Vir die grootste deel van Wilme Steyn se lewe was daar eintlik net een werk vir haar: mediese dokter. Vanjaar het sy uiteindelik haar studies voltooi en vir haar hospitaaljaar by Chris Hani Baragwanath in Johannesburg se ongevalle-eenheid ingeval. Die derde grootste hospitaal in die wêreld. En toe kom die coronavirus.

“Sou ek myself twintig jaar gelede in die situasie kon indink? Nee. Jy sien sulke goed mos net in TV-reekse soos Grey’s Anatomy en House. ’n Nuwe virus wat uit die bloute opdaag en duisende mense doodmaak? Dit klink wild, selfs vir Meredith Grey en Gregory House.” Dokters in hul beskermende Hazmat-pakke wat destyds die ebolapandemie help beveg het, moet baie spesiaal wees, het sy toe gedink. Hoe dapper is dit om steeds in sulke situasies mense te wil help?

“En nou is dit gesondheidswerkers oral se realiteit. Gelukkig tap daar nie liters bloed uit pasiënte nie. Maar die gevoel wat jy kry telkens wanneer ’n pasiënt met ’n hoëkoors en hoes by ongevalle ingestoot word, laat jou hartklop versnel. Vir ’n oomblik wens jy iemand anders kan help. Maar dan trek jy jou masker reg, rol jou moue op en doen jou werk. Want daar is niemand anders nie.”

Ja, sy is bang sy word siek. Maar banger vir die dag wanneer die virus sy loop geneem het en ons die stukke weer moet begin optel. Intussen is sy dankbaar dat sy dáár kan wees vir haar pasiënte.

Die hospitaal laat nie tydens vlak 4 (toe die onderhoud gedoen is) besoekers toe nie. En dokters en verpleegsters is die enigste “familie” vir baie van hulle. “Ons is daar wanneer hulle ontslaan word, daar as hulle hul laaste asem uitblaas.

“Ek is dankbaar vir pasiënte wat hospitaal toe kom om ander redes as vir die virus, wat ons steeds vertrou om hulle gesond te maak. Vir die gevoel van eenheid wat die pandemie onder gesondheidswerkers meegebring het. Ons is almal in dieselfde bootjie en dis spesiaal hoe ons na mekaar omsien. As die saalsusters my nie soggens herinner aan my masker, handskoene en voorskoot nie, was ek dalk lankal siek. Ek is dankbaar ek woon nie by my familie nie. Ek mis hulle verskriklik, maar hoef nie bekommerd te wees dat ek hulle onwetend kan aansteek nie. Baie van my kollegas het nie dieselfde gerusstelling nie.”