedertaal af vir aanlyn opvoerings tydens die pandemie. En sy sou vanjaar by die Aardklop-kunstefees, wat gekanselleer is, gedebuteer het met die eenvrouvertoning Spertyd, ’n verwerking van wyle Elsa Joubert se memoires oor oudword.

“Mense begin branderplankry of ballet doen in hul sewentigs of later. Dit gaan als oor jou kopspasie. My pa is op 96 oorlede, sy kop was klokhelder. My ma was al diep in haar tagtigs. Toe ’n vrou in ’n rolstoel voor haar verbyry, merk sy op: ‘Ek hoop tog net nie ek raak eendag so oud nie.’”

Sandra Prinsloo FOTO Leana CR

Sandra meen jy raak oud as jy nie meer wil waag nie. “As jy ouer is, het jy al die meeste dinge bemeester, ek sien kans virnog baie dinge.”

En ja, sy glo ook ánder mense máák jou oud. “Ek voel nog dieselfde as toe ek jonk was. Mense moet nie met my neuk nie, ek vra hulp as ek dit nodig het. Ons kan baie by die Franse leer oor wegdoen met stereotipes: Wie sê ouer vroue kan nie lang hare of kort rokke of hoë hakskoene dra nie?”

Sonja Herholdt, fyn, klein, steeds blond (nou platinum), is dolgelukkig getroud met haar sakevennoot en bestuurder, Mike Wannenburg. Die liefde hou haar jonk, maar ’n groot deel van haar jeugdigheid begin in haar kop en hart.

Haar leuse is: “To love, to learn and to leave a legacy.” En sy wil altyd relevant bly. Veral in die tegnologie.

Sedert 2013 toer sy en Mike landwyd om by kleuterskole én skole (graad R tot 3) ’n program oor lewensvaardighede aan te bied. Dít en haar musiek-motiveringsprogramme vir vroue is weens die pandemie tot 2021 uitgestel. Nou vervaardig hulle video’s in ’n ateljee in hul motorhuis in Randburg. Die Sonja en Tjokker-video’s, met grondslag-leertemas soos “Ek is uniek” en inligting oor die pandemie, is ses tot agt minute lank, humoristies, sommige met oulike liedjies. Jy kan dit teen betaling aflaai. (Vir meer gaan na watchaTV.co.za en klik op die “Tjokker en Sonja”-kanaal op die spyskaart.)

Sy vertel dit was eintlik in 2000, ná ’n slegte motorongeluk (en haar egskeiding in 1997), wat sy nuut oor haar lewe besin het, haar waarde besef en stem gevind het. “Ek het besluit die stelsel gaan my nie uitspoeg omdat ek ouer word nie.”

Sonja Heroldt. FOTO Verskaf

As jy relevant bly, bly jy jeugdig, glo ook Elsabé Daneel, aktrise, vervaardiger, kommunikasie- en media-strateeg. Dít was die wyse raad van een van haar broers ná hul ouers se heengaan. Elsabé gryp elke uitdaging onverskrokke aan. Sy reken die woorde van die Amerikaanse skrywer Ernestine Ulmer “Die lewe is onseker, eet die poeding eerste” kan maar op háár grafskrif staan. Die corona-tye maak haar nóg meer vasbeslote om die lewe in sy volheid te geniet. Tydens die grendeltyd het sy in Kaapstad by haar dogter, die aktrise Roeline Daneel en haar argitekman, Werner Lotz, deurgebring en gehelp om haar kleinkind Alexa op te pas. Om betrokke te wees by haar kinders en kleinkind hou haar jonk, die passies in haar lewe voed haar energie. “Ek hou my vlerke wyd oop oor daardie pêrels.” Akteurs behou hul jeugdigheid en gevoel van verwondering juis omdat hulle sin maak van die lewe deur stories, glo sy.

Voor die grendeltyd het Elsabé dit geniet om die matriarg Brenda te vertolk in die familiedrama Alles Malan, asook die karakter Elsabé Klopper in Projek Dina (albei op kykNET). Daar was ook Die negende stap saam met aktrise Marisa Drummond by vanjaar se US Woordfees, en ’n voorblad vir Vrouekeur, wat onlangs moes sluit weens die ekonomiese eise van die pandemie. Tydens die grendeltyd is sy gevra om opnames van kinderstories en -gedigte te maak en via WhatsApp het sy kommunikasieklasse vir individuele kliënte aangebied. Sy is opgewonde oor Rasende Ryme, ’n program waarin sy gedigte voorlees op maat van Wilken Calitz se geïmproviseerde klankbaan wat tydens die InnibosDigitaal-kunstefees opgeneem en uitgesaai is.

Genoeg stimulasie, maar ook goeie versorging is belangrik, volgens haar.

“Judi Dench sou nie op Vogue se voorblad beland het as sy nie ook goed gelyk het nie,” sê sy. As kommunikasiekenner wéét sy ’n mens se impak lê grootliks in visuele kommunikasie. “Die modeontwerper Marianne Fassler het eenkeer tydens ’n onderhoud vir my gesê jy moet nooit soos ’n tannie lyk nie.”

Net ná ons onderhoud kry ek WhatsApp-foto’s van ’n sexy Elsabé in ’n goue eenstuk met ’n platinum afro, 8 cm hoë ontwerpersandale. Twee jaar gelede het sy in ’n Franse wynadvertensie gepronk. “Ek het gesing en gedans vir die oudisie.” Die ene Marilyn Monroe. Sexy en smeulend. Die ses akteurs in goue kostuums doen waterballet in’n spoggerige swembad.

Sy is besonder vrot met tegnologie, bieg Elsabé, maar haar kinders of studente help. Sy weet sy sal Zoom nog moet bemeester vir haar aanlyn slypskole in die toekoms. “Ek ‘reis’ nou baie op my slimfoontjie. Ek het wonderlike herinneringe aan reise binne en buite Suid-Afrika en onthou elke detail: hoe dinge proe, hoe die lig val op voorwerpe, reuke.

“Dame Judi trippel as’t ware deur die lewe en het nooit haar verwondering verloor nie. Dit sit in haar oë. Máár sy beliggaam ook die wysheid en ervaring van haar jare, ’n gravitas. Ons lewe in onstabiele tye, niemand weet hoe die wêreld vorentoe gaanlyk nie. Vogue het besef ouden jonk kan identifiseer met dié tydlose ikoon, iemand wat sê ‘vertrou my, ek het gelewe.’”

Elsabé saam met haar kleinkind, Alexa. FOTO Instagram / Elsabé Daneel

Elsabé is dankbaar dat debatte oor ageism die jeug laat besef hulle kan ook leer by die baby boomers. “Ons hét nie so baie geleenthede gehad toe ons jonk was nie, maar ons kon vasbyt en was toegewyd. Millenniërs bewonder dit.”

Tog moet ’n mens nie vergeet nie dat mense soos emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en dame Judi se uniekheid hulle verhef bo die gewone generasie van ouer mense. Die meeste mense tree teen sewentig af en verloor dan ’n groot mate van hul invloed, meen prof. Van der Waal.

In ’n onderhoud waarin sy gevra word of sy planne het om af te tree, sê Dench “aftree” is ’n vloekwoord. Post-corona hoop sy om ’n episode van die BBC se Who Do You Think You Are? saam met Simon Curtis (regisseur van My Week With Marilyn) te skiet. In háár geval, spot sy, dalk eerder Who do you think you f*cking are?

In die Vogue-onderhoud is die bekroonde aktrise (sy het elf Bafta-toekennings buiten haar Oscar) geensins ontkennend oor die uitdagings van die ouderdom nie. Sy verpes dit om nie meer te kan bestuur nie, haar sig is swak, dis sleg om afhanklik van ander te wees ... Vogue noem dit, haar plooie word nie op die voorblad verbloem nie.

Annelize meen die tydskrif het ewe veel aan bemarking assosiale kommentaar gedink met die waaghalsige voorblad. “Sodra die oomblik verby is, word die stereotipe hervestig. Dis nie ’n volhoubare strategie om die status quo sinvol te verander nie, want dit word deels gedoen om munt te slaan uit ’n heersende debat.”

Tog meen prof. Van der Waal dis belangrik dat dié stap in die modewêreld die universele waardes van lewensvreugde, wysheid, insig en ervaring vier. “Want toewyding aan jeugdigheid kan ’n gesindheid wees wat bó generasieverskille uitstyg. Alle ouderdomme behoort gewaardeer te word en niemand behoort uitgeskuif te word nie.” Gesondheid daarop! Met ’n glas vonkelwyn, of Franse sjampanje ...