Hier lê my hart ...

Tamaryn Green, mediese student en Mej. Suid-Afrika, word gedryf deur haar liefde vir die lewe en om ander mense te help – eintlik definieer dit haar. Vanjaar wil sy haar mediese studies aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. “Dis my fokus, ek sien nou die meeste daarna uit om ’n dokter te word.”

Tamaryn wil nou haar mediese studies voltooi. FOTO Instagram / Tamaryn Green

Om in haar studies uit te blink en steeds die Mej. SA-kroon te dra voor sy dit op 9 Augustus aan haar opvolger sou oorhandig, verg streng dissipline. Dis hakskoene en tekkies, halssnoere en stetoskope, rooi tapyte en hospitaalgange. Maar sy glo ook in ’n lewe van balans. “Om te ontspan en tyd saam met my familie en vriende deur te bring, is net so belangrik soos om hard te werk.”

FOTO Instagram / Tamaryn Green

In haar jaar as SA se mooiste vrou het sy geleer om in haarself te glo. “Ek moes baie onsekerheid oorkom en het selfversekerdheid aangeleer. Ek weet nou waartoe ek, as sterk vrou, in staat is.”

Op 24 het sy al baie bereik, die wêreld gesien en skouers met groot name geskuur. Sy was ook tweede in die Mej. Heelal-kompetisie en het al by die Verenigde Nasies in New York gepraat. Daar is egter nog baie dinge op haar hartslys. “Ek sal graag wil reis, my #breakthestigma-veldtog [oor tuberkulose] uitbrei, trou en kinders kry. Maar dis als in die toekoms.” Vir nou? Dokter Green, asseblief!

Jy kan teruggaan in tyd en vir ’n jonger Tamaryn raad gee. Wat sou dit wees en hoekom?

Ek sou vir haar sê ons almal verskil en dís wat ons spesiaal maak. Omarm en aanvaar dit wat jou uniek maak. Vir jare het ek myself met die meisie langs my vergelyk. 

Hoe voel jy om een van die agt vroue te wees wat op SARIE se spesiale Augustus-uitgawe verskyn?

Dis ongelooflik! Ek voel so geëerd. Ek is ook lief vir SARIE, dit is die tweede keer wat ek saam met hulle gewerk het – albei kere was ongelooflik.